Waaroor gaan dit?

Die opvolgfliek is hier presies 10 jaar ná die oorspronklike Mamma Mia!, wat wêreldwyd meer as R8,1 miljard by die loket verdien het.

Die eerste fliek het gedraai om Donna Sheridan (Streep), ’n hoteleienaar op die Griekse eiland Kalokairi, wat vir haar dogter, Sophie (Seyfried), se troue voorberei.

Maar dan word sy in ’n moeilike posisie geplaas toe Sophie drie mans uit haar ma se verlede na die troue nooi in die hoop om vas te stel wie nou eintlik haar pa is . . .

Die opvolgprent beweeg tussen die hede en die verlede. Sophie bieg teenoor haar ma dat sy met haar swangerskap sukkel. Donna gee dan haar dogter ’n terugblik na haar eie swangerskap en die emosionele wipwarit wat sy beleef het.

Lily James speel die jonger weergawe van Meryl Streep se karakter, Donna.

Droomrol

In die opvolgprent speel die Cinderella-aktrise Lily James (29) die jonger weergawe van Meryl Streep (69) se karakter. Lily verskyn in ’n rits terugflitse na die 1970’s.

“Ek wou Donna se geesdrif vasvang,” vertel sy aan Harper’s Bazaar.

“Sy is so vurig, dapper en spontaan. Ek wou hê mense moet glo my Donna kon later daardie vrou word.” Sy was net te bly om deel van die fliek te wees.

“Dis die geleentheid van ’n leeftyd. Hulle het my Abba-liedjies laat sing, laat dans en op ’n boot in Kroasië laat vaar. Hoe kon ek nee sê?”

Pretfeite
  • Björn Ulvaeus (73) en Benny Andersson (71) van die musiekgroep Abba is die uitvoerende vervaardigers van die fliek.
  • Die rolprent speel weer af op die Griekse eiland Kalokairi, maar is eintlik op die Kroatiese eiland Vis geskiet.
  • Die akteurs Pierce Brosnan (65) en Colin Firth (57) is weer as die karakters Sam en Harry te sien.
Amanda Seyfried en Dominic Cooper op die stel saam met die sanglegende Cher.
Rockster op die stel

Die legendariese sangeres Cher (72) speel Donna se ma, die rocker Ruby Sheridan. Cher was ’n groot aanhanger van Mamma Mia! voor sy die rol losgeslaan het en is selfs ’n paar keer by die verhoogproduksie van die fliek in Londen gewaar.

“’n Groot stilte het geheers toe sy op die stel opdaag,” vertel die vervaardiger Judy Craymer.

“Sy’t pure superster gelyk. Almal was so senuagtig en het na die vloer gestaar, maar sy het ons onmiddellik op ons gemak gestel,” vertel Judy. “Sy’s eintlik baie skaam, maar Colin Firth het haar laat lag met sy nabootsings van die ander akteurs.”

“Ek het hoendervleis gekry toe sy (die Abba-liedjie) Fernando sing. Almal het uit hul woonwaens gekom om te kyk hoe sy dans – Pierce, Meryl, almal. Ons het haar toegejuig en hande geklap.”

BRONNE: TDN.COM, HARPERSBAZAAR, NET-A-PORTER.COM, DAILYMAIL.CO.UK, UNIVERSAL PICTURES