Waaroor gaan dit?

Ansu Visser (links) en Lynelle Kenned.

Die fliek speel af tydens ’n plattelandse bruilof, maar dis nie ’n gewone gelukkige-einde-troue nie. ’n Groep vriende wat vir ’n naweektroue bymekaarkom, bevind hulle in ’n moeilike situasie toe dinge ontspoor.

Almal, van die bruidegom (Van der Walt) tot ’n geheimsinnige kelnerin (Vivier), moet die volgende oggend die vorige aand se gebeure probeer ontsyfer.

Die liefde, en hoe die jong mense sin daarvan probeer maak, word in dié fliek op sy kop gekeer.

Wil die bruid (Guy) én bruidegom met die huwelik voortgaan?

Dit is maar een van die vrae wat gestel en eindelik beantwoord moet word.

Is dit goed?

As daar een Afrikaanse fliek is wat jy vanjaar moet kyk, is dit Wonderlus.

Die regisseur, Johan Cronjé, het ’n wenner beet en die akteurs vertolk hul onderskeie rolle uitstekend.

Die volgende dag probeer die gaste die chaos van die bruilof uitpluis. Van links is Adam Heyns, Simoné Nortmann, Stiaan Smith, Beer Adriaanse en Lynelle.

Hou Lea Vivier (nou te sien in die kykNET-sitkom Mense Mense) as die kelnerin gerus dop in ’n rol wat die kyker heeltyd oor haar persoonlikheid laat wonder.

’n Paar behoudende kykers sal waarskynlik die oë rek oor die intrige en veral ’n gewaagde sekstoneel.

Elke toneel is uitstekend geskiet en die dialoog verras.

Naas Paljas is Wonderlus sonder twyfel een van die beste Afrikaanse flieks wat ek al gesien het.

’n Mens sal dit weer en weer wil kyk. 


DVD’s

THE LAST WORD

Van links is Amanda Seyfried, AnnJewel Lee Dixon en Shirley MacLaine.

Komediedrama.

2017. 103 MIN. 13DT.

Dié inspirerende fliek is snaakser as wat ’n mens sou dink, veral aangesien dit met die dood te make het. Jou hart raak week vir die afgetrede sakevrou Harriet (Shirley MacLaine) wat ’n jong joernalis, Anne (Amanda Seyfried), aan haar kant probeer kry nadat sy haar aangestel het om haar doodsberig te skryf.

Die beheervraat Harriet wil nie as doodgewoon onthou word nie, en Anne help haar om iets noemenswaardigs te vind om oor haar verlede te sê. In die proses verander hulle albei hul huidige omstandighede.

– CHEZ POOL 

TULIP FEVER

Drama. 

2017. 101 MIN. 16NS.

In 17de-eeuse Amsterdam is ’n tulpbol meer werd as sy gewig in goud. Fortuine word in ’n oogwink gemaak en verloor. Teen dié agtergrond trou die 17-jarige weeskind Sophia (Alicia Vikander, foto) met die veel ouer Cornelis (Christoph Waltz, foto).

Cornelis stel die skilder Jan (Dane DeHaan) aan en ’n affair ontstaan tussen Sophia en Jan. Die verwerking van die roman deur Deborah Moggach is pragtig verfilm, maar DeHaan hoort nie in die rol nie.

– LIZ DE VILLIERS 

DVD’S VERSKAF DEUR VIDEORITE, VISHOEK. VIND HULLE OP FACEBOOK.