Lea Vivier, wat in die fliek haar debuut op die silwerskerm maak, was “opgewonde maar ook senuagtig” oor die groot aand. Haar rol as ’n kelnerin wat onwillekeurig by ’n deurmekaarspul van gebeure betrokke raak, het haar op verlede jaar se kykNET Silwerskermfees in Kaapstad die prys vir beste aktrise besorg.

Tyd vir ’n selfie: Mila Guy, Lea Vivier en Simoné Nortmann.

Die jong ster, wat nou in die kykNET-komedie Mense Mense speel, was in haar oorlede ouma Trix se broekpak en ousus Trix Vivier, ook ’n bekende aktrise, se geel tossel-oorbelle uitgevat.

Simoné Nortmann, wat in ’n skelpienk rok deur Suné Snyman geklee was, en Mila Guy, in ’n groen fluweelpak, het saam-saam vir die kameras op die rooitapyt geglimlag.

Die twee aktrises is in die regte lewe woonstelmaats. In die rolprent vertolk Simoné die rol van Lindie, “die kwaai een”, terwyl Mila die volwasse bruid speel. Edwin van der Walt vertolk die rol van die bruidegom wat sy bruid moet agternasit.

Gelukkig is sy liefdeslewe weg van die kameras sonder dié soort drama. Edwin en Ansu Visser, die vrou in sy lewe, het mekaar ontmoet toe Wonderlus verlede jaar verfilm is. Ansu vertolk die rol van ’n naïewe romantikus.

Lea en Bobby van Jaarsveld lyk heel anders as in Mense Mense.
Die Binnelanders-akteurs Je-Ani Swiegelaar en Germandt Geldenhuys saam op die rooitapyt.
Die verloofde paartjie Ivan Botha en Donnalee Roberts lyk albei stylvol.
Die fotograaf Loricia Bruwer en haar akteurkêrel, Ramey Short, straal behoorlik.
Die getroude akteurspaar Altus Theart en Zetske van Pletzen lyk rocksjiek vir die première.
Die Getroud met Rugby-sterre Melissa Willering (links) en Kate Roothman lyk spoggerig op die rooitapyt.

Die verloofde paartjie Donnalee Roberts en Ivan Botha het ook na die rolprent gaan kyk. Donnalee het klassiek gelyk in ’n rokkie “wat sommer in my kas was” en skoene van Zara.

Ander bekendes by die première was Bobby van Jaarsveld (Lea se mede-akteur in die kykNET-komedie Mense Mense), Stiaan Smith (wat Ruan “die moedelose een” speel), Binnelanders se Ramey Short en Getroud met Rugby se Christel van den Bergh, Werner Coetser, Altus Theart en Zetske van Pletzen.

Bydraes: Marizka Coetzer, Michelle Nortje; Foto’s: Lubabalo Lesolle, Adam Fine, A Fine Photography, Mart-Marie Serfontein, Instagram