Van jou eerste kennismaking met sy karakter in die nuwe fliek Skemerson is dit opvallend: Iets is nie reg nie. 

Op die skerm lyk hy uitgeteer, die ene skerp sleutelbene, ribbes wat deurslaan en rietmaer arms. 

Nou is die blik in die akteur Pietie Beyers se bruin oë ernstig terwyl hy vertel hoekom hy vasbeslote was om binne 10 weke 14 kg af te skud sodat hy die rol van Sella in dié fliek kon vertolk. 

“Dit was vir my nodig om die geloofwaardigheid van die karakter oor te dra,” verduidelik hy waar ons kort voor die fliek se première in Kaapstad gesels. 

Die rolprent, wat op 3 Mei landwyd uitgereik word, vertel van iemand wat ’n stryd met obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) voer.

Ek wou hê hy moet lyk soos hy in sy binneste voel. Dis nie dat hy net honger is vir kos nie; hy is ook honger vir algehele welstand.” 

Die rolprent, wat op 3 Mei landwyd uitgereik word, vertel van iemand wat ’n stryd met obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) voer. 

Die worsteling is vir Pietie, wat ook die draaiboekskrywer en medevervaardiger van die fliek is, self werklik en rou. 

Was dit nie vir sy eie pad met die geestesiekte nie, sou die drama nie vandag in fliekteaters te sien gewees het nie. 

Eerlikheid oor sy eie ervarings het hom geïnspireer om die draaiboek te skryf vir mense wat soos hy ’n stryd teen uitdagings voer wat onder die oppervlak lê. 

Vandag is die gewig wat hy vir die rol verloor het weer terug. Hy lyk gesond terwyl hy opgewek gesels en bevind hom op “ ’n sagter en dankbare plek”. 

Hy benadruk die fliek se boodskap: “Daar is altyd hulp en daar is altyd hoop.” 

Pietie het reeds voor Skemerson se verfilming in Oktober verlede jaar begin gewig afskud toe hy in die kykNET-sepie Binnelanders vir ’n paar episodes weer as dr. Deon Visser verskyn het. 

Pietie Beyers
Hy het ongesond maer geword vir die fliek. Foto: Instagram/@pietiebeyers

Sy karakter is deur Kongolese rebelle as gyselaar aangehou. Hy wou die ontberings wat Deon deurmaak eg uitbeeld en het deur ’n gesonde leefstyl en oefening sowat 4 kg afgeskud en sy gewig van 86 tot 82 kg verminder. 

Dit was net die begin, want nadat hy uit die sepie is, het hy vir die verfilming van Skermerson voorberei. 

Hy het binne 10 weke nog 14 kg afgeskud deur die dieetpatroon van onderbroke vas (intermittent fasting) te volg. 

Dié eetpatroon het verskeie variasies, maar behels dat jy die tye dat jy eet, afwissel met tye dat jy glad nie eet nie. 

Hy het aanvanklik binne ’n tydperk van agt uur in ’n dag geëet en vir die ander 16 uur gevas, waartydens hy net water gedrink het. 

“Ek wou hê hy moet lyk soos hy in sy binneste voel. Dis nie dat hy net honger is vir kos nie; hy is ook honger vir algehele welstand.”

Terwyl die verfilming in Oktober nader gekom het, het hy die tydperk wat hy op ’n dag eet ál korter gemaak. 

Hy het ook streng porsiebeheer toegepas en van ongesonde eetgoed weggebly. In die laaste paar dae het hy net ’n uur of twee per dag vir eet toegelaat.

En dan was die etes so klein soos ’n appel, ’n paar snytjies biltong en ’n toebroodjie met grondboontjiebotter op. 

Pietie erken dit was ’n groot uitdaging, maar hy was vasbeslote om ter wille van sy rol in die fliek met die ongesond streng eetplan deur te druk. 

“Ek was soms so honger dat ek in die aand na video’s oor kos lê en kyk het.”

Soms het hy duiselig gevoel, en op sy maerste was sy voete en hande pal koud. 

Sy meisie, Anneke Weidemann (27), wat ’n mediese dokter is, was met tye erg bekommerd. 

Sy is ook ’n aktrise wat al as Hanna in Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom en as Jane in Die Wonderwerker te sien was. 

pietie beyers
Hy en Anneke Weidemann, wat in Die Wonderwerker gespeel het, is al drie en ’n half jaar saam. Hulle verskyn in Skemer­son vir die eerste keer saam voor die kameras. Foto: Verskaf

“Anneke het my deur alles bygestaan en haar mediese kennis het baie gehelp,” sê Pietie.

Sy het sy gesondheid gemonitor en hom vitamiene gegee om sy energievlakke en ystertekort te herstel. 

Hy het deurgedruk en met die verfilming in die Oos-Kaap selfs sy skaal saamgeneem om die laaste kilo’s fyn dop te hou. Hy het eindelik 68 kg geweeg toe hy voor die kameras staan. 

“Die doel was altyd vir my groter as die opoffering, wat net tydelik was. As jy ’n moeilike tyd ervaar, gaan jy nie op jou beste wees of goed voel nie. Die gewigsverlies het my gehelp omdat ek regtig wou voel soos die karakter voel.” 

Pietie se eie stryd met OKS het begin toe hy begin 2017 tussen werke was. 

“Anneke het my deur alles bygestaan en haar mediese kennis het baie gehelp.”

Hy het toe meer vrye tyd as gewoonlik gehad, en wat as selfondersoek begin het, het later in onbeheerste gedagtes ontwikkel wat hom vasgevang het. 

“Ek was op ’n plek waar ek my lewe in oënskou geneem het en het obsessiewe gedagtes ervaar dat ek iewers in my verlede vreeslike dinge aangevang het.” 

Dit het hom intense skuldgevoelens, paniek en angs laat ervaar. Hy het gevoel asof hy die skuld moet dra vir al die ongewenste dinge wat oor sy lewenspad gekom het. 

“Ek was vreesbevange dat ek die goeie dinge in my lewe gaan verloor en het ’n houvas daarop probeer kry.” 

Hy het gedagtes gevorm oor wat moontlik in die toekoms kan gebeur en “hoe ek dan sal optree om dit te beheer”. 

Ná weke van die stryd in sy binneste het hy ’n psigiater gaan spreek en OKS is by hom gediagnoseer. 

Hy het medikasie begin neem. Met die steun van sy geliefdes en deur daaroor te praat het die onbeheerste gedagtes minder geword. 

“Soos ek hier sit, voel ek ligjare beter as in daardie tyd.” Sy gees is rustig en sy kop helder, vertel Pietie. 

Hy hanteer vandag sy toestand “deur te erken dat dit deel is van my lewe, maar ek gee dit nie meer krag as wat dit verdien nie. I don’t feed the bad beast. 

“My ma sê altyd: Harness your demons to your chariot. Ek wou uitdagings wat ek ervaar het op ’n produktiewe manier aanwend. Die maak van die fliek was een manier om dit te doen.” 

“Ek was op ’n plek waar ek my lewe in oënskou geneem het en het obsessiewe gedagtes ervaar dat ek iewers in my verlede vreeslike dinge aangevang het.”

Die skryf van Skemerson se draaiboek het begin toe Pietie kort nadat ’n geestesiekte by hom gediagnoseer is ’n Facebookinskrywing oor dié tyd deel. 

“Ek was deur die reaksie van mense oorweldig wat vir my boodskappe oor hul eie uitdagings gestuur het. Ek het besef daar is ’n behoefte om te gesels oor uitdagings wat onder die oppervlak skuil. 

“Baie mense glo dit dui op swakheid as ons openlik daaroor praat, maar die dinge waarmee ons sukkel, is wat ons menslik maak. Ons is almal ewe weird en ewe dieselfde.”

Hy is ywerig om met Skemerson ’n gesprek te begin dat jy ongeag jou uitdagings oukei is; daarom is die fliek se slagspreuk “dit is oukei om nie oukei te wees nie”. 

Skemerson gaan oor drie mense wat elk ’n ander stryd in hul lewe voer: Pietie as Sella, Anneke as Emma, en Elize Cawood as haar ma. 

Die drie karakters se paaie kruis op die Bloukransbrug in die Tsitsikamma-gebied van die Tuinroete. Hulle bring ’n naweek saam deur en dit verander elkeen se lewe. 

Hoewel Pietie nie die rol van Emma met Anneke in gedagte geskryf het nie, het hy en sy medevervaardiger, Niel van Deventer, wat die 2015-fliek Dis Ek, Anna vervaardig het, besluit sy is reg vir die rol. 

Pietie Beyers
Skemerson gaan oor drie mense wat elkeen ’n stryd in hul lewe voer. Die karakters word deur Pietie, Elize Cawood (middel) en Anneke gespeel. Foto: Palama Productions

Anneke is “ ’n bron van liefde” wat hom deur al die laagtepunte op sy pad “altyd bygestaan en opgelig” het, vertel hy. 

Sy is voltyds ’n dokter by ’n kliniek in Johannesburg, en voor Skemerson het sy sewe jaar laas toneelgespeel. Omdat Pietie die medevervaardiger is, kon hy reël dat die verfilming gedurende haar doktersvakansie plaasvind. 

“Ons was bekommerd of die vonk in die fliek geloofwaardig oorgedra sou word omdat ons mekaar so goed ken,” erken Pietie, wat al drie en ’n half jaar met Anneke uitgaan. 

Maar die oomblik toe die regisseur, Philip Rademeyer, “aksie” roep en die kameras begin rol, was sy nie Anneke nie; sy was Emma. 

“Die eerste toneel was emosioneel en haar oë het onmiddellik vol trane geskiet,” vertel Pietie. 

Die twee was saam in die Laer- en Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, maar hul paaie het byna 10 jaar later op ’n musiekgeleentheid op Swellendam weer gekruis. 

Hulle het onlangs ’n huis in Johannesburg gekoop en beplan om binnekort ’n hond aan te skaf. 

Sella, die naam van sy karakter in Skemerson, beteken “plek van vrede”. Want dit, sê hy, “is waarna ons almal in ’n mate op soek is”.