Noah Centineo en Lana Condor hervat hul rolle as d
Noah Centineo en Lana Condor hervat hul rolle as die hoërskoolliefies Lara Jean en Peter in die laaste aflewering van die To All the Boys-fliekreeks. Foto: Netflix

Waaroor gaan dit?

In die jongste fliek stap kykers die pad saam met Lara Jean Covey (Lana Condor) en haar groot liefde, Peter Kavinsky (Noah Centineo) terwyl hulle besluite neem oor die lewe ná hoërskool.

Lara Jean se groot bekommernis is hoe hulle hul verhouding op dreef gaan hou met dié dat albei nou vir universiteit voorberei.

Peter se droom word waar om aan die Stanford-universiteit te studeer, maar Lara Jean is onseker oor haar toekoms.

Die paartjie se verhoudingsbootjie word geskud toe sy uitvind sy is nie by Stanford aanvaar nie.

Dit laat haar met twee opsies: die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, wat sowat 62 km van Peter af sal wees, of die New York-universiteit, wat byna 5 000 km tussen hulle sal sit.

Hoe gaan Lara Jean uit dié verknorsing kom? Gaan sy haar hart volg? Of sal haar besluit haar die liefde van haar lewe kos?

Is dit die kyk werd?

Dié opvolgfliek van To All the Boys I’ve Loved Before (2018) en To All the Boys I’ve Loved Before: P.S. I Still Love You (2020) wys hoe Lara Jean en Peter saam groei en nuwe dinge oor hul verhouding leer.

Die paartjie pak elkeen ’n nuwe fase van hul lewe aan, maar trotseer ook baie saam.

Lana en Anna Cathcart se karakters deel ’n suster-
Lana en Anna Cathcart se karakters deel ’n suster-­oomblik in ’n toneel uit die fliek. Foto: Netflix

Hoewel die fliek lighartig en romanties is, raak dit ook ernstige kwessies aan, soos Peter se gebroke verhouding met sy pa (Henry Thomas van The Haunting of Bly Manor) en Lara Jean se verbrokkelde verhouding met haar oudste suster, Margot (die Pretty Little Liars-ster Janel Parrish), wat Skotland toe trek.

Noah, Lana, Madeleine Arthur en Ross in ’n toneel
Noah, Lana, Madeleine Arthur en Ross in ’n toneel uit die fliek. Madeleine is te sien as Lana se bestie, Christine. Foto: Netflix

Die fliek plaas baie klem op die ondersteuning van geliefdes.

Met Lara Jean se ma wat nie meer daar is om raad met haar te deel nie, is dit die sterk en eerlike band wat sy met haar pa, dr. Dan Covey (John Corbett), het wat die hartsnare roer.

Selfietyd! Noah saam met Ross Butler, wat sy pel Trevor speel. Foto: Netflix

Een van die uitstaanoomblikke is sy troue, wat pragtig uitgebeeld word.

Die troudekor verskaf ook die agtergrond vir een van die fliek se hoogtepunte.

Met alles wat in Lara Jean en Peter se warrelwind-liefdesverhaal aangaan, is dit beslis die moeite werd om te sien wat die toekoms vir dié oulike paartjie inhou. ’n Moet-kyk vir aanhangers van die fliekreeks.

  • 2021. 115 MIN. 13 BESKIKBAAR OP NETFLIX
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe