GENESING IN DIÉ VERHAAL

Wayne Smith (28) se eerste silwerdoekrol was nie net ’n opwindende nuwe ervaring vir dié akteur nie; dit was ook ’n belangrike deel van die pad na genesing.

Sy ma, Yolandé, is verlede jaar oorlede kort voor die verfilming van die nuwe weergawe van Fiela se kind begin het. Op die stel was die aktrise Zenobia Kloppers soos ’n ma vir hom, sê Wayne.

Sy vertolk die rol van die matriarg Fiela en was voorheen in die kykNET-sepie Suidooster te sien as dr. Siya (Gantane Kusch) se ma, Rebecca Thuli. “Sy is ’n ongelooflike vrou en het my in die moeilike tyd baie gesteun.”

Fiela se kind vertel die verhaal van Benjamin, ’n wit seun, wat deur Fiela Komoetie, ’n bruin vrou, gevind en deur haar as haar eie kind grootgemaak word.

Die 2019-fliek is ’n nuwer weergawe van die Dalene Matthee-roman wat ook in 1988 as rolprent uitgereik is. Wayne het die Johannesburgse en Kaapstadse oudisies vir Fiela se kind misgeloop.

Hy het toe besluit om steeds ’n kans te waag en ’n video-oudisie ingestuur. Toe hy die rol losslaan, het sy agent en die fliekvervaardigers aanvanklik gesukkel om hom in die hande te kry omdat hy en Yolandé toe in Thailand vakansie gehou het.

“Toe ons terugkeer, het my ma vir almal vertel: ‘Ek is Benjamin se ma,’ ” vertel Wayne en lag oor die kosbare herinnering. Sy is kort hierna, in Junie 2018, oorlede.

Wayne Smith
Hy sê sy ma, Yolandé, was sy beste vriendin. Foto: Verskaf

DIE TONEELGOGGA BYT

Wayne het in Pretoria grootgeword en is die oudste van Colin en Yolandé se drie kinders. Sy broer, Guy (25), en suster, Leigh-Ann (24), werk albei op skepe op die Middellandse See.

“In my skooljare het ek nie drama geneem nie omdat dit nie as vak by die skool aangebied is nie,” vertel die oudleerder van die Pretoria Boys High School.

Tog het Wayne van kleins af daarvan gedroom om ’n akteur te word. Nogtans het hy in 2009 eers ’n graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria aangepak.

“Ek het vinnig besef dis nie die regte rigting vir my nie en het toe die volgende jaar joernalistiek begin studeer,” sê hy.

“Ek het in my tweede jaar van joernalistiek ook vir drama ingeskryf en het in 2013 my joernalistiek- en in 2015 my dramagraad verwerf.” 

PRETORIANER WORD KAPENAAR

Wayne het vroeër vanjaar van Pretoria na die Moederstad verhuis. Kort hierna het hy die rol van Anton twee maande lank in die kykNET-sepie Suidooster vertolk. “

Anton is, nes ek, nie oorspronklik van die Kaap nie. Hy is ’n interessante ou, maar baie skaam,” vertel Wayne oor sy karakter wat nou op die kassie te sien is.

“Ek is nie ’n volkome ekstrovert nie, maar ek het genoeg selfvertroue om met mense te gesels.

“Suidooster is my eerste sepierol, en hoewel dit aanvanklik ’n groot aanpassing was, het ek heelwat geleer en dit baie geniet. Almal op die stel het my onmiddellik tuis laat voel.”

Wayne het ook al die rol van Willem Theron in die SABC3-dramareeks The Docket vertolk, en hy het ’n klein rol in die SABC3-dramareeks Roer jou voete gehad. 

Wayne Smith
Saam met Eden Classens in ’n toneel uit Suidooster. Foto: kykNET

KITSFEITE OOR WAYNE

  • Sy rol as die ikoniese Benjamin in Fiela se kind is die hoogtepunt van sy loopbaan. “Ek beskou dié rol as ’n ongelooflike voorreg.”
  • Die eerste rolprentweergawe van Fiela se kind (1988) is twee jaar voor sy geboorte uitgereik.
  • Hy is mal oor fotografie. As hy nie voor die lens is nie, sal jy hom agter die kamera kry.
  • Wayne is dol oor katte. Sy kat se naam is Jinx.
  • Hy sal nog graag met die plaaslike akteurs John Kani, die stem van Rafiki in The Lion King se 2019-weergawe, en Annelisa Weiland, Hilda van 7de Laan-faam, wil saamwerk.
  • Sy gunstelingfliek is die Oscar-bekroonde Birdman. Sy tesis in sy honneursjaar was op dié rolprent gegrond. “Ek word geboei deur beelde wat beweeg en kinematografie.”
  • Hy wil binne die volgende twee jaar sy meestersgraad in rolprentkuns voltooi.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.