Wie sou ’n paar maande gelede kon dink dat wyn tot onlangs toe verbode sou wees of dat rokers soos misdadigers in stegies met skimme sou onderhandel om hul twakkies te koop. En, nog erger, dat ons almal weke lank tot ons huise beperk sou word en ’n onsigbare nuwe virus sou vrees.

As jy verlede jaar hierdie tyd vir een van jou naastes gesê het jy voorspel ’n pandemie gaan die ganse wêreld op sy kop keer, sou hy dalk met ’n snorklag vir jou gesê het dit klink vreemder as fiksie. Maar toe tref die coronavirus en die siekte COVID-19 ons, en nou voel ons lewens tydens die inperking soos iets uit ’n distopiese roman.

Huisgenoot het drie Afrikaanse top­skrywers gevra om elk ’n nuwe kort­verhaal te skryf wat aansluit by die onwerklike omstandighede waarin ons almal ons tans bevind. Want deesdae ís die werklikheid so vreemd soos fiksie, en wie kan dit beter verwoord as ons voorste skrywers.

Hier is hul kortverhale, spesiaal vir Huisgenoot geskryf.

DIE TESTAMENT
Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg. Foto: Facebook
Rudie van Rensburg. Foto: Facebook

Albertus loer by die deur uit. In die verte pluim donker wolke die lug in. Die wind wat plotseling opgekom het, pluk met sterk, onstuimige vlae aan die dak. Hy maak die deur toe. Hierdie virus het die planeet op sy kop gekeer. Die wind het nog nooit só in Mei getier nie.

Dan eers sien hy die papiertjie op die vloer. Hy tel dit steunend op. ’n Nota van suster Jacobs dat sy hom later vanoggend kom besoek. Natuurlik gedink hy slaap nog toe sy vroegoggend hier by sy huis verbygekom het op pad na die kliniek. Albertus frons. Hy weet wat sy vir hom gaan sê. Hy sal net volstrek weier. Hy blaas g’n sy laaste asem in ’n hospitaal uit nie.

Op pad badkamer toe moet hy eers in die gang stilstaan. Die hoesbui trek hom krom en sy asem ruk by sy keel uit. Sy bors brand toe hy orent kom.
In die badkamer beskou hy homself in die spieël. Die virus het sy stempel op sy gesig nagelaat.

Sy wange is ingesonke, donker kringe onder sy oë. Hy maak die kraan oop, hou ’n bakhand en spoel die water oor sy voorkop. Dit loop kronkelend in sy vel se leivore teen sy wange af. Oplaas skeur hy sy oë los van sy spieëlbeeld en vee sy gesig droog. ’n Kort, krampagtige intrekking van sy asem lui nog ’n hoesbui in.

Met gekromde skouers stap hy kuggend kamer toe en syg op die bed neer. Die virus takel hom nou teen ’n spoed af. Elke vesel in sy liggaam pyn.

Met ’n uitgestrekte hand haal hy die vel papier van sy bedkassie af. Gelukkig het hy gisteraand al sy testament uitgeskryf. Hy lees dit weer deur. As oujongkêrel het hy nie familielede of goeie vriende vir wie hy meevallers kan uitdeel nie. Hy moes hard dink hoe sy erflating aangewend moet word.

glimlag. Ná sy dood sal hy eindelik erkenning kry. Hy sal nie bloot as die nukkerige ou kluisenaar onthou word nie. Mense sal verbaas staan oor sy mededeelsaamheid. Die nuus behoort die voorblad van die Record te haal. Hy hoop hulle gebruik daai foto van hom toe hy in die 1980’s ’n skou­beoordelaar was. Toe was hy nog glad van vel en met ’n vag pikswart hare.

Albertus kyk weer vlugtig na die handgeskrewe testament: ’n paar duisend rand vir die munisipaliteit om die slaggate in die hoofpad mee te herstel; geld vir die skool om gras op die rugbyveld aan te plant; ’n bydrae vir die posduifklub om hul gehawende geboutjie op te knap; ’n paar rand vir nuwe sitplekke in die kliniek se wag­kamer; en . . .

Hy sit die vel papier vinnig terug op die bedkassie toe hy hoor hoe suster Jacobs haar kenmerkende drie kloppe gee en die voordeur oopmaak. Hy gooi hom toe met ’n kombers en druk ’n hoesie uit.

Ademloos luister hy na haar naderende voetstappe op die plankvloer.

Sy gaan staan in die deur, haal die masker van haar gesig af en glimlag breed.

“Het ek nou vandag goeie nuus vir Oom!”

“Wat sal dit nogal wees?” vra hy stuurs.

“Oom se coronatoets is negatief. Présies soos ek voorspel het.”

“Dit moet ’n helse fout wees!” roep hy ontsteld uit. “Ek hoes my vrek.”

gee ’n laggie. “Dis maar dieselfde ou rokershoesie van altyd, Oom. En Oom het geen van die ander simptome nie.”

Sy stap nader en kyk met skrefieoë na die vel papier. “Is dit al wéér ’n testament?”
Hy knik teësinnig.

“Ek neem aan dit vervang al die voriges wat Oom in die verlede opgestel het?” vra sy met deernis in haar stem.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • Rudie van Rensburg is die skrywer van onder meer die gewilde Kassie Kasselman-­spanningromanreeks. Dié reeks sluit in Medusa, Ys, KamikazE, Pirana, JudaskUs, Kopskoot en Slagyster. Sy jongste boek, Vloek, is einde verlede jaar bekendgestel.

VLIEGTUIGSTREPE
Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse.
Wilna Adriaanse.

Lea klim van haar daktent af, strek haarself lank uit. Sy kyk op in die lug. Blou so ver die oog kan sien. Sy verstaan dit nie. Dit is al langer as ’n week dat sy geen vliegtuie gewaar nie. Die wit strepe in die lug was vir haar ’n bewys dat die bekende wêreld steeds draai. Dis net sy wat vir ’n oomblik afgeklim het.

Sy het vir elke vlug se passasiers stories uitgedink, ’n bestemming verbeel. Op elke vlug was minstens een persoon wie se lewe ook uitmekaargeruk is. Dit het getroos.

Die oggend toe sy van die huis af weg is, het sy nie ’n plan gehad nie. Sy het net gery. Nou sit sy in die middel van die Sentraal-­Kalahari in Botswana, omring van lug en horison. Dalk moes hulle nie altyd berge toe gegaan het nie. Dalk moes hulle soms op ’n vlakte gaan sit het, waar ’n mens alkant toe kan kyk en vliegtuigstrepe met jou praat.

Daar is geen logiese rede waarom die strepe weg is nie.

Sy maak ’n blikkie geroomde mielies oop en skep ’n bietjie op ’n kraakbeskuitjie.

Gedurende die twee maande wat sy hier kamp, was hier nie baie ander kampeerders nie, maar sy het darem elke week iemand gesien. Soms het hulle net verbygery. Ander kere ’n nag of drie naby haar gekamp. Sommige het vir haar van hul vars produkte gegee. Noudat sy daaraan dink, kan sy nie onthou wanneer laas sy ’n voertuig of mense gesien het nie.

Het die vliegtuie en die voertuie op dieselfde tyd verdwyn?

Dalk moet haar volgende boek ’n verhaal wees oor ’n vrou wat een oggend in ’n post-­apokaliptiese wêreld wakker word en nie besef sy is die enigste mens op aarde oor nie. Sy twyfel nog oor die bestaan van ruimte­wesens, maar iets anders kan dalk die mense uitgewis het.

Wetenskaplikes waarsku al lank teen die wangebruik van antibiotika. Dit veroorsaak blykbaar superkieme. Sy glimlag toe sy wonder wat haar uitgewer sal sê.

Die aand in die tent dink sy weer aan haar distopiese verhaal. Dis tyd om huis toe te gaan. Haar verbeelding werk weer. Sy kan haarself terug in haar bekende wêreld sien. Sy voel selfs sterk genoeg om haarself op een van daardie stralervliegtuie te verbeel. Italië was nog altyd op haar wenslys.

Sy vertrek die volgende môre voor sonopkoms. Die pad is verbasend stil. Selfs op die teerpad gewaar sy geen ander voertuie nie.

Toe sy heelwat later ’n man op ’n fiets gewaar, stop sy byna om hom te omhels. Sy is toe nie die laaste een oor nie.

Dis laatmiddag toe sy die dorp binnery. Hier en daar ry ’n motor. Die bestuurders dra gesigmaskers. ’n Paar mense stap langs die straat. Net hul oë is sigbaar agter gesigmaskers.

Teen die deur van ’n gastehuis sê ’n plakkaat dis gesluit vir besigheid. By elke oornagplek waar sy stop, wag dieselfde boodskap. Sover sy kan sien, is net ’n kruidenierswinkel oop.

Sy stop en stap na waar mense in ’n ry voor die winkel staan. Almal is gemasker. Toe sy nader kom, sien sy hulle is gespasieer, elkeen op ’n kruis op die sypaadjie. ’n Werker van die winkel stap in die ry af en spuit die een of ander middel op almal se hande nadat hul temperatuur gemeet is.

Wat is op hierdie dorp aan die gang? Waaraan het haar verbeelding onwetenddie lewe geskenk, en hoe ver strek die gevolge van die apokalips?

Het sy te lank stilgestaan en ’n ander wêreld het haar ingehaal?

Wat het van die vliegtuie geword?

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • Wilna Adriaanse is die skrywer van onder meer Dubbelspel, ’n Klein lewe, Vier seisoene kind, Die boek van Ester en Met ander woorde. Haar jongste Afrikaanse boek, Eindspel, het in 2017 verskyn.

DIE DAGBOEK VAN ADRIANA COETZEE
Irma Joubert

Irma Joubert.
Irma Joubert.

Ouma laat sak haar breiwerk. “Waarom kyk my poplap so kwaai na haar rekenaar?”
Rien se mond plooi. “Stupid geskiedenis­taak.” En stupid troetelnaampie, maar dit sê sy nie.

“Oor?”

“Elke onnie het mos net een ding op die brein: COVID-19. Nou moet ons in geskiedenis ’n taak doen oor die 1918-griep.”

Ouma begin weer brei. “Jou take is gewoonlik heel kreatief.”

“Ouma, hierdie is alles net datums en getalle en dooie mense en sulke absoluut bôring goed. Sê asseblief net vir my hoe kan ’n mens kreatief raak daaroor?” Rien klap haar rekenaar toe. “En daarby is my kreatiwiteit so ingeperk soos my lyf. Ek háát hierdie lockdown.”

Klik-klik gaan die breipenne. “Dit sal ook wel verbygaan.”

Jggg. Ouma kan ook maar ’n pyn wees, maar darem nie heeltemal so erg soos Ma nie. Eintlik was Ma al die jare redelik oukei, maar vandat Rien ’n tiener geword het, het haar ma en pa totaal verander. Heila se ouers ook. Heeltemal onredelik en sonder enige simpatie geword.

“Wanneer moet jy die taak inlewer?”

“Maandag.”

“Lees vir my wat jy tot dusver geskryf het.”

Rien sug en slaan weer haar rekenaar oop. Sy buig nader om mooi te kan sien.

“Die Groot Griep (hoofletters, hoor) het in 1917 uitgebreek en onrusbarend vinnig versprei deur die hele wêreld. In Suid-Afrika sterf 300 000 mense uit ’n bevolking van 6 miljoen. Dit het ’n onuitwisbare invloed gehad op die demografiese, sosiale, ekonomiese en mediese karakter van die hele . . .”

“Dis nie jou woorde daardie nie, Poplap.”

Hoe weet Ouma dit? “Oukei, nee. Wiki­pedia.”

“Skryf jou eie ding.”

“Ag, Ouma. Eintlik worry ek nie wat ek neerskryf nie. Ek cut ’n’ paste net eers alles en dan verander ek die woorde bietjie. Solank die taak net klaarkom.”

Ouma staan op en stap uit. Waarskynlik gaan sy tee maak. Dis Ouma se kuur vir alles.
Rien begin solank met haar wiskunde. Miskien gebeur die kreatiewe wonderwerk so tussen die berekeninge deur.

Toe Ouma terugkom met die beker tee, sit sy ook outydse skryfboekie langs Rien se rekenaar neer.

“Wat’s dit?”

“Dit kom uit die Groot Griep-tyd. Jy kan ­later kyk. Drink jou tee.”

Net voor slapenstyd trek Rien die boekie nader. Sy bekyk die ding skepties. Miskien moet sy dit eers ontsmet. Sê nou daar sit ’n Groot Griep-kiem êrens vas?

Eintlik is sy te lui om nou uit die warm bed op te staan. Sy sal net nie aan haar gesig raak nie.

Die boekie in haar hand is al effe verbleik, maar verder lyk dit nog heel goed vir ’n ding wat al 100 jaar oud is.

Sy vou die boekie oop.

Dagboek van Adriana Coetzee
Deel 5

6 Januarie 1920

Niks is meer dieselfde vandat ons stad toe gekom het nie. Moeder sê ons moet vir Vader tyd gee. Hy voel vasgekeer in die myn. En hy verlang terug plaas toe. Elke dag.
So gaan dit al drie jaar lank aan.

As ek 16 is, gaan ek in Garlick’s werk. Of trou. Nie dat ek lus voel om te trou nie. Maar enigiets sal beter wees as hierdie huis.

Dis te sê as ek ooit ’n man kry met hierdie knoffelsak om my nek. Niémand dra meer knoffelsakkies nie. Maar Vader glo dit hou die Groot Griep weg. So sy 13-jarige dogter ruik soos Mr. Ismael se winkel op die hoek.

Rien gaap en blaai ’n paar blaaie verder. Hierdie Adriana Coetzee het regtig outydse taal gebruik en sy skryf soos ’n krap. ’n Skeel krap.

Die dagboek word ál interessanter. Soms skryf Adriana lang stukke; sommige dae net een sin.

26 Maart 1920

Hannie is siek. Groot Griep. Dis ver­skriklik. Vader sê dis omdat sy nie ’n knoffelsakkie dra nie. Miskien is dit.

By die knoffelsak moet ek nou ook skool toe ’n lap oor my gesig dra. ’n Mens weet nooit wie almal aangesteek het by Hannie nie. Ek sal waarskynlik sterf van knoffel­versmoring eerder as van die Groot Griep.

Niemand mag vir Hannie gaan kuier nie.

30 Maart 1920

Ek is siek. Nie baie nie, maar ek moet in die bed bly. Dis erg vervelig. Wanneer Moeder my kos bring, sit sy dit net by die deur neer. Haar hele gesig is toegedraai met ’n lap; net haar oë steek uit.

Die huis stink na die kruietee wat heeldag op die stoof prut.

Vader is kwaad omdat Hannie my aan­gesteek het. Hy wil vir niemand sê ek is siek nie, want dan mag hy nie gaan werk nie. Ons het die geld nodig.

6 April 1920

Moeder is siek. Gelukkig is ek beter. Ek het sop gekook vir aandete, want dis al wat ek kan kook. Ek haat kook.

Vandag was Van Riebeeckdag. Dis al waaroor Vader vandag kon praat. Ek het vrede met Jan van Riebeeck.

Ek hoop Moeder word gou beter.

10 April 1920

Mamma is baie siek. Ant ­Dulsie het kruie gebring. Sy sê Vader moet die dokter laat kom. Maar dit kos geld. Vader wil nie geld mors nie.

16 April

Die begrafnis was vandag.

Rien sit lank stil. Dis die laaste inskrywing. Die boekie is nie eens halfpad vol nie, maar dis waar dit stop. Net so skielik.

Lank nadat sy die lig afgeskakel het, draai die woorde nog in haar kop. Die woorde word prentjies en bewegings, amper soos in ’n fliek. ’n Nare fliek. Miskien moet sy vir haarself ’n glas heuningmelk gaan maak. Dis haar ma se op­lossing vir ’n nagmerrie.

Hierdie is nie net ’n nagmerrie nie. Dit was regtig.

In die gang sien sy Ouma se kamerlig brand nog. Sy klop saggies en stoot die deur oop. Ouma sit haar Bybel eenkant neer en vou die verekombers oop.

“Inklim?”

Sy krul op teen Ouma se warm lyf. Lewendig-warm.  

“Sê nou Mamma kry die COVID-­19? Of Pa? Of . . . Ouma?” Want Ouma is al oor 80.

“Dis hoekom ons in die huis moet bly, my poplap.”

Seker maar.

“Ek weet nou hoe ek my taak wil doen.”

Stilte. Ouma bly oor haar hare streel.

“Ouma, wie was Adriana?”

“My ma. Ek het haar naam; jy ook.”

Rien knik. “Haar ma het doodgegaan.”

Streel-streel.

“Wat het daarna met Adriana gebeur, Ouma?”

Sy antwoord nie dadelik nie.

“Sê eers vir my wat jy met jou geskiedenistaak wil doen.”

Rien trek haar neus op ’n plooi. “Ek gaan Adriana se dagboek skryf. Net nog met al daardie bôring feite tussenin ook, anders lê ou Fossiel weer 10 eiers.”

As dit Pa of Ma was, sou hulle gesê het sy moet meer respek vir haar onderwysers hê. Maar Ouma is nogal cool. Soms.

“Ek hoop Adriana het goeie werk gekry sodat sy nooit hoef te getrou het en kos gemaak het nie.”

lag saggies. “Dan sou ek en jy nie hier gewees het nie.”

Nooit daaraan gedink nie. Amper vermoor sy haar hele familie.

“Gebruik eerder jou einde, Poplap,” sê Ouma sag. “Dis jou taak; nie Adriana s’n nie.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

  • Irma Joubert is die skrywer van onder meer die trilogieë Ver wink die suiderkruis, Tussen Stasies en Tolbos asook Anderkant Pontenilo, Pérsomi en Kronkelpad. Haar jongste boek is Mentje: Kind van Pas-Opkamp, wat in 2017 verskyn het.”
FOTO'S: FACEBOOK/WILNA ADRIAANSE, FACEBOOK/RUDIE VAN RENSBURG, FACEBOOK/IRMA JOUBERT, UNDRAW