1. Valentynsdag

Sean-Marco Vorster (27) vertolk die rol van Nico in ons tweede fliek Vergeet my nie wat op Valentynsdag volgende jaar uitgereik word.

2. Die baard

Hy moes twee maande lank spesiaal ’n tamaai baard kweek vir die rol. Aanhangers sal hom onthou as die skoongesig in die gewilde kykNET-reeks Alles Malan wat pas tot ’n einde gekom het.

3. Flieks

Vergeet my nie is sy eerste hoofrol hoewel hy nie nuut op die silwerdoek is nie. Hy was ook in Die windpomp (2014), Strikdas (2015) en Susters (2018) te sien.

4. Waar jy hom nog gesien het

Sean-Marco was die aanbieder van die SABC3-reeks NAweek en die SABC2-leefstylprogram Pasella.

5. Nóg ’n eerste

In Vergeet my nie is dit die eerste keer dat hy iemand uitbeeld wat regtig leef. Die fliek is gegrond op die ware liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks van Namibië.

6. Ander belange

Toneelspel is sy eerste liefde, maar Sean-Marco is ook die uitvoerende direkteur van Afrique de Shoot, ’n onderneming wat advertensies in Afrikalande soos Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Tanzanië vervaardig.

View this post on Instagram

To all the fingers keeping our heads up.

A post shared by S e a n - M a r c o (@seanmarcov) on

7. Skool

Hy het in Durbanville noord van die Moederstad grootgeword en was aan die Laerskool Eversdal en die Hoër Jongenskool Paarl op skool. Van jongs af was hy vasbeslote om iets merkwaardig met sy lewe te doen.

8. Kinderjare

Sy kinderjare was vol fietsry-avonture, kleilat, rugby en kriekettoere. Sean-Marco het kleintyd al persoonlikhede nageboots in die animasieprente waarna hy gekyk het.

9. Die toneelgogga

Die toneelgogga het in sy hoërskooljare gebyt.

“Dit het my geboei om myself in te leef in ’n karakter wat ek nie eens ken nie.”

10. En wie is Sean-Marco?

En hoe beskryf hy homself?

“Ek is nogal all over the show en vat ’n ding soos dit kom,” verklap die aantreklike akteur oor homself.

Meer oor 'Vergeet my nie'

Dié goedvoelfliek is deur die ware liefdesverhaal geïnspireer van Hugo en Mardaleen Derks van Gobabis in Namibië en die kronkelpaaie wat hul verhouding in die 1990’s gestap het.

Tonele vir die fliek is in Namibië, Engeland, Potchefstroom, Kaapstad en Johannesburg geskiet.

Die talentvolle donkerkop Marguerite van Eeden vertolk die hoofrol die fliek en is nou weer op die kassie te sien as Alex in die tweede seisoen van die drama­reeks Fynskrif.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.