Thys & Trix 

Bouwer Bosch en Leandie du Randt Bosch. Foto: Saban Films

Aksiekomedie. 

Met Bouwer Bosch, Leandie du Randt Bosch en Brendon Daniels.

Regisseur: Quentin Krog. 16DT. Begin op 22 Junie.

Waaroor gaan dit?

Thys en Trix (die akteurspaar Bouwer Bosch en Leandie du Randt Bosch) is twee Gautengse polisiebeamptes wat in die sop beland nadat hulle om die verkeerde redes nuus gemaak het.

Hul bevelvoerders stuur dié boet en sus na ’n Mosselbaaise gholflandgoed onder die voorwendsel dat hulle ’n getroude paartjie is.

Hul opdrag? Om ’n dwelmnes oop te vlek. Die sibbes ontmoet drie paartjies, almal moontlike verdagtes as dwelmvervaardigers. Hulle moet maats maak met die ander inwoners sodat speurder Solomons (Daniels) ongestoord alle leidrade kan opvolg om die sindikaat vas te trek.

As Johan en Susan word Thys en Trix sommer vinnig deur elke paartjie verwelkom.

Wie sal daarvan hou?

Die karakters word dikwels met stereotipes uitgebeeld, en as dit nie iets is wat by jou aanklank vind nie, sal ’n hele paar grappies platval.

Tog is die humor soms onverwags en sal jy gereeld vir die komiese karakters lag. Die intrige het genoeg byt om ’n mens se aandag te boei, maar dit voel soms soos iets wat jy reeds gesien het.

Die aksietonele is goed in die storie verweef om die intensiteit van die film te verhoog. Die kitaarmeester Loki Rothman se klankbaan help ook om die spanning te versterk en tonele natuurlik in te kleur. 

Springmieliefeite

  • Dit is die derde keer dat Quentin Krog ’n fliek regisseer, ná Ballade vir ’n Enkeling (2015) en Vir die Voëls (2016).
  • Dit het sowat sewe maande geduur om die draaiboek te skryf, vertel Quentin.
  • Leandie en Bouwer wou nie verliefdes speel nie, toe word besluit die twee hoofkarakters is broer en suster.

Die moontlike verdagtes

André en Chandré (Zak Hendrikz en Dorette Potgieter) is bekend vir hul liefdadigheidswerk, stylvolle voorkoms en gasvry­heid. Foto: Dehan Janse Van Rensburg
Gerhárd en Stephán (Charlie Bouguenon en Deon Coetzee) is kunshandelaars wat maklik emosioneel raak. Foto: Dehan Janse Van Rensburg
June en Ben (Chanelle de Jager en Ivan Zimmermann) is die boheemse paartjie in die vriendekring wat swingers­partytjies reël. Foto: Dehan Janse Van Rensburg

– Franco Havenga 

Nog flieks

BRAVEN

Aksie.

Jason Momoa en Stephen Lang. Regisseur: Lin Oeding.

16DTG. Begin op 22 Junie.

Jason Momoa. Foto: Saban Films

Die Game of Thrones- en Justice League-ster Jason Momoa is te sien in dié fliek as die gesinsman Joe Braven, wat ’n bosboumaatskappy besit.

Joe se pa, Linden (Lang), ly aan demensie en raak by ’n onderonsie in ’n kroeg betrokke nadat hy ’n vreemde vrou as sy wederhelf aangesien het.

Joe se vrou, Stephanie (Jill Wagner), stel dan voor hy en hul dogter, Charlotte (Sasha Rossof), bring in die familie se afgeleë berghut tyd deur saam met sy pa.

Daar gekom, ontdek hulle heroïen wat dwelmsmokkelaars in die hut versteek het. Toe die mis­dadigers skielik op die hut toesak, raak Joe en sy pa in ’n oorlewingstryd gewikkel.

ISLE OF DOGS

Animasie.

Met Bryan Cranston, Koyu Rankin en Edward Norton. Regisseur: Wes Anderson.

10-12OTG. Begin op 22 Junie.

Foto: Fox Searchlight pictures

Hondekoors breek uit in die fiktiewe Japannese stad Megasaki. Die burgemeester, Kobayashi (Kunichi Nomura), eis alle honde wat as troeteldiere aangehou word, moet na ’n eiland, Trash Island, gestuur word.

’n Twaalfjarige seun, Atari Kobayashi (Rankin), se geliefde hond, Spots, is onder dié wat na die eiland verban word.

Hy onderneem ’n soektog met die hulp van vyf ander honde om syne op te spoor. Maar talle struikelblokke lê vir hulle voor.

DVD’s

INGRID GOES WEST

Komediedrama. 

2017. 94 MIN. 16DTSG

Foto: Neon

Ingrid Thorburn (Aubrey Plaza) is ’n effens onstabiele jong vrou wat geneig is om vlietende interaksies in die sosiale media met betekenisvolle vriendskap te verwar.

Sy voel aangetrokke tot Taylor Sloane (Elizabeth Olsen), ’n Instagram-“beïnvloeder”, en trek Los Angeles toe om haar te bevriend.

Dis ’n verrassend aangename, donker komedie. Die regisseur, Matt Spicer, vermy ’n hoogheilige waarskuwing deur ’n oortuigende vertelling uit die bekruiper se oogpunt te skep. Goeie toneelspel en pragtige agtergronde sorg vir lonende en tersaaklike kykstof.

– Buhle-Bethu Qatyana

PITCH PERFECT 3

Musiekspelkomedie. 

2017. 91 MIN. 10-12OG 

Foto: Universal Pictures

Die agt lede van The Bellas is klaar met universiteit en die groep het ontbind. Maar hulle mis dit om saam te sing en Beca (Anna Kendrick), Fat Amy (Rebel Wilson), Chloe (Brittany Snow) en die ander herenig om saam met die gewese Bella Emily (Hailee Steinfeld) op ’n geleentheid op te tree.

Die konsert val deur die mat, maar dan skryf hulle vir ’n kompetisie in wat kan lei tot die kans om saam met DJ Khaled te werk . . .

Pitch Perfect-aanhangers sal daarvan hou om hul heldinne weer te hoor sing en die musiek is steeds vermaaklik. Maar ’n mens kry die gevoel die franchise het sy verloop geneem en dié aflewering bied nie juis iets nuuts nie.

-Willem Möller 

  • DVD's verskaf deur Videorite, Vishoek. Vind hulle op Facebook.