Adarsh Gourav en Priyanka Chopra Jonas en Rajkumma
Adarsh Gourav en Priyanka Chopra Jonas en Rajkummar Rao in The White Tiger. Foto: Netflix

Dit is die verhaal van Balram Halwai (Adarsh Gourav) se reis van armoede tot ’n lewe as suksesvolle entrepreneur in moderne Indië.

Balram word brandarm groot op die dorpie Laxmangarh. Hy hoor hul skatryk grondeienaar het ’n chauffeur nodig en leen dan geld by sy ouma om vir bestuurslesse te gaan.

Adarsh se karakter, Balram, werk as ’n chauffeur v
Adarsh se karakter, Balram, werk as ’n chauffeur vir Priyanka se karakter, Pinky. Foto: Netflix

Hy slaan die werk los as motorbestuurder vir die grondeienaar se jongste seun, Ashok (Rajkummar Rao), en dié se vrou, Pinky (Priyanka Chopra Jonas), wat pas uit Amerika teruggekeer het.

Ashok en Pinky is die enigste lede van die familie wat Balram nie oop en bloot mishandel nie – hulle verdedig hom selfs. Dis dié dat hy hulle aanbid.

Maar ná ’n aandjie uit saam met die paartjie besef hy tot watter uiterstes hulle sal gaan om op hom te trap om hul eie bas te red. Hy rebelleer teen die ongelyke stelsel en word self ’n baas – maar volgens sy eie reëls.

Is dit die kyk werd?

Rajkummar Rao en Priyanka Chopra ­Jonas is dalk die bekende Bollywood­sterre in die rolverdeling, maar dis die hoof­akteur, Adarsh Gourav, se spel wat mense laat regop sit. Daar word reeds voorspel dat Hollywoodrolle nou vir hom sal begin instroom.

The White Tiger ondersoek Hollywood- en Bollywood-stereotipes van die lewe in Indië en klasseongelykheid. Die kollig val op Indië se hoër klas en hoe hulle die laer klas behandel, en die prentjie wat geskets word, is nie mooi nie.

Die brandarm Balram omskep homself in ’n suksesvolle entrepreneur – maar teen watter sielkundige prys? Foto: Netflix
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Die fliek vermaak, gaan jou van begin tot einde boei én dieper laat nadink. Maar moenie iets soortgelyks aan Slumdog Millionaire verwag nie. Die fliek is ’n kwaai antitese daarvoor. Dis ’n moet-sien.

2021. 127 MIN. 16
BESKIKBAAR OP NETFLIX

BRONNE: INDIATODAY.IN, THECUT.COM
5 dinge wat jy oor Adarsh Gourav moet weet
Die hoof­akteur, Adarsh Gourav, se spel laat mense
Die hoof­akteur, Adarsh Gourav, se spel laat mense regop sit. Foto: Netflix
  • Adarsh (26) is in Priyanka se geboortestad, Jamshedpur, gebore. Hy het ’n dramaskool in Moembai bygewoon en is nege jaar lank in klassieke Indiese musiek opgelei.
  • Hy het in sy tienerjare begin toneelspeel en is al ’n dekade lank in die vermaakbedryf.
  • Hy het gedebuteer as die jonger weergawe van die Bollywoodster Shah Rukh Khan se karakter in die fliek My Name Is Khan (2010).
  • Hy was op skool en op kollege jare lank die hoofsanger vir die metalgroepe Steepsky en Oak Island.
  • Om vir sy rol as Balram voor te berei, het hy onder meer weke lank op ’n steenkoolmyndorpie gewoon en daarna in Delhi by ’n kosstalletjie skottelgoed gewas. “Ek het ’n paar weke nadat die verfilming voltooi was nog soos Balram gepraat en geloop,” vertel hy.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe