Incredibles 2
Animasie-WF.

Stemme: Craig T. Nelson, Holly Hunter en Sarah Vowell.

Regie: Brad Bird. OTG.

Die storielyn

Al het 14 jaar verloop vandat ons die minlike superheldgesin die Parrs laas in The Incredibles (2004) gesien het, laat waai dié opvolg oomblikke ná die einde van die eerste rolprent.

Superhelde is onwettig verklaar, maar toe ’n skurk toeslaan, laat Bob Parr (Nelson), oftewel Mr. Incredible, sy vrou, Helen (Hunter), ook bekend as Elastigirl, en hul kinders met supermagte, Violet (Vowell) en Dash (Huck Milner), nie op hulle wag om die booswig te keer nie.

Ongelukkig is die regering nie beïndruk met die skade wat hulle aanrig nie en moet die Parrs hul gewone lewe hervat – tot die mediamagnaat en superheldaanhanger Winston Deavor (Bob Odenkirk) hulle nader.

Omdat Helen minder vernietigend as haar supersterk man is, stel Winston ’n mediaveldtog voor wat handel oor Elastigirl se misdaadbestryding. So wil hy openbare steun vir superhelde werf.

Terwyl sy weg is, bied Bob teësinnig aan om Violet, Dash en baba Jack-Jack (Eli Fucile) te versorg, wat sonder die gesin se medewete superkragte ontwikkel het.

Is dit goed?

Soos die beste opvolgflieks brei Incredibles 2 die wêreld van die eerste rolprent op interessante maniere uit terwyl dit ook die minsame karakters verdiep.

Terwyl The Incredibles op Bob gekonsentreer het, is dit wonderlik om te sien dat Helen dié keer die kollig steel en dat die hele gesin van die begin af aan die aksie deelneem.

Dit strek ook tot Bird se eer dat die amusante huislike drama – ongewoon in ’n animasiereeks wat op kinders gemik is – net so boeiend en opwindend as die aksietoenele is, al sal die kinkel oor die skurk se identiteit die meeste kykers nie verras nie.

Die pragtig ontwerpte retro-wetenskapsfiksievoorkoms, lieflike naturalisme van die karakters se gebare, pittige dialoog en opwindende klankbaan deur Michael Giacchino maak dit ’n kyk- en luisterfees.

– Sandra Visser 

DVD’S

RAAISELKIND

Drama. 

2018. 120 MIN. 16GT. Ook op DSTV Box Office.

Foto: Indigenous Film Distribution

Dié fliek, gegrond op Annelie Botes se gelyknamige boek, bied ’n rou en eerlike blik op die uitwerking van die ontwikkelingsteuring outisme op gesinne.

Dit handel oor Alexander (Ian Roelofs), ’n outistiese seun. Hy word op nege dood in hul bad by die huis aangetref.

Sy ma, Ingrid (Diaan Lawrenson), al mens wat tuis was, word in hegtenis geneem en telkens is die vraag: Het Ingrid haar eie kind vermoor?

Die fliek bly grotendeels getrou aan die boek en veral June van Merch (Die Boekklub en Sara Se Geheim) se rol as Miriam, wat Alexander help versorg, se spel is hartverskeurend.

Roelofs as die outistiese seuntjie is ’n openbaring en genoeg rede om die fliek te kyk. Dit sal jou enduit boei.

– Pieter Van Zyl  

BATTLE OF THE SEXES

Ware lewensdrama.

2017. 117 MIN. 13DVS. Ook op DSTV Box Office.

Foto: Fox Searchlight Pictures

In 1973 daag die 55-jarige afgetrede tenniskampioen Bobby Riggs (Steve Carell), ’n selferkende manlike chauvinis, die destydse vrouekampioen Billie Jean King (Emma Stone) tot ’n eenmalige wedstryd uit om te “bewys” mans is beter as vroue.

Die wedstryd is eintlik net ’n publisiteitsfoefie om Riggs se loopbaan te laat herleef, maar vestig eerder die openbare aandag op vroulike beroepspelers se stryd om gelyke betaling.

Destyds was hul prysgeld sowat ’n agtste van mans s’n. Met goeie spel, opwindende tennis en ’n sterk feministiese stelling word dié kykstof sterk aanbeveel.

– Willem Möller 

  • DVD’S verskaf deur Videorite, Vishoek. Vind hulle op Facebook.