Op ’n Oscar-aand vol hoogtepunte toe dit oudergewoonte gewemel het van Hollywood se blinkste sterre, het ’n minder bekende man van ver oor die waters gekom om die groot name se kollig te steel.

Al het Brad Pitt sy eerste Oscar vir toneelspel verower en al het Laura Dern se toespraak die hartsnare geroer en Martin Scorsese tydens Eminem se optrede ingedut, het die aand ongetwyfeld aan Bong Joon-ho behoort.

Bong Joon-wie? sal jy dalk vra. Want dié Suid-Koreaanse regisseur se naam was tot onlangs nog feitlik onbekend by talle fliekvlooie.

Maar noudat sy jongste rolprent, Parasite, ’n volle vier Oscars ingeoes het – onder meer vir beste rolprent – is sy naam op almal se lippe.

Met dié prestasie het hy geskiedenis gemaak, want dit is die eerste keer in die 92-jarige bestaan van die Oscars dat ’n rolprent in ’n ander taal as Engels met die louere wegstap.

En niemand was meer verras as hyself nie.

“Ek wil hê iemand moet na my kyk soos Bong Joon-ho na sy Oscar kyk,” het ’n rolprentkenner op Twitter gespot.

Voor die groot aand het die Suid-Koreaanse regisseur erken dat Parasite, ’n donker antikapitalistiese satire, ’n skrale kans het om te wen. Die buitelandse akteurs wat daarin speel, is net so onbekend vir die oorgrote meerderheid Amerikaners as die taal wat hulle praat.

Maar toe die kunsfliek in hoofsaaklik Koreaans die een prys ná die ander inryg en lokettreffers van wêreldberoemde regisseurs soos Martin Scorsese, Sam Mendes en Quentin Tarantino uitstof, het Bong ál meer soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel begin lyk.

Met Parasite wat bekroon is as die beste buitelandse rolprent en vir die beste oorspronklike draaiboek en Bong wat as die beste regisseur aangewys is, was dit ongetwyfeld sy aand.

Maar sy grootste oorwinning was aan die einde van die Oscar-aand toe sy fliek as die beste rolprent aangewys is. Nog net 11 buitelandse rolprente is tevore in dié kategorie benoem, waaronder Life Is Beautiful in 1999.

Maar Parasite is die eerste wat deur die taalversperring kon bars en ’n Oscar kon wen. Deur die jare het die Oscars al kritiek ontlok oor hul gebrek aan diversiteit. Daarom is die rits pryse vir ’n buitelandse rolprent as ’n positiewe stap geloof.

In nog ’n verfrissende wending het Bong die ondenkbare gedoen toe hy die vierde keer op die verhoog gestap het om die gesogste prys in die vermaakbedryf te ontvang.

Hy het gevoel hy het reeds genoeg vir een aand gesê en die mikrofoon aan die vervaardigers, Kwak Sin-Ae en Miky Lee, oorhandig.

Toe dié twee vroue langer praat as wat hulle veronderstel was en die ligte verdoof word om hulle aan te jaag, het ’n klomp sterre, onder wie Charlize Theron en Tom Hanks, uit hul sitplekke beswaar gemaak. Hulle is toe meer tyd gegun. Vir Suid-Koreane wêreldwyd was dit ’n ongelooflike oomblik.

“Veels geluk @ParasiteMovie. Baie trots om Koreaans te wees,” het Sandra Oh, die ster van Killing Eve en Grey’s Anatomy, getwiet. Sy was ook ’n aanbieder op vanjaar se Oscars.

“Die spel het verander,” het die Deadpool-akteur Lewis Tan geskryf. “Ek is in trane. Dit is geskiedkundig.”

Bong het nie op hom laat wag om grense te verskuif en tussen genres te wissel nie terwyl hy tussen ’n monsterfliek (The Host), ’n moordraaisel (Memories of Murder) en ’n distopiese fantasie (Snowpiercer) rondgespring het. Om nie van die sonderlinge Okja te praat nie – ’n fliek oor ’n meisie wat ’n geneties aangepaste supervark grootmaak.

Sy rolprente is hartlik in Suid-Korea ontvang en was onder Engelse liefhebbers van kunsflieks gewild. Tog is dit oor die hoof gesien toe pryse uitgedeel is. Maar met Parasite kry Bong eindelik die erkenning wat hy verdien.

Dit is immers die suksesvolste buitelandse rolprent in die Amerikaanse geskiedenis en het al meer as R450 miljoen laat inrol.

Foto: CJ Entertainment
Tonele uit die Suid-­Koreaanse rolprentmaker se fliek Parasite, wat Oscars vir beste buitelandse fliek, beste oorspronklike draaiboek, beste regisseur en beste rolprent gewen het. Foto: CJ Entertainment

Die rolprent fokus op ’n brandarm gesin, die Kims, wat ’n plan beraam om hulle by die huis en bevoorregte lewe van die Park-familie in te wurm. Al wat hulle wil hê, is ’n kans om hul lot in die lewe te verbeter.

Toe een van hul seuns, Ki-woo, op ’n bedrieglike manier ’n onderwyspos by die Park-herehuis kry, bedink hy ’n manier om ook vir sy ander familielede daar werk los te slaan.

Maar toe die wrewel oor klasseverskille kookpunt bereik, loop dit op ’n tragedie uit.

Die Guardian-resensent Frank Kermode beskryf dit as “ ’n asemrowende meesterstuk”.

“Dit is die soort merkwaardige ervaring wat dit deesdae so ’n vreugde maak om te gaan fliek. Ek het dit verlede week die vierde keer gesien,” skryf hy. Alissa Wilkinson, ’n rolprentresensent vir die Amerikaanse webtuiste Vox, meen dit roer ’n snaar onder kykers aan, want dit dra ’n boodskap oor wat mense móét hoor.

“Parasite is ’n volmaakte plesierrit met ’n donker maatskaplike bewustheid wat by ’n heersende tema in wêreldrolprente aansluit: dat skreiende ongelykheid dwarsoor die wêreld tot ’n onvermydelike breekpunt opbou,” skryf sy.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Toe sy fliek verlede jaar in Cannes die Palme d’Or gewen het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nadat dit verlede jaar die gesogte Palme d’Or-prys by die Cannes-rolprentfees losgeslaan het, het dié silwerdoekjuweel ál meer aandag begin trek.

Tydens vanjaar se prysseisoen het dit bly pryse opraap – onder meer ’n Golden Globe en Critics’ Choice vir die beste buitelandse rolprent en ’n Bafta vir die beste oorspronklike draaiboek.

Toe hy sy Golden Globe ontvang, het Bong erken dis moeilik om Engelse hoofstroomgehore te oorreed om na buitelandse rolprente te gaan kyk.

“Wanneer ’n mens eers die een duim hoë struikelblok van onderskrifte te bowe gekom het, sal jy aan baie meer wonderlike rolprente bekendgestel kan word,” het hy gesê en gelag.

Parasite
Foto: CJ Entertainment

Al was Bong die gunsteling om die Oscar vir die beste buitelandse rolprent te wen, het min mense verwag hy sou nog drie pryse opraap. Hy is naas Alfonso Cuarón (vir Roma verlede jaar) die tweede regisseur van ’n nie-Engelse fliek wat as beste regisseur aangewys is.

En naas Ang Lee (vir Brokeback Mountain en Life of Pi) is hy die tweede Oosterse regisseur wat ’n Oscar wen. Hy het verheug gelyk, maar ook geamuseer. Terwyl hy met ’n tolk se hulp gepraat het, het sy sêgoed in sy aanvaardingstoesprake byna die internet tot stilstand gebring.

“Dankie. Ek sal tot môreoggend drink,” het hy gespot.

Sy vrou, Jung Sun-young, het trane afgevee toe hy haar lof besing het terwyl hy sy eerste prys van die aand ontvang het.

“Dit is ’n eensame werk om ’n draaiboek te skryf,” het hy gesê. “Ek bedank my vrou, wat my altyd geïnspireer het.”

Twitter/@Amykinla
By sy vrou, Jung Sun-young. Foto: Twitter/@Amykinla
Twitter/@Amykinla
By sy vrou, Jung Sun-young. Twitter/@Amykinla

Hulle het ’n seun, Bong Hyo-min (24). Bong het ook hulde gebring aan sy medebenoemdes, Scorsese (The Irishman), Todd Phillips (Joker), Sam Mendes (1917) en Quentin Tarantino (Once upon a time in Hollywood).

Sy aweregse humorsin het kop uitgesteek toe hy sê: “As die Akademie dit toelaat, sou ek graag ’n kettingsaag wou kry, die Oscar in vyf verdeel en dit met julle almal deel.”

BRONNE: GUARDIAN.CO.UK, BBC.CO.UK, VOX.COMGALLO IMAGES/GETTY IMAGES, TWITTER/@AMYKINLA, CJ ENTERTAINMENT
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.