Aksieriller. Met Irshaad Ally, Monique Rockman, Danny Ross en David Manuel. Regisseur: Nosipho Dumisa. 16 DTG.

Waaroor gaan dit?

Die oudmisdadiger Randal (Ally) en sy meisie, Pam (Rockman), trek na ’n nuwe woonstel in ’n fiktiewe weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlakte ná ’n ongeluk wat hom aan ’n rolstoel gekluister hou. Om die las van die ongeluk en die werklikheid dat hy nou ’n parapleeg is te verlig, gee sy vir hom ’n verkyker as verjaardaggeskenk.

Hiermee begin Randal die aktiwiteite in die woonstelle rondom hom dophou, en dis veral die doen en late van die gevreesde misdadiger Lawyer (Manuel) wat sy aandag trek.

Verder wil sy misdaadverlede hom net nie uitlos nie, en kort-kort kom kuier die sosiopatiese geldskieter Emmie (Danny Ross) om Randal te verseker hy het nie van sy skuld vergeet nie.

Die voormalige Suidooster-­ster Danny Ross is die geld­skieter Emmie.
Deon Lotz vertolk die rol van die bevelvoerder Gavin France.
Elton Landrew speel past. White.
Sandi Schultz van Binnelanders- en Knapsekêrels-faam speel speurder Gail February

Is dit goed?

Om ’n fliek hoofsaaklik in ’n ingeperkte gebied te laat afspeel en nie die gehoor se aandag te verloor nie, is moeilik.

Die regisseur Nosipho Dumisa se debuutfliek val nie in dié strik nie, want daar is genoeg intrige en aksie om selfs Klaas Vakie op die punt van sy stoel te hou.

Wat ook in die fliek se guns tel, is dat Ross en Manuel se spel as die booswigte besonder geloofwaardig en hul aksies werklik onvoorspelbaar is.

By tye is die storie ietwat voorspelbaar, maar dit verhoed nie die gehoor om ten volle hul emosies in dié spanningsvolle fliek te belê nie.

– Franco Havenga

Springmieliefeite
  • Die fliek wemel van mense wat voor en agter die kamera werk op die stel van die Kaapse sepie Suidooster. Benewens Irshaad, wat tans Rhafiek speel, was Elton Landrew (past. White) en Danny Ross ook al in die reeks te sien.
  • Die regisseur, Nosipho Dumisa, en vervaardiger, Bradley Joshua, werk ook agter die skerms van Suidooster as vervaardigers, terwyl die akteur Ephraim Gordon, wat Randal se vriend Warren speel, een van vier regisseurs van die sepie is.
  • Landrew is tans op die kassie te sien as die plaasman Koos in die kykNET-reeks Sara Se Geheim.
  • Die fliek is verfilm op verskeie plekke op die Kaapse Vlakte, onder meer Elsiesrivier, Rugby, Lavender Hill en die township Langa. Die produksie het sowat vier weke geduur.
  • Daar is reeds onderhandel om die fliek in Amerika (New York en Los Angeles), Duitsland, Switserland, Japan en China te versprei.

Ontmoet Irshaad Ally

Dié Suidooster-ster (40) en seun van die Kaapse Vlakte maak weer ’n draai op die silwerdoek in die fliek Nommer 37

Irshaad Ally vertolk die hoofrol in Nommer 37.

Vertel meer oor jou karakter, Randal Hendricks.

Ek speel ’n parapleeg wat onlangs die gebruik van sy bene verloor het. Hy is van die Kaapse Vlakte en is al sy lewe lank ’n kleindief.

Hy wil uit sy armoede ontsnap en leen geld by ’n psigotiese geldskieter (sy gewese Suidooster-medester Danny Ross) sodat hy dwelms kan koop en verkoop om genoeg wins te maak om ’n beter lewe te lei.

Hy verloor dan die gebruik van sy bene. Die riller ontvou met Randal wat ’n manier probeer kry om die geldskieter terug te betaal – hy plaas baie op die spel, ook sy lewe en dié van sy meisie, om die geld te kry.

Kon jy aanklank vind by Randal?

Ek het op die Vlakte grootgeword en dis nie nuus dat ek betrokke was by goed waarop ek nie vandag trots is nie. Maar terselfdertyd het dié ervarings my in staat gestel om karakters soos Randal te speel.

My swaer Shabier Samaai het sy rug gebreek toe hy byna 20 jaar gelede in ’n sandbank geduik het. Ek het hom deur depressie sien gaan terwyl hy sy situasie probeer hanteer het. Ek het hom en sy vriende bestudeer vir die rol.

Wat was die inspirasie agter jou en YoungstaCPT se rapliedjie op die klankbaan, Dala Wat Jy Moet?

Ek wil vir kinders en mense wys dat jy die meeste van die tyd dinge vir jouself moet doen omdat niemand dit vir jou gaan doen nie. Met Dala (doen) Wat Jy Moet wil ek sê: Neem jou toekoms in jou eie hande.

Ek het nog nooit voorheen enige soort musiek gemaak nie, so dit was intimiderend om in ’n klankateljee te staan en woorde op ’n ritme te doen. Maar as jy die liedjie hoor, sal jy sien my deel is meer ’n monoloog as ’n rap.

Jy het al ’n bendelid gespeel in Four Corners en vertel hoe jy in ’n bende was voor jy in die vermaakbedryf was. Hoekom is dit vir jou so belangrik om jou storie te deel?

Ek dink nie mense besef hoe sleg ons situasie op die Kaapse Vlakte is nie. Ek verwys na dwelms, armoede en daardie gevoel van apatie wat baie mense het wat uit ons armer buurte kom.

Dit voel soms of ons leiers van ons vergeet het. Trouens, die meeste van die tyd voel dit so. Daarom is dit belangrik vir my om lig daarop te werp.

Ontmoet die Allys: Irshaad, sy vrou, Ayesha, ’n onderwyseres, en hul vierjarige dogter, Rahmah.

Vertel vir ons oor jou grootwordjare.

Ek het in Hanover Park, Manenberg en Woodstock grootgeword. My ma was ’n onderwyseres. My pa is oorlede toe ek jonk was, en ek het as tiener swak keuses gemaak. Ek is byvoorbeeld uit die skool geskors.

Nadat ek (in 2007) in die reeks Survivor was, het ek myself bly vra wat ek met my lewe doen. Wie is ek? Hoekom? Ek het toe vir ’n skryf-en-toneelspeelkursus ingeskryf. En die res is geskiedenis. Ek is al 10 jaar in die bedryf.

Die grootste les wat ek geleer het, is dat jy nooit ophou leer nie. As jy goed wil wees in iets, moet jy aanhou probeer. Glo in jouself.

Wie is Irshaad Ally tuis?

Tuis is ek ’n man vir ’n pragtige vrou, Ayesha (31), en ’n pa vir my ander skoonheid, my dogter, Rahmah, wat in Augustus vyf word. In my vrye tyd skryf ek, beoefen spieshengel of vryduik.

Vertel vir ons vyf dinge oor jou wat niemand weet nie.

  • Ek was op my dag ’n taxiguardjie.
  • Ek het toilette op die Seepuntpromenade in Kaapstad skoongemaak.
  • Ek kan nie sonder koffie nie.
  • Ek kan ’n agteroorsalto in ’n swembad in doen.
  • Ek hou nie van koek nie.

–  Lara Atson 

FOTO'S: SUIDOOSTER, FATHOM MEDIA KEYART.CO.ZA, LINDSEY APPOLIS, INSTAGRAM/@IRSHAADALLY