Wonderlus *****
Komedie/drama. Met Edwin van der Walt, Mila Guy en Lea Vivier. Regisseur: Johan Cronjé. Begin op 27 April. 16DTS.

"Ek was nog nooit verlief nie" is ’n frase wat gereeld in Wonderlus opduik. Dis kenmerkend aan dié opspraakwekkende rolprent met sy siniese blik op die liefde.

Waaroor gaan dit?

Pieter (Van die Walt) en sy bruid (Guy) is ’n jong en naïewe bruidspaar vir wie die troue soos ’n veilige besluit voel. Dit is ’n kans om van die verlede weg te hardloop en dit laat die onseker toekoms 'n bietjie minder onseker lyk.

Hul idees word dié aand omvergegooi met die koms van ou liefdes en nuwe kennisse.

Die volgende oggend moet die karakters probeer uitpluis wat gebeur het en besluit hoe om die gevolge van hul optrede te verwerk. 

Is dit goed?

Die storie word met terugflitse tussen die hede en verlede vertel. Dit beteken die leidrade ontvou vir die kyker saam met die karakters. Dit maak die fliek besonders boeiend.

Dit bied ook ’n heerlike balans tussen drama en komedie en is vol vlymskerp dialoog en uitstekende spel. 

Talle jong mense sal hulself en hul vriende in die karakters herken; of dit nou die windmakerige ekstrovert is wat altyd die middelpunt van aandag is (Beer Adriaanse) of daardie paartjie wat altyd baklei (Simoné Nortmann en Stiaan Smith).

Dit is ’n spieël vir Millenniërs en lê die ontnugterende mynveld van moderne liefde bloot.

Wonderlus is ’n vars bries vir die Afrikaanse rolprentbedryf omdat dit van die soetsappige uitbeeldings van die liefde wegskrum wat so kenmerkend geraak het aan Afrikaanse flieks.

Dit is ook ’n spieël vir Millenniërs en lê die ontnugterende mynveld van moderne liefde bloot. Elkeen wat al by ’n troue was en met die warboel emosies gestoei het wat dit kan ontketen, sal kan saampraat.

Dié fliek bring die kyker in voeling met ’n generasie wat desperaat op soek is na iets egs in ’n wêreld waar alles so vinnig gebeur dat elke nuwe ervaring meer vlietend voel as die laaste. 

Ons sien en ervaar die kontrasterende soeke na stabiliteit sowel as ontsnapping wat elkeen as jong mens ken of al geken het. Dit maak Wonderlus ’n rolprent waarmee almal hulle sal kan identifiseer.

Wees gewaarsku: Die fliek bevat seks en sterk taalgebruik.

  • Nog ’n resensie deur Michelle Nortje verskyn in Huisgenoot se uitgawe van 10 Mei 2018.