In Mei vanjaar het Tom Cruise 'n foto op Twitter gedeel wat deurwinterde Top Gun-aanhangers dadelik snuf in die neus laat kry. Daardie valhelm lyk mos presies net soos die een uit die fliek. Meer nog . . . 'n vegvliegtuig in die agtergrond.

Boonop het die fliekvervaardiger Jerry Bruckheimer reeds in 2016 begin rondspeel met die idee van Top Gun 2.

Nou blyk dit daardie rokie is wel afkomstig van 'n vuurtjie!

War Dogs se Miles Teller (31) het onlangs bevestig hy sal by Tom Cruise (56) aansluit en ’n hoofrol vertolk as die seun van Anthony Edward (56) se karakter, Goose.

Net dae later het die akteur Val Kilmer (58) ook bevestig hy sal as Maverick se mededinger Iceman terugkeer.

Aanhangers van die klassieke rolprent van 1986 sal onthou Goose sterf in die rolprent. En al is die storie vir die opvolg nog nie uitgereik nie, bespiegel baie mense oor of Maverick sy gewese beste vriend se seun se mentor sal wees.

Ons kan nie wag nie!