“Ek is ’n gerehabiliteerde dwelmverslaafde en kan maklik ’n Kaapse bendelid speel; dis net hoe dit is.”

Deesdae ken ons hom as Rhafiek Samsodien in die kykNET-sepie Suidooster, en in die regte lewe is hy ’n liefdevolle man vir Ayesha en pa vir hul dogtertjie, Rahmah (4).

Daarom erken hy hy moes diep delf om ’n misdadiger te speel.

Die karakter Randal, wat aan ’n rolstoel gekluister is, sien iets deur ’n verkyker wat die wêreld om hom in ’n chaos dompel. Foto: Fathom Media.

In Nommer 37 vertolk hy die rol van Randal Hendricks, wat geld leen by die sosiopatiese geldskieter Emmie (Danny Ross).

Kort hierna word hy verlam in ’n bendegeveg op die Kaapse Vlakte.

As oudmisdadiger is Randal in sy woonstel aan ’n rolstoel gekluister, waar hy aan ’n manier moet dink om sy skuld terug te betaal.

Toe sy meisie, Pam (Monique Rockman), hom ’n verkyker gee, kan hy sy bure dophou om die tyd te verwyl. Hy sien iets wat hy dalk nie as ’n oplossing moes beskou nie.

Die fliek is Nosipho Dumisa se debuut as filmregisseur. Sy help Danny Ross sy bes lewer. Foto: Lindsay Apollis.

Terwyl ’n chaos om hom ontstaan, bevind hy hom in lewensgevaar.

Die oorspronklike, kort weergawe van Nommer 37 het in 2016 ’n Safta vir die beste kortprent gewen.

Op 1 Junie word die vollengteweergawe in teaters landwyd uitgereik.

Nosipho en Deon Lotz tydens die verfilming. Foto: Lindsay Apollis.

Irshaad sê hy kon hom vereenselwig met ’n karakter wat in ’n rolstoel is.

“My swaer, Shabier Samaai, is ’n parapleeg. Ek het grootgeword met hom en van sy vriende wat in ’n rolstoel is.

“Ek dink die fliek sal baie beteken vir die gemeenskap van parapleë.”