Leché het aanvanklik net aangedui dat sy 'n oudisie wil aflê vir die hoofrol, Mardaleen (vertolk deur Marguerite van Eeden), en haar beste vriendin, Lara (Kenley Swart).

“Ek hoor toe ek moet Johannesburg toe kom vir ’n oudisie vir die rolle van Lara en Nicky (Elani Dekker). Alles het so goed gegaan; ek het gedurende die oudisie so gemaklik gevoel,” vertel sy.

Toe die regisseur, André Velts, haar die rol van Stephanie aanbied, was sy buite haar vel. “Ek het niks van Stephanie geweet toe ek die rol kry nie,” vertel sy. Die opgewondenheid het haar oorrompel toe sy oor die karater begin nalees. 

Stephanie is 'n soort mafiguur vir die ander karaters. Sy en Albert (Rikus Strauss) is in ’n verhouding. Hulle word deur baie gesien as die perfekte voorstedelike paartjie.

Kyk hier na die video om meer oor Stephanie uit te vind:

Vergeet My Nie is gegrond op Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis in Namibië se liefdesverhaal. Die paartjie se pad tot by die kansel was so vol kinkels dat hulle verlede jaar Huisgenoot en kykNET se tweede liefdesverhaalwedstryd daarmee gewen het. Hul eiesoortige romanse dien nou as inspirasie vir ons splinternuwe fliek, wat volgende jaar op Valentynsdag op die silwerdoek begin draai.

Leché het verlede jaar haar dramagraad aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria verwerf.

“Omdat al ons lektore in die bedryf werk, het hulle ons voorberei oor die realiteit van die vermaakbedryf,” sê Leché. Sy het geweet sy gaan heel moontlik nie dadelik ’n werk kry nie en het gewonder wanneer die oudisies gaan kom.

“Ek het al in ’n paar kortfilms gespeel wat studente gemaak het, maar hierdie is my eerste professionele rol. Die feit dat ek die rol van Stephanie gekry het, het vir my bevestig dat ek op die regte spoor is,” sê Leché.

Die tweede week van Vergeet My Nie se verfiming is nou aan die gang. Leché borrel veral toe sy oor haar eerste dag op stel vertel. “Ek moes net ’n toneel skiet waar my karakter in die stort sing. Ek het die hele dag gedink en gewonder of ek soos ’n normale mens gestort het. Dit gaan my verstand te bowe dat hierdie die beroep is wat ek doen,” lag sy.

Leché is ’n introvert; haar grootste uitdaging was om “organiese verhoudings” met haar mede-akteurs en die tegniese span te bou. “Ek wou so professioneel en vriendelik as moontlik wees, maar ek het ná die eerste dag tydens ’n fotosessie besef dat ek nie so hard hoef te probeer nie. Ek kan net myself wees,” lag sy.