Een is ’n oudmisdadiger, nog een ’n voorstedelike ma en die ander ’n daggaroker met rastalokke. Wat op aarde het dié drie vroue gemeen? Hulle is al drie bedrewe skelms . . .

In die splinternuwe lokettreffer Ocean’s 8 ontmoet fliekgangers die mees geslepe groep vrouediewe wat jy jou kan voorstel.

Hulle lyk meer na modelle as misdadigers en is waarskynlik die sexyste groep skurke wat nog ooit agteraf gekonkel het. Dié jongste fliek in die Ocean’s-reeks spog met Sandra Bullock in die hoofrol as die baasbrein Debbie Ocean.

Sandra Bullock in ’n toneel uit die fliek. Foto: Warner Bros

Sy is ’n oudmisdadiger en die suster van Danny Ocean, die hoofskelm in die oorspronklike Ocean’s-flieks. Dié rol is deur George Clooney vertolk.

Sandra se trawante, die sewe ander slinkses, word gespeel deur die Oscar-wenners Cate Blanchett en Anne Hathaway, asook Helena Bonham Carter, Sarah Paulson, Mindy Kaling, die popsensasie Rihanna en die rapper Awkwafina.

Die fliek speel af teen die glansryke agtergrond van die Met-gala in New York, die grootste aand op die modekalender. Dis hier waar Debbie en haar bende beplan om ’n diamanthalssnoer van sowat R2 miljard van die nek van ’n beroemde aktrise te steel.

Anne se karakter met die diamant­halssnoer wat die groep wil steel. Foto: Warner Bros

“En ons sal nie die hoofverdagtes wees nie,” laat sy in die fliek hoor. Dié glanskomedie baan ’n weg vir vrouebemagtiging – al bevind die sterre hulle dan nou aan die verkeerde kant van die gereg.

DIE AGTERGROND

Ocean’s 8 sit die reeks voort wat met die 1960-rolprent Ocean’s 11 begin het waarin die Rat Pack-akteurs Frank Sinatra, Dean Martin en Sammy Davis jr. gespeel het.

Die rolprentmaker en regisseur Steven Soderbergh het Ocean’s Eleven in 2001 verwerk met George Clooney, Brad Pitt, Matt Damon en ander groot name in die rolverdeling.

Dit was so ’n groot treffer, hy het nog twee gemaak: Ocean’s Twelve in 2004 en Ocean’s Thirteen in 2007. Maar hy het gesê Ocean’s Fourteen is onwaarskynlik, want “George wou op ’n hoogtepunt eindig en Ocean’s Thirteen was te ingewikkeld”.

Die idee vir nog ’n fliek het gekom van Ocean’s 8 se regisseur, Gary Ross (61), wat onder meer die flieks The Hunger Games, Pleasantville en Seabiscuit agter sy naam het.

“Ek en ’n vriend het een aand met idees rondgespeel en die gedagte het my skielik te binne geskiet dat daar, vreemd genoeg, nog nooit ’n prent soos dié met ’n vroulike rolverdeling was nie – nie een waar sulke gatskopvroue so iets aanpak nie,” sê hy.

Hy het die idee aan Steven voorgelê, toevallig ook ’n vriend van hom, en dié was mal daaroor. Hy het die bal aan die rol help kry, onder meer om elkeen van die akteurs individueel te nader om hulle by die projek te betrek.

Hy het ook nou met die draaiboekskrywer Olivia Milch saamgewerk om die rolle te skep. “Dis my passie om stories oor vroue te vertel en die verskeidenheid en diversiteit van vroue te sien,” sê sy.

“En ook die manier hoe vroue met mekaar praat; dis ’n spesifieke taal. Hulle is byvoorbeeld snaaks, maar nie omdat hulle dom of dronk is nie. Dit word nie baie uitgebeeld nie. Maar dinge is aan die verander en ek dink Gary het ’n feministiese perspektief.”

Heelwat van die verfilming het in die regte Metropolitan-kunsmuseum in New York plaasgevind waar die jaarlikse Met-gala gehou word. Gary sê hulle moes eers toestemming kry om daar te verfilm en hy moes “veiligheidsvergaderings” hou om die peperduur kunswerke te beskerm.

“Een verkeerde skuif en jy’t meer as die fliek se begroting vernietig; ons moes dus baie, baie versigtig wees. Ons het omvattende vergaderings met die Met gehad oor hoe ons te werk moet gaan.

Gelukkig het ons sonder ’n ramp anderkant uitgekom.” Hulle het ook tonele in Vogue se hoofkantoor in die One World Trade Centre, die Plaza-hotel en Christie’s by Rockefeller Plaza verfilm.

Met dié dat die modebedryf die fokuspunt van die rooftog is, was dit gepas dat die akteurs die kans gekry het om behoorlik op te dollie.

Onder leiding van die kostuumontwerper Sarah Edwards het die aktrises elkeen met ’n modehuis saamgespan vir ’n ontwerpersuitrusting wat hulle voel by hul karakter pas.

Sandra het ’n rok deur Alberta Ferretti gekies, terwyl Cate se keuse ’n smaraggroen speelpakkie deur Givenchy was. En Anne Hathaway het ’n pienk rok deur Valentino saam met haar diamanthalssnoer gedra.

WAT SÊ DIE KRITICI?

Tot dusver was die reaksie positief. Die tydskrif Rolling Stone noem dit ’n “rooftog-aksiekomedie wat pragtig lyk, propvol kinkels is en op ’n onweerstaanbare komiese ritme voortstoom.

Wat meer soek jy vir vakansieontvlugting?” Maar met die aanloop tot die fliek se première vandeesmaand was daar op Twitter nare opmerkings deur talle manlike gebruikers wat dit met 2016 se verwerking van Ghostbusters met net vrouekarakters vergelyk het.

“Niemand het Ocean’s 8 gevra nie. Het ons niks by die nuwe Ghostbusters geleer nie?” het een geskryf, en nog een het laat hoor: “Die vaginaweergawe van Ghostbusters het nie goed gevaar nie; hoekom wil jy dieselfde met Ocean’s 8 probeer doen? Ha-ha!”

Toe Entertainment Weekly vir Sandra oor die kritiek uitvra, het sy teruggekap: “Ons het vurige vroue wat sal terugbaklei. Kom ons kyk of ons met iets prettigs vorendag kom. Daar behoort ’n moratorium te wees.

Daar moet ’n reël wees – jy mag niks leliks sê tot nadat ’n fliek begin het nie. Maar dit sal natuurlik nooit gebeur nie.”

DIE SYFERS

Voor die internasionale uitreiking het Ocean’s 8 ’n indrukwekkende R560 miljoen in sy openingsnaweek in Amerika laat inrol, wat beteken dit het die grootste openingsnaweek van al die Ocean’s-flieks gehad.

Dit het ook Solo: A Star Wars Story geklop om die huidige no.1-plek by die loket. “Dis te danke aan die fliekweergawes met die mans, want hulle het in die eerste plek die storie begin. Maar nietemin, ons het hulle geklop,” het Helena Bonham Carter oor die nuus gesê.

So het die vorige Ocean’s-rolprente by die loket gevaar
  • Ocean’s Eleven: R6,1 miljard
  • Ocean’s Twelve: R4,9 miljard
  • Ocean’s Thirteen: R4,2 miljard

FLIEKFEITE

  • Die agt vroue in die fliek spog gesamentlik met vier Oscar-, twee Emmy-, nege Grammy-, ses Golden Globe-, vyf Bafta- en 10 Akteursgildepryse.
  • Daar is hope sterre wat in kameerolle as hulself verskyn – Kim Kardashian en haar susters Kylie en Kendall Jenner, die modeontwerper Zac Posen, die tenniskampioen Serena Williams, die aktrise Katie Holmes en die Vogue-matriarg en organiseerder van die Met-gala, Anna Wintour.
  • Jennifer Lawrence is ’n rol aangebied, maar het dit afgekeur weens botsende roosters.
  • Matt Damon en Carl Reiner het kameerolle as hul Ocean’s-karakters, Linus Caldwell en Saul Bloom.
  • Anne Hathaway en Helena Bonham Carter het susters gespeel in die 2010- fliek Alice in Wonderland en het ook saam in 2012 se Les Misérables verskyn.
  • Cate Blanchett en Sarah Paulson was saam te sien in die 2015-fliek Carol.

Sandra Bullock (53) – Debbie Ocean

Sandra Bullock Foto: Gallo Images/Getty Images

Die groepleier en die suster van Danny Ocean.

Cate Blanchett (49) – Lou

Cate Blanchett Foto: Gallo Images/Getty Images

Debbie se misdaadkameraad met ’n voorliefde vir sjiek pakke en motorfietse.

Anne Hathaway (35) – Daphne Kluger

Anne Hath­away Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Aktrise wat by die Met-gala met die halssnoer pronk.

Rihanna (30) – Nine Ball

Rihanna Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Rastafariër en ’n uitstekende kuberkraker.

Sarah Paulson (43) – Tammy

Sarah Paulson Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Voorstedelike ma met ’n donker kant.

Awkwafina (29) – Constance

Awkwa­fina Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Bedrewe sakkeroller met ’n groot mond en ’n skaatsplank.

Mindy Kaling (39) – Amita

Mindy Kaling Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Juwelier wat blinkgoed vir die swartmark omskep.

Helena Bonham Carter (52) – Rose Weil

Helena Bonham Carter Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Gevalle modeontwerper met hope skuld.

Bronne: Telegraph.co.uk, Gointothestory, Slashfilm, TheGaurdian.com, Newshub.co.nz, Bustle.com, DailyMail.co.uk