Liewe Kersfeesvader

Drama.

Met Mila Guy, Morné Visser en June van Merch. Regisseur: Etienne Fourie. 10-12OT. Het op 17 November begin.

Waaroor gaan dit?

Dis Kersfees en Nonnie (Mila Guy) moet die leisels by die huis hou. Sy is ’n skoonheidskoningin met ’n skerp kop op haar skouers.

En op dié skraal skouers moet sy baie dra: Haar ma (Milan Murray) vat die pad om saam met ’n sirkus te toer; haar pa, ’n sielkundige (Dis Ek, Anna se Morné Visser), se depressie dreig om handuit te ruk en haar boetie, Hugo (Eloff Snyman), het ’n rots in sy lewe nodig.

Die Blignaut-gesin dreig om uitmekaar te val op die Karoodorpie waar die inwoners baie veroordelend is.

Onverwags kondig pa Herman aan: Hy is Kersvader. Dis sy roeping. Nonnie moet nou die ouerrol oorneem en besluit of sy die liefde wat tussen haar en haar beste vriend, Wouter (Suidooster se Dean Smith), ontluik, gaan toelaat om te blom.

En teen alle verwagting in kry sy dit reg dat Kersfees wel iets toweragtigs en onvergeetliks word. 

Is dit goed?

Dié tyd van die jaar word ons nie net met die geklingel van Kersfees in die winkels gebombardeer nie; Hollywood-flieks ry ook op die rug van die feestyd, soos die simpel A Bad Moms Christmas.

Met dié Afrikaanse magies-realistiese fliek kan plaaslike gehore hulle verkneukel in iets wat die ware gees van Kersfees vasvang.

Dit plaas die kyker in ’n tydmasjien waarvan jy nie wil afklim nie.

Die regisseur, Etienne Fourie, is bekend vir sy aweregse sprokies soos Die Windpomp en Strikdas. In sy nuwe prent is, danksy die kinematografie en kunsregie, genoeg vir die hele gesin.

Dis op die Karoodorp Prins Albert verfilm en die dekor, klere en rekwisiete vang die tydvak waarin dit afspeel net so goed vas soos in die fliek Vir die Voëls. Dit plaas die kyker in ’n tydmasjien waarvan jy nie wil afklim nie. Herinnerings aan Kersfees spoel deur jou soos warm sagopoeding.

Dis ’n fliek waaraan jy jouself moet oorgee sonder die sinisme van ’n Scrooge.

Mila Guy vestig haar as romantiese heldin en Dean Smith se onderspeelde sjarme sorg dat die Kerskoekstruif van ’n rolprent nie oneetbaar soetsappig raak nie.

Tog kan die meer hardebaard-kyker wel verstik in die versiersuikerlagie en voel dis so lank uitgerek dat dit afbreuk doen aan die slottonele se trefkrag. Dis ’n fliek waaraan jy jouself moet oorgee sonder die sinisme van ’n Scrooge. Vat ’n happie daarvan en geniet dit. Punt: 3,5 uit 5. 

– PIETER VAN ZYL


Wat wys nog?

Mother!

Gruwel.

Met Jennifer Lawrence (foto), Javier Bardem en Ed Harris. 16GrTG. Regisseur: Darren Aronofsky. Het op 10 November begin.

’n Middeljarige digter (Bardem) is desperaat om ’n meesterstuk te skep, maar is kreatief in ’n groef. Sy benewelde vrou (Lawrence) probeer help deur die huis te herbou wat hy in ’n brand verloor het.

Toe ’n ongenooide gas (Harris) opdaag, word hul verhouding beproef. Dié fliek laat ’n mens ’n wipwarit van emosies beleef. Die Bybelse verwysings kan sommige dalk afskrik. Punt: 4 uit 5.

– BUHLE-BETHU QATYANA 


Wat kom?

A BAD MOM'S CHRISTMAS

Komedie.

Met Mila Kunis en Kathryn Hahn (foto). Regisseurs: Jon Lucas en Scott Moore. Begin op 1 Desember.

Drie oorwerkte ma’s wat nie genoeg waardeer word nie, rebelleer teen al die verwagtings en uitdagings wat die feestyd aan hulle stel. Terwyl hulle vir Kersfees regmaak, moet hulle boonop gasvrou speel toe hul ma’s onverwags daar opdaag.


DVD

FREE FIRE

Aksiekomedie. 2016. 90 MIN. 18TG

In die 1970’s ontmoet ’n klomp rampokkers ’n groep internasionale bendelede in ’n verlate pakhuis in Boston, Amerika, om vuurwapens te koop, maar die transaksie loop lelik skeef.

Die fliek is een lang, soms gewelddadige, soms snaakse skietgeveg. Dit klink dalk afgesaag, maar die interessante karakters, hul onderlinge wrokke en slim regie deur Ben Wheatley hou jou vasgenael.

Die hoogtepunt is ongetwyfeld ons eie Sharlto Copley (foto) wat weer verspot is, dié keer as ’n wapenhandelaar met ’n Suid-Afrikaanse aksent. Hy het onlangs op die Kaapstadse Rolprentfees vertel die regisseur het hom spesifiek hiervoor genader, want dié wou hê sy aksent moet uitstaan tussen al die Ierse en Amerikaanse aksente. 

Kyk dit as jy lief is vir aksie en komedie, maar lus is vir iets anders. Ook met Brie Larson (foto). Punt: 3 uit 5.

– GYS VISSER