Jy hoef nie eens na die datum op ’n koerantvoorblad te kyk om te snap in watter era jy is nie: Verbygangers se haarstyle, hul klere, die musiek wat uit kuier- en blyplekke draal – alles verklap jy is terug in die laat 1990’s. Vir André Velts was dit meer as net ’n verbeeldingsvlug.

As regisseur van die fliek Vergeet my nie was dit sy uitdaging om die Londen van byna twee dekades gelede getrou vir die silwerdoek te herskep.

Dis immers hiér waar die hoofkarakters in die fliek, Mardaleen en Hugo, se ware liefdesverhaal begin ontvou het.

Boonop moes tonele wat in Potchefstroom, Kaapstad en Namibië afspeel ook era-getrou geskep word. Maar dit was die verfilming in Londen wat die groot logistieke kopseer was, erken André (39) noudat die fliek sy laaste dae in teaters bereik.

“Ek is so ’n sucker vir detail!” vertel hy oor die uitdagings daarvan om die besonderhede van die 1990’s subtiel in tonele in te weef.

Sy vrou, die aktrise Juanita de Villiers, knik haar kop instemmend terwyl die twee in hul huis in Pretoria met Huisgenoot gesels.

Die regisseur van Vergeet my nie, André Velts, en
Die regisseur van Vergeet my nie, André Velts, en sy vrou, Juanita de Villers, saam met hul hondekind, Lillibel.Foto: ER Lombard

“Ek het geskrik toe hy ná 10 dae se skietwerk van Londen af terugkom. Hy het seker 10 kg verloor; hy was net vel en been,” vertel sy.

“Ons moes so op ons tone dink, en ons het lang ure gewerk. Daar was plekke waar ons nie mag verfilm het nie omdat baie van die bakens die koningin se eiendom is. Ons moes dit maak werk en ons hét, maar hel, dit was stresvol,” sê hy en vryf oor sy hare waar die grys plek-plek deurslaan.

Omdat albei in die rolprentbedryf werk, was dit vir Juanita makliker om André deur die lang dae en uitdagings te steun, selfs wanneer hy weg van die huis was.

“Ons het saam in die bedryf ingegaan en saam hard gewerk om dit te maak,” vertel sy.

“Maar ek het hom ook al gevloek, hoor, want soms wil hy my regisseur pleks van my man wees.”

Hul verhouding het heelwat humor, kom jy agter.

Nes in die huwelik van die Namibiese egpaar wie se ware liefdesverhaal Vergeet my nie geïnspireer het. In hul meenthuis is een woonkamermuur vol plakkate van flieks en TV-programme waaraan die twee gewerk het.

André en Sean-Marco saam met Marguerite van Eeden,
André en Sean-Marco saam met Marguerite van Eeden, wat die vrouehoofrol in die fliek vertolk. Foto: Verskaf

“Almal ’n sentimeter-en-’n-half uit mekaar,” beklemtoon die perfeksionistiese André met ’n sweempie trots.

En hy skuif summier een van die “skewe” rame reguit. Dan gaan sit die twee en hul hond, Lillibel, langs mekaar op die rusbank.

André was voorheen ook in die regisseurstoel van flieks soos Knysna, Jou Romeo en Raaiselkind. Juanita speel die karakter Jana Kritzinger in Getroud met rugby en was ook al te sien in Knysna en die werklikheidsprogram Dancing with the Stars. Al was die skietwerk verlede Junie in Londen vir André stresvol, is die Britse hoofstad nie vir hom vreemd nie. Hy het self in die vroeë 2000’s daar gewoon en gewerk en die stad en era goed onthou.

Tydens die verfilming van Vergeet my nie het André die fliek se kunsregisseur gevra om die Londense huis wat moes dien as die kommune waarin Hugo en Mardaleen destyds gewoon het eers binne van hoek tot kant te verf.

“Ons het die huis op Airbnb gehuur, maar dit was vieslik vuil. Drie dae voor almal daar aangekom het, het ’n paar mense van die crew die hele huis binne geverf, want al die mure was wit – nie ideaal vir filmwerk nie.”

Hulle het die huis binne verskeie kleure geverf omdat wit te klinies en kras lyk as jy teen dié kleur afneem.

Boonop het die span die huis “geskrop”. want “dit was onleefbaar”, vertel André. Terwyl hulle in die huis geskiet het, is van die kamers steeds op Airbnb uitverhuur en hulle moes verfilming elke af en toe staak sodat die inwoners eers kon verbykom. Ook die tonele wat op straat verfilm is, was vol uitdagings.

‘Ons moes dit maak werk en ons hét, maar hel, dit was stresvol’

“Ons het R18 000 betaal vir ’n permit om twee uur lank op die tube te skiet. ’n Vrou van die Britse regering het als gedokumenteer wat ons afgeneem het. Ons mag nie reisigers se daaglikse rit beïnvloed het nie. Ons mag dus nie ’n deel in die trein afbaken of iemand vra om uit ons skoot te kom nie.”

Boonop, sê André, moes hulle sorg dat moderne elemente nie in skote insluip nie.

“Dit was ’n uitdaging, want dié wat op die trein ry, moet ook lyk asof hulle uit die 1990’s is – dus geen slimfone of skootrekenaars nie,” sê hy. Hy het vooraf navorsing gedoen oor watter bakens en geboue in die Britse hoofstad al in die 1990’s daar was sodat iets wat eers later opgerig is nie op die agtergrond in die tonele sou verskyn nie.

Dit sou die geloofwaardigheid van die fliek aangetas het, sê hy. Dit het ook beteken dat sommige tonele later oorgeskiet moes word omdat die span eers agterna besef het ’n gebou op die agtergrond van ’n skoot was nog nie in die 1990’s daar nie.

“Ons het 14 uur per dag gewerk, en wanneer ons die aandtonele wou skiet, kon ons eers tienuur die aand begin,” sê André. Dit was omdat die fliek in die Britse somer geskiet is en dit dan eers dié tyd van die aand donker word.

André saam met lede van die kameraspan en die akte
André saam met lede van die kameraspan en die akteur Sean-­Marco Vorster (regs), wat Hugo Derks speel. Foto: Verskaf

Boonop moes die span versigtig werk om nie ongerief te veroorsaak nie, want die Britse owerhede mag videotoerusting konfiskeer as hulle meen daar is risiko’s.

“Ons het soms voorgegee ons skiet ’n verlowingsvideo, of dat dit net stilfoto’s is.

Wanneer ons ’n beampte sien nader stap, het een van die akteurs of crew die kaart in die kamera gevat en gevlug.

“Ons kon dit nie bekostig om enigiets te verloor nie,” vertel hy. Hy erken dit was soms moeilik om koelkop te bly as hulle lank moes wag dat voetgangerverkeer minder word vir straattonele of as hulle tonele oor en oor moes skiet omdat moderne rygoed op die agtergrond straatskote bederf het.

En André kan krities wees as dinge nie reg lyk nie, verklap Juanita.

“Maar dis hoekom hy so goed is met sy werk.”

Sy het dit ook al self ervaar.

“Dit het al gebeur dat ek in iets speel en as ek hom vra wat hy dink, antwoord hy reguit. Ek het vir ’n toneel geoefen en toe sê hy: ‘Nita, daai stemmetjie wat jy so opsit, nè, dit werk nie.’ Dan is ek die donner in en herinner ek hom hy is my man, nie my regisseur nie,” sê sy en albei skaterlag.

Die twee het mekaar ontmoet toe André drama in Pretoria doseer en sy daar begin studeer het.

Hy het mettertyd ’n mentor vir Juanita geword. Hulle was lank net vriende, maar oplaas het hul gemeenskaplike vriendekring begin skerts dat hulle “moet trou en klaarkry”, vertel Juanita.

“Dis toe ook wat ons gedoen het,” sê sy en klap André op sy been.

Hulle is vanjaar nege jaar getroud en teen dié tyd mentors vir mekaar. Babaplanne is daar nog nie. Soms is Juanita ook krities teenoor hom, sê André.

“Ek het aan ’n fliek gewerk met weerlig in een toneel, en toe ek dit vir haar wys, sê sy: ‘Daai weerlig is glad nie geloofwaardig nie; weerlig klink nie so nie.’ Ek was woedend. Daarna het ons taktvoller probeer sê wat ons dink, maar ook net as die ander ’n mening vra,” sê hy.

“Ons is geseënd en gelukkig. Ons is pelle,” sê Juanita.

“Ons deel ’n passie. Weet jy hoe seldsaam is dit?” beaam André. Dan lag Juanita en verklaar: “Ja, dis nie net Mardaleen en Hugo wat ware liefde vind nie. Kyk nou net vir ons.” 

Vergeet my nie sal later vanjaar beskikbaar wees op DStv Box Office.