Toksiese karakter

Die Britse akteur (41) klim in die skoene van die joernalis Eddie Brock en sy alter ego, Venom, in die gelyknamige Marvel-super­heldfliek. Daarin krap Eddie ’n storie oor simbiote uit die buitenste ruimte oop. Hulle neem gasheer­liggame, gewoonlik van mense, oor om te oorleef.

Een van hulle dring sy liggaam binne en gee hom superkragte, en so ontstaan Venom. Dit is ’n monster­agtige gedierte met skerp tande wat bloed soek. Dit lyk of dié Spider-­Man-antiheld ’n guns­teling onder aanhangers sal wees. Tom het ingestem om in nog twee Venomflieks te verskyn as dié een suksesvol is.

‘Koelste superheld’

“Venom is die koelste Marvelsuperheld,” meen Tom.

“En ek hou van hoe hy lyk.”

Nog ’n rede waarom die ster van die fliek Mad Max: Fury Road en die televisiereeks Taboo die rol aanvaar het, is dat sy oudste seun, Louis (10), ’n groot Venom-­aan­hanger is.

“Ek wou in iets speel waarna hy kon kyk,” verduidelik die pa van twee. Maar met dié dat die fliek ’n hoë ouderdomsperk het, voeg hy by: “Pleks daarvan speel ek toe in iets waar ek mense se kop afbyt.”

Louis is sy seun by sy eksmeisie Rachael Speed. Tom se vrou, die aktrise Charlotte Riley (36), is glo swanger met hul tweede kind. Hulle het mekaar in 2009 op die stel van die Britse televisiereeks Wuthering Heights ontmoet.

Tom Hardy en sy Wuthering Heights-medester Charlotte Riley is al vier jaar getroud. Foto: Gallo Images/Getty Images

Rowwe jare

Tom was as tiener aan dwelms en drank verslaaf. Hy is later vir die onwettige besit van ’n vuurwapen in heg­tenis geneem. Daarna het hy sy lewe reggeruk. In 1998 het hy ’n model­kompetisie in die Britse televisieprogram The Big Breakfast gewen. Hy was 21.

Hy’t skaars in ’n Londense dramaskool ingestap toe hy ’n rol in Steven Spielberg se oorlogsdrama-minireeks Band of Brothers van 2001 losslaan. Hy het in 2001 ook sy rolprentdebuut in Ridley Scott se Black Hawk Down gemaak.

Tommy No. 1

Voor Tom ’n hartebreker op die wye doek geword het, was hy ’n rapper. Sy verhoognaam was Tommy No. 1. Hy en ’n vriend met die verhoognaam Eddie Too Tall het in 1999 saam ’n rap-­album, Falling on Your Arse, uit­gereik.

Leo weet alles!

Tom het vanjaar die woorde “Leo knows all” op sy regterarm laat tatoeëer nadat hy in 2016 ’n weddenskap met Leonardo DiCaprio verloor het. Hy het Leo gewed dat dié nie ’n Oscar vir sy spel in die fliek The Reve­nant sou wen nie. Maar Leo is toe wel met die beeldjie beloon.

Springmieliefeite
  • Tom het die inspirasie vir Venom se grillerige stem by James Brown gekry.
  • Die karakter Venom het in 1988 in die The Amazing Spider-Man #300-strokies­prentboek sy debuut gemaak. Hy is nou Spider-Man se aartsvyand.
  • Sterre soos Michelle Williams en Woody Harrelson speel in Venom.
  • Sy ander karakter, Eddie Brock, is in die strokiesprente 1,9 m lank “en het rooiblonde hare”. Tom is op 1,7 m korter, met donkerbruin hare.
  • Dis nie die eerste keer dat hy twee karakters in ’n fliek speel nie. In 2015 het hy die rolle van identiese broers in die rolprent Legend vertolk.

BRONNE: TIME.COM, NOISEY.VICE.COM, SCMP.COM, JUSTFUNFACTS.COM, BOWELCANCERUK.ORG.UK, GQ.COM, IMDB.COM, ESQUIRE, COMICBOOK.COM
FOTO: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES