Lyfskap: Erotiese kortverhale
Lyfskap is beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Lyfskap is beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Saamgestel deur Sophia Kapp en ­Leonie van Rensburg (Lapa, R250)

“Ná 39 jaar in die boekbedryf weet ek niks prikkel lesers soveel soos ’n bundel erotiese kortverhale nie.” So sê Leonie van Rensburg, eienaar van Graffiti Boeke in Pretoria.

En dit was die begin van Lyfskap met sy 25 verhale wat nie almal deur mense onder 18 gelees behoort te word nie.

Leonie vertel: “Ek het verskeie skrywers genader om ’n storie te skryf. Die kortverhale het ingestroom. Ek het besef ek benodig ’n ervare hand om te help met die keuringsproses en het Sophia Kapp, skrywer en taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, gevra of sy sal help.”

Leonie van Rensburg.
Leonie van Rensburg.

Nie al die skrywers het ja gesê nie. Deon Meyer het laat weet: “Ek sou graag wou skryf, maar Bennie Griessel hou my te besig.”

Madelein Rust het laat weet sy probeer skryf, maar haar karakters kom net nie aan die vry nie!

Hoewel mens Bennie verkwalik dat hy die stok in Deon se speke was, steek Lyfskap die pit van die opsitkers lekker aan die brand. Ons gesels met van die bydraers.

Frederik de Jager

Frederik de Jager
Frederik de Jager.

Watter raad het jy vir skrywers oor die aanpak van ’n erotiese verhaal?

Gee jou verbeelding vrye teuels, maar skryf met selfbeheersing. Hoe beter die verhaal bloot as verhaal slaag – hoe meer gelaag en gelade dit is en hoe subtieler – hoe ’n beter erotiese verhaal sal dit wees. Pornografie is vervelig, maar erotika boei.

Wat as ’n skrywer sê hulle kan nie, want dit laat hulle blootgestel voel?

Jy skep ’n verhaalwerklikheid wat buite jouself staan. Wat in die verhaal is, is nie jy nie, al neem jy elemente daarvan uit jou eie lewe. Ek glo nie die gevoel van blootstelling is in wese anders as die blootstelling wat alle skrywers voel wanneer hulle iets rou en eg vanuit hul eie dieptes geskep het nie.

Watter perke is daar vir ’n erotiese verhaal?

Daar is nie ander perke aan erotiese fiksie as aan elke ander vorm van volwasse fiksie nie. Iewers is daar ’n morele grens, maar dié is haas nie vas te pen nie omdat waardes in die samelewing heeltyd aan die verskuif is.

Daar is wel perke van goeie literêre oordeel, soos wat die Bad Sex in Fiction Award van die Literary Review jaarliks uitwys. Dit is wanneer beskrywings van seks eenvoudig te oordrewe en laf is.

Jean-Pierre de Kock

Jean-Pierre de Kock.
Jean-Pierre de Kock.

Was dit vir jou blootstellend om ’n erotiese verhaal te skryf?

As skrywer probeer ek myself deurgaans uitdaag om in verskillende genres te kan skryf. Toe ek gevra is om ’n verhaal vir die bundel voor te lê was dit vir my meer geleentheid as verleentheid.

Hoekom het jy ‘Die niggie’ in ’n outydse sfeer laat afspeel?

Ek weet eintlik glad nie hoe die proses my tot by vanmelewe geneem het nie. Dalk is dit meer waarskynlik dat die verhaal sou kon afspeel in die tyd waarin dit geskryf is?

Of dalk was dit ’n natuurlike manier om afstand tussen my en die karakters te kry en so meer vryheid te hê met die erotiese opdrag.

Celesté Fritze

Celesté Fritze.
Celesté Fritze.

Jou hoofkarakters is ligjare ver van verskeie stereotipes, onder meer dié oor lesbiërs en oor ras.

Mbali en Antonie ontmoet mekaar in die geïntegreerde opset van ’n universiteitsdorp in die vroeë 2000’s waar gay en interrasverhoudings kwalik vreemd is.

Die fisieke aantrekkingskrag skep eerder ’n morele dilemma. Mbali (16) is immers die dogter van prof. Kgiso Malindi, Antonie (22) se studieleier in die regsfakulteit.

’n Dekade of wat later loop dié twee bevryde vroue mekaar weer “per ongeluk” raak, al twee in uitdagende beroepe en lewensomstandig­hede.

Te midde van die erotiese voltrekking van die verhouding weerklink daar steeds sterk taboes uit die verlede. 

Sophia Kapp

Sophia Kapp.
Sophia Kapp.

Jy skryf Hades soos ’n kenner van erotika. Is dit waar?

Ek het nog nooit tevore erotika geskryf nie, en ek het dit ook nog nooit eintlik gelees nie. Ek is ’n romantikus – ek hou van stomend, maar dinge moet binne ’n verhouding stoom.

Ek het nog nooit van tref-en-trap-seks gehou nie. Hades was vir my ’n groot kopskuif.

Wat was die prikkeling vir jou verhaal?

Leonie het met die idee van ’n bundel erotiese kortverhale vorendag gekom en my gevra om ’n verhaal te skryf.
Ek hou daarvan om die grense van my gekose genre (romantiese fiksie) te druk, en dit het na ’n goeie leerskool gelyk. Dit wás – ek het die verhaal omtrent agt keer oorgeskryf!

FOTO'S: SUE CHARLTON, ZELNA COETZEE, DOUW STEYN, ALBERT BREDENHANN VAN PIXELPRO, JEAN-PIERRE DE KOCK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe