OP DIE GROOTSKERM

MORTAL KOMBAT

Aksie. Met Lewis Tan, Jessica McNamee en Josh Lawson.
Regie: Simon McQuoid.
16TG.

Waaroor gaan dit?

Amper 30 jaar nadat Mortal Kombat die speletjieslandskap vir altyd verander het, kom ’n nuwe fliek wat op dié einste bloedige videospeletjie gegrond is. Aanhangers kan hulle regmaak, want baie van die karakters wat jy uit die videospeletjie ken, is nou op die silwerdoek te sien.

Die fliek begin in die 17de eeu in Japan. Sub-Zero (Joe Taslim) en ’n spul Lin Kuei-sluipmoordenaars val Hanzo Hasashi (Hiroyuki Sanada) en sy gesin aan, en sy vrou en seun word vermoor.

Hierna spring die fliek na die toekoms waar die Outworld al nege van die 10 toernooie in Mortal Kombat gewen het.

As hulle nog een wen, sal dit die einde van die Earthrealm beteken. Die booswig Shang Tsung (Chin Han) besluit om die laaste toernooi te bewimpel deur die kampioene van Earthrealm dood te maak nog voor die toernooi begin.

Mehcad Brooks speel die man met die ysterarms, Jax
Mehcad Brooks speel die man met die ysterarms, Jax. Foto: Warner Bros
Ludi Lin (links) en Max Huang is te sien as Liu Ka
Ludi Lin (links) en Max Huang is te sien as Liu Kang en Kung Lao. Foto: Warner Bros

Die vegter Cole Young (Lewis Tan), ’n nuwe karakter in die Mortal Kombat-heelal, is ook in sy visier. En sy gesin is in gevaar.

Is dit die kyk werd?

Dié fliek is vir seker nie vir diegene wat nie van geweld hou nie. Die tonele is aksiebelaai, en dis die een bloedige toneel ná die ander.

Die storielyn en karakterontwikkeling stel ongelukkig soms teleur en party karakters sterf veels te vroeg vir hulle om hul stempel in die fliek af te druk.

Lewis Tan speel die nuweling Cole Young in die Mor
Lewis Tan speel die nuweling Cole Young in die Mortal Kombat-heelal. Foto: Warner Bros

Hoewel daar genoeg aksietonele is om aanhangers van die videospeletjiereeks tevrede te hou, sal party mor oor die feit dat die toernooi nooit eens afspeel nie.

NOBODY

Aksie.
Met Bob Odenkirk en Connie Nielsen.
Regie: Ilya Naishuller.
16 DTG.

Waaroor gaan dit?

Ons ken hom as die prokureur Jimmy McGill in die dramareeks Better Call Saul. Nou is Bob Odenkirk ’n aksieheld in Nobody. Die 58-jarige akteur is te sien as Hutch Mansell, ’n doodgewone pa wat onderskat en vlak gekyk word.

Ná ’n huisinbraak is sy tienerseun, Blake (Gage Munroe), teleurgesteld omdat hy hulle nie verdedig het nie, en sy vrou, Becca (Connie Nielsen), dryf al verder van hom af weg.

Bob Odenkirk in die fliek Nobody. Foto: Universal
Bob Odenkirk in die fliek Nobody. Foto: Universal Pictures

Dan het Hutch ’n woedeuitbarsting op ’n bus – een wat sy paaie met die Russiese mafia s’n laat kruis – en dit dreig om sy donker verlede bloot te lê.

Is dit die kyk werd?

As jy van die John Wick-fliekreekse hou, sal dit so reg in jou kraal wees. Dis beslis nie ’n gesinsfliek nie.

Van links is Paisley Cadorath, Gage Munroe en Conn
Van links is Paisley Cadorath, Gage Munroe en Connie Nielsen in die fliek, Nobody. Foto: Universal Pictures

Die geweld is grafies en raak ál bloediger. Dit kan dalk selfs nes John Wick kultusstatus geniet. Die twee flieks het immers dieselfde draaiboekskrywer.

OP DIE KASSIE

THE MARKSMAN

Aksie.

Die Taken-aksieheld Liam Neeson is te sien as ’n oorlogsveteraan, Jim Hanson, wat ’n afgesonderde bestaan langs die grens tussen Arizona en Mexiko voer. Hy patrolleer dié grens en verklik mense wat dit onwettig oorsteek.

Op ’n dag kruis sy pad met dié van twee Mexikaners, Rosa (Teresa Ruiz) en haar 11-jarige seun, Miguel (Joe Perez), wat van ’n wrede Mexikaanse kartel vlug.

Toe Rosa in die kruisvuur sterf, smeek sy Jim om haar seun te neem na haar familie in Chicago waar hy veilig sal wees.

Liam Neeson in The Marksman. Foto: Open Road Films
Liam Neeson in The Marksman. Foto: Open Road Films

Jim gaan teen sy dogter, ’n polisievrou, Sarah (Katheryn Winnick), se wense in en sluip met Miguel oor die grens na Amerika om hom tot elke prys te beskerm.

2021. 104 MIN. 16G. BESKIKBAAR OP DSTV BOXOFFICE

NAGVREES

Drama.

In elke teater ’n legende van die een of ander spook.

Izel Bezuidenhout is te siene in Nagvrees. Foto: K
Izel Bezuidenhout is te siene in Nagvrees. Foto: KykNET

In dié fliek, met Nicola Hanekom in die regisseurstoel, is ’n klomp studente besig om deurnag aan ’n toneelstuk te repeteer toe dinge skielik lelik skeefloop en gevaarlik raak. Die vraag is: Wie gaan die nag oorleef?

Met Izel Bezuidenhout, Andahr Cotton en Liam Bosman.
2021. 50 MIN. 13.
SONDAG 16 MEI OM 20:00 OP KYKNET

MONSTER HUNTER

Aksie.

Milla Jovovich is te sien in dié aksieavontuur wat op die videospeletjiereeks gegrond is. Agter ons wêreld is daar nog een wat gevul is met gevaarlike en magtige monsters wat hul domein verdedig.

Toe Natalie Artemis (Milla) en haar soldate van ons wêreld na die nuwe een vervoer word, kry die luitenant die skok van haar lewe.

Dié aksieavontuur is op die videospeletjiereeks va
Dié aksieavontuur is op die videospeletjiereeks van dieselfde naam gebaseer. Foto: Screen Gems (Sony Pictures Releasing)

Sy bevind haar in ’n stryd om oorlewing, en sy moet enorme vyande met supermagte takel.

Natalie span kragte saam met ’n geheimsinnige jagter (Tony Jaa) wat ’n manier gekry het om teen die monsters terug te baklei.

DIE SPEELKAMER

Drama.

In ’n egskeiding verloop als nie altyd soos jy dink nie. Nadat Wikus (Bennie Fourie) en Karen (Mila Guy) se huwelik op die rotse beland het, word die twee ekse vasgevang in ’n rusie oor toesig van hul seuntjie.

Bennie Fourie in die fliek, Speelkamer. Foto: KykN
Bennie Fourie in die fliek, Speelkamer. Foto: KykNET

Albei word soos pionne in ’n skaakspel rondgeskuif. Sal die egpaar die regte besluit neem of sal hulle meegevoer raak deur ’n stelsel wat dikwels deur rand en sent gedryf word?

2021. 50 MIN. 13.
SONDAG 23 MEI OM 20:00 OP KYKNET