Op die skerm van sy digitale kamera wys Simon Barnard beeldmateriaal wat hy pas geskiet het. Dis van ’n gryskopvrou wat met ’n paadjie langs tussen lowergroen heinings deur see toe stap. Af en toe kyk sy om met die son wat haar hare in ’n stralekrans omskep. Sy is ouer as toe sy destyds as blondekopaktrise kykers in flieks soos Pappalap bekoor het.

Later het sy ook haar stempel as regisseur en vervaardiger afgedruk met TV-reekse soos Onder Draai die Duiwel Rond en rolprente soos Fiela Se Kind, Paljas en Die Wonderwerker.

Ja, dis Katinka Heyns (70), ’n eietydse legende onder liefhebbers van Afrikaanse TV-reekse en rolprente, maar vir Simon, ’n 36-jarige regisseur en skepper van veral dokumentêre rolprente, is sy “my ma”.

Die vorige dag het hy die laaste van sewe onderhoude met haar gaan voer op Onrus, die Wes-Kaapse kusdorpie waar sy woon. Dit is vir ’n dokumentêr getiteld Katinka, wat in Augustus op die Silwerskerm-rolprentfees in Kaapstad vertoon word. Dit sal later ook op TV uitgesaai word as deel van ’n kykNET-reeks genaamd Formidabele Mense.

Katinka op die plakkaat vir die dokkie oor haar.

“Sy het vir my baie dinge vertel wat sy nie sommer op kamera vir ander mense sou gesê het nie. Geen skandale nie, maar baie anekdotes,” vertel Simon, wat verlede jaar sy regiedebuut gemaak het met sy eerste vollengtefliek, Die Rebellie van Lafras Verwey. Dis gegrond op die radiodrama wat sy oorlede pa, Chris Barnard, geskryf het, en ma Katinka was medevervaardiger.

Hier in die dakkamer van die A-raamhouthuis wat Simon in die Stellenbosse wynlande huur, sit hy voor die rekenaar, druk besig met redigeerwerk.

In ’n stukkie van die magdom beeldmateriaal waaruit hy die dokumentêr moet saamstel, vertel Katinka van ’n vrou wat haar eenmaal op straat voorgekeer het. “Toe sê sy vir my (van Pappalap): ‘Poppolop . . . dit was jou beste fliek,’ ” klink haar stem op.

Ander mense keer haar voor met versoeke soos: “Praat soos Pennie en laat ons lag,” vertel Katinka verder.

Pennie was haar naïewe en verstrooide karakter in die TV-komedie Willem, met Tobie Cronjé in die titelrol. Nog ’n staaltjie wat Katinka gedeel het, is oor ’n man wat haar so ewe vertel het die regisseur Jans Rautenbach kies altyd lelike mense om in sy flieks te speel. Toe laat hoor sy: “Ek is een van hulle.”

Katinka het die rol van Linda in Jans se rolprent Jannie Totsiens vertolk.

Dan was daar die “gesette vrou” wat haar en Tobie voorgekeer en hom gevra het: “Hoe gaan dit met Trixie se spene?” – die vraag wat sy karakter in die TV-reeks Die Avonture van Joachim Verwey altyd oor die foon vir sy ma op die plaas gevra het. Toe kap Tobie terug: “Nee, goed, dankie, en met joune?”

Dié staaltjie laat Simon diep uit sy maag lag.

Van links staan Etienne Leroux, André P. Brink, Chris Barnard (Simon se pa) en Jan Rabie.

Chris is op 28 Desember 2015 oorlede. “Ons was beste vriende. Ek sal nooit daaroor kom nie,” sê Simon oor sy pa se dood.

Hy het ook al ’n dokumentêr oor Chris gemaak wat in 2015 as deel van die kykNET-reeks Stroom-op uitgesaai is. “My ma sê sy herken my pa in my. In my praat hoor sy hom ook. My pa het my vertel hy voel soos ’n toeskouer wat deur glas na mense kyk,” onthou Simon. “En dis presies hoe ek voel.”

In die houthuis ruik dit na vars skaafsels. Simon huur die huis terwyl hy aan die dokumentêr oor sy ma en ’n ander een oor haar eerste man, Koos Roets, werk – albei vir die Formidabele Mense-reeks. Koos (nou 75) het met al Katinka se flieks buiten Piet-My-Vrou en Fiela Se Kind die kamera beman.

Oral lê familiefoto’s rond waarvan Simon en ’n vriendin 350 in hoë resolusie skandeer het vir moontlike gebruik in die dokkie oor Katinka – ook foto’s uit haar jong dae wat nog nooit gepubliseer is nie.

Simon Barnard

’n Groot geraamde swart-wit foto van Chris saam met nog groot geeste uit die 1960’s, sy medeskrywers Etienne Leroux, André P. Brink en Jan Rabie, staan teen ’n muur.

Simon kom wys nog ’n besonderse foto: van sy ouers wat toekyk hoe hy as vyfjarige knaap met ’n bootjie in die rivier speel. Dit is op die stel van Fiela Se Kind geneem. Hy het klein Benjamin Komoetie gespeel.

“Hulle moes my hare perm,” vertel Simon. “Ek het nog altyd daardie bootjie by ons huis op Onrus. My pa het vir my ’n diertjie uit ’n kameeldoring gemaak,” en hy wys na die figuurtjie op die bootjie.

Met sy werk as regisseur volg Simon nou flink in die voetspore van sy ma. Katinka het onder meer die regie behartig van Paljas, wat in 1997 die eerste amptelike Afrikaanse inskrywing vir ’n Oscar was wat aanvaar is.

Die vyfjarige Simon saam met sy ouers op die stel van Fiela Se Kind. Hy het die klein Benjamin Komoetie gespeel in dié fliek waarvan sy ma die regie behartig het.

Simon was self in die nuus toe hy in 2008 in sy dokumentêr Living with Bipolar Disorder van sy stryd teen bipolêre steuring vertel het. Dit is by hom gediagnoseer toe hy 24 was. Vandag het hy uit die skadu van dié siekte uitbeweeg.

“Ek wou nie die poster boy van bipolêr word nie,’’ sê hy. “Ek wou iets positiefs van die tragedie maak. Mense sit my nie meer in daardie boksie nie.”

Ons verskuif na die houtstoep wat op ’n dam uitkyk waar eende, kolganse en bleshoenders baljaar. “As ek iemand in my lewe gehad het, sou dit seker ’n bietjie knap gewees het,” sê hy van sy blyplek hier ver van sy eie huis in Pretoria.

“Maar as bachelor is dit al wat ek nodig het.”

Wanneer hy ’n blaaskans van sy redigeerwerk wil neem, gaan sit hy op ’n pier hier naby. “My kontak hier met die natuur maak my produktief.”

In Januarie vanjaar het hy aan die dokumentêr oor sy ma en terselfdertyd ook aan die een oor Koos begin werk. Simon het reeds op De Rust in die Klein-Karoo, naby die veteraankameraman se tuisdorp, Klaarstroom, geskiet.

Simon saam met die aktrise Anna-Mart van der Merwe.
Saam met die akteur George Ballot van Vyfster-faam.

Met dié dat die Katinka-dokkie vir die Silwerskermfees moet klaar wees, fokus hy die afgelope drie maande net daarop. Hy het 20 onderhoude gevoer, onder andere met die akteurs Anna-Mart van der Merwe, George Ballot (vir die dokumentêr oor Koos) en Tobie.

“Hy is ’n belangrike figuur in ons lewe,” sê Simon oor Tobie en onthou: “Hy het vir my as kind ’n lappop gemaak.”

Simon het ook met Franz Marx, skepper van die sepie Egoli, gepraat. Franz staan deesdae selde onderhoude toe.

“Dit was ’n helse storie om argiefmateriaal by die SAUK te kry,” vertel hy. Gelukkig het Katinka nog opnames op ou kassette gehad. M-Net het hom ook in sy soektog gehelp.

“My ma lyk met elke onderhoud anders. Sy het integriteit en verstaan mense. Sy is streng op die stel. Maar omdat sy self ’n akteur is, koester sy haar spelers.”

Die natuur rondom Simon se huurhuis naby Stellenbosch maak hom produktief.

Hy wil graag nog sy pa se drama Tekwan verfilm.

“Daar is nie meer baie geld om flieks te maak nie, so ons het ’n beperkte tyd om daaraan te werk,” verwoord hy sy dilemma. Maar eers moet Simon nog deur ure se beeldmateriaal sif om in sy dokumentêr van 48 minute oor Katinka se lewe en werk reg te laat geskied aan sy legendariese ma.

Met ’n glimlag vol liefde en verwondering sê hy: “Ek wens ek kon dit alles insit.” 

Foto's: Jacques Stander, verskaf