THE FATHER

Waaroor gaan dit?

Hierdie stilweg verpletterende fliek wat tereg vir ses Oscars benoem is, gaan oor ’n 80-jarige man (Anthony Hopkins; die karakter is na hom genoem) wat alleen in Londen woon.

Sy liefdevolle maar angstige dogter, Anne (Olivia Colman van die trefferreeks The Crown), verhuis na Parys en probeer hom oortuig dat hy weens sy verswakkende geestestoestand ’n versorger nodig het, maar Anthony weier.

Met die aanpassing van sy eie gevierde Franstalige toneelstuk saai die regisseur Florian Zeller twyfel by kykers: Verloor Anthony werklik sy greep op die werklikheid of is iets onheilspellendes aan die gang?

Maar namate gebeure vertroebel en onbekende mense in Anthony se huis verskyn, besef jy dat jy die wêreld ervaar deur die oë van iemand met demensie.

En dit opsigself is ontstellender as enige gruwelfliek. Hierdie briljante strategie laat The Father uitstaan bo ander flieks oor mense wat met demensie saamleef.

Is dit die kyk werd?

Die kyker sien soms dinge uit die oogpunt van die ergerlike maar goedhartige Anne, wat nie weet waarheen om haar te wend of wat om te doen nie, en die Oscarbenoemde Colman doen genuanseerde werk.

Maar al help haar spel jou verstaan hoe moeilik dit kan wees om ’n ouer te hanteer wat toenemend beangs en bakleierig raak, sien jy meestal dinge uit Anthony se verwarde gesigspunt, wat empatie ontlok.

Anthony Hopkins vertolk die hoofrol in dié fliek o
Olivia Colman van The Crown is te sien as sy dogter. Foto: Lionsgate

Al laat die feit dat dit op een plek afspeel die rolprent soos ’n verhoogstuk voel, word Anthony se verwarring slim uitgebeeld met tonele wat nie chronologies afspeel nie asook die subtiele veranderings in die stel en dekor.

Omdat verskillende akteurs dieselfde rol vertolk, verstaan jy ook hoe demensielyers voel wat nie hul geliefdes meer herken nie.

Maar die eintlike trefkrag is die Oscarbekroonde Hopkins se kwesbare spel.

Anthony Hopkins vertolk die hoofrol in dié fliek o
Anthony Hopkins vertolk die hoofrol in dié fliek oor mense wat met demensie saamleef. Foto: Lionsgate

Jy is daaraan gewoond dat hy gebiedende, beherende karakters speel, maar om die ster so hulpeloos te sien is hartverskeurend, en jy besef hoe aaklig dit moet wees om jou houvas op die werklikheid te verloor.

The Father is nie gemaklike kykstof nie en kan ontstellend wees vir kykers wat in Anne se posisie was. Maar dit behoort gekyk te word vir Hopkins se oortuigende spel en om ’n vernietigende en algemene siekte te verstaan.

SANDRA VISSER


SHOWMAX

ALLEN V. FARROW

Dokumentêr.

“Dit maak nie saak wat waar is nie. Wat saak maak, is wat geglo word.”

So haal die aktrise Mia Farrow die rolprentregisseur Woody Allen aan in hierdie dokumentêre minireeks deur die ondersoekende rolprentmakers Kirby Dick en Amy Ziering.

Allen v. Farrow bekyk die omstrede bewerings van molestering wat Mia, Woody se voormalige lewensmaat, en hul aangenome dogter, Dylan Farrow, teen hom gemaak het.

In 1992 het Woody Dylan na bewering in Mia se huis in Connecticut gemolesteer terwyl laasgenoemde gaan inkopies doen het.

’n Hof het bevind Mia het Dylan waarskynlik seksueel afgerig, maar Dylan hou steeds vol sy is gemolesteer.

Allen v. Farrow is 'n moet-kyk. Foto: HBO
Allen v. Farrow is 'n moet-kyk. Foto: HBO

Allen v. Farrow verweef van die besonderhede van Mia se poging om Dylan teen openbare oordeel te beskerm; die omvang van die beweerde toesmeerdery; Woody se verhouding met Mia se aangenome dogter, Soon-Yi Previn; en die manipulering van die openbare mening deur die media.

Mia en Woody se biologiese seun, die joernalis Ronan Farrow, is ook te sien. Allen v. Farrow lewer belangrike sosiale kommentaar oor die beskaming van slagoffers; hoe ingetoë en bedrieglik seksuele oortreders kan wees; en hoe kinderwelsynstelsels gebreek word deur glansmense wat hul mag afdwing.

CAMILLA THOROGOOD

2021. 4 EPISODES. 16SV.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.