‘Ja, Meneer. Sekerlik, Meneer,” mimiek Lottie haar eie onderdanige woorde van twee minute vroeër in TG Jordaan se kantoor terwyl sy met die bondel bouplanne die gang afstap.

“Dankie, U Hoogheid!” voeg sy wrewelrig by toe sy haar kantoordeur met die agterkant van haar voet toestamp en die rolle op haar lessenaar neersmyt. Is dit dan nodig vir die man om altyd so saaklik te wees, so byna hoogmoedig?

Daar is minstens vyf rolle argiteksplanne wat by die drukkers afgelewer moet word en voor sluitingstyd op “Sy Hoogheid” se tafel moet lê vir die finale vergadering met die bouer môre. Lottie weet dis ’n feit soos ’n koei dat hierdie dag lank gaan word. Sy voel oorweldig, belas. Verstaan die man dan nie dat sy maar net ’n mens is nie?

Haar vermoëns het hul beperkings. As die man net iemand anders was, sou sy lankal haar handsak gevat en geloop het, maar nou is dit TG Jordaan, bekende argitek, die man met die blouste oë suid van die ewenaar. Van daardie dag toe sy oorkant hom gesit het vir haar werkonderhoud, het Lottie geweet hier kom moeilikheid.

Al was hy saaklik, kon sy tog ’n glinstering in daardie blou oë raaksien. Oë wat ’n warmte en genaakbaarheid uitstraal wat haar onmiddellik op haar gemak gestel en haar voete netjies onder haar uitgeslaan het.

Haar reaksie het haar verstom, want sy was nie meer ’n kuiken nie. In die afgelope paar jaar het sy haarself goed gevestig as ’n persoon wat met gedrewenheid na die lewe kyk. Sy was heel tevrede met haar eie geselskap. Haar sin vir onafhanklikheid was goed ontwikkel.

Maar hier was nou ’n man wie se mooi stel tande en breë mond hom ’n amperse filmstervoorkoms gegee het – en dit benewens sy uitmuntende reputasie as ’n argitek. Die blote idee om soggens op kantoor te kom en haar werkdag met so ’n bekwame man te deel het haar daardie dag dalk ’n bietjie laat kop verloor.

Sy’t nie twee maal gedink toe die werk vir haar aangebied is nie. Haar oog vir uitlegte was nog altyd deel van haar sukses, en om te organiseer is haar forte.

Oor haar rekenaarvaardighede was daar geen twyfel nie, die geld was goed en die vooruitsigte nog beter. Die vroeë grys aan sy slape het verklap dat hy heel moontlik die soort mens is wat homself nie spaar nie. ’n Perfeksionis. Sy sou moes uithaal en wys, maar sy’t gehou van uitdagings.

“ ’n Mens se werk behoort jou trots te wees, en vir ’n argitek is die produk wat hy lewer sy advertensie. Sy monument. Dis die baken wat bly staan lank nadat hy reeds weg is.”

Sy onthou sy woorde soos gister.

Nou werk sy reeds ’n jaar en ’n half by Jordaan Argitekte, en aan lojaliteit en toewyding het sy sedertdien nog nooit ontbreek nie. Sy is soggens die eerste persoon op kantoor en dikwels die laaste om saans die deur agter haar toe te sluit.

TG kan haar ten volle vertrou en op haar staatmaak. Nahaar voorkoms kan niemand ’n vinger wys nie.

Inteendeel, ’n groot deel van haar salaris gaan maandeliks vir sinvolle en praktiese maar ook modieuse uitrustings, om van haar skoene nie te praat nie. Jy kan Lottie dag ná dag deur ’n ring trek.

Kliënte vind ook gou byval by haar vermoë om mense se name te memoriseer. Sy is beslis ’n aanwins vir die praktyk. Maar wat anders het sy om vir haar toewyding te wys as ’n dreigende maagseer en ’n konstante knop in haar ingewande?

TG laai haar daagliks met meer pligte, want hy weet sy kan raak vat.

Van die vooruitsig om daagliks in die aantreklike TG Jordaan vas te kyk het oor tyd vere gekom. Die man was óf iewers op ’n bouperseel óf in ’n vergadering óf op pad oorsee vir die een of ander konferensie of prys. Al wat sy by sy reise baat gevind het, was die parfuum wat altyd agterna smaakvol toegedraai op haar lessenaar geland het.

Yves Saint Laurent se Rive Gauche, Estée Lauder se Beautiful, die een so duur soos die ander . . . Maar sy sou hulle enige dag inruil vir ’n kersligete saam met hom in ’n restaurant iewers teen die berg met die son wat stadig oor die Atlantiese Oseaan sak. Van dag een was die afwesigheid van ’n ring aan sy vinger en geen foto van ’n geliefde of ’n liefdevolle gesinnetjie op sy lessenaar nie ’n duidelike bewys daarvan dat hy nog enkellopend was.

’n Foto teen sy kantoormuur van homself en ’n schnauzer styf teenmekaar op ’n bank het daardie moontlikheid bevestig. Die wind gooi haar kapsel in trurat toe sy laatmiddag by die drukkers indraf terwyl sy magteloos spook om met die rolle planne in haar arms die deur toegedruk te kry. Sy herken dadelik sy stem.

“My liewe aarde, Lottie, as ek vanoggend geweet het ek kom hierlangs, kon ek ook maar die planne gebring het,” sê die mooi mond met die perfekte stel tande wat sy net-net deur haar deurmekaar hare kan uitmaak. TG se blou oë lag simpatiek met haar toe hy haar van die planne verlos.

Al wat vir hom tel, is berekeninge wat bouplanne word en in geboue verander

Vervaard druk sy al 10 vingers van haar leë hande deur haar kapsel en sy sluk.

“Dit was tog deel van my opdragte vir die dag.”

En byna voeg sy “U Majesteit” by.

“Toemaar, gaan jy maar. Ek sal wag vir die planne.”

Geen “totsiens, sien jou môre” of “lekker aand” nie. Soos gewoonlik sal sy net vir Milo, haar rifrug, vir geselskap hê. Toe sy omdraai en uitstap, kan sy sy oë op haar voel brand.

Toe sy Vrydagoggend instap, hang die geur van vars koffie reeds swaar in die kantoor. Naby die venster staan die heer en meester by sy ontwerptafel. Sy mooi kunstenaarshande maak nog hier en daar ’n kantaantekening op die bouplan voor hy opkyk. “Goeiemôre; jy’s vroeg,” groet TG haar.

“Dis maar die gewone tyd wat ek inkom,” antwoord sy en byt die res van haar teregwysende sin net daar af.

Leef die man dan op ’n ander planeet?

Toe tref dit Lottie dat TG haar beslis nie as ’n potensiële maat raaksien nie. Hy’s getroud met sy werk!

Al wat vir hom tel, is berekeninge wat bouplanne word op papier en eindelik in geboue verander en hom bekendheid besorg. En wie is sy, Lieselotte, om teen ambisie te baklei?

“Ek wil hê jy moet vanoggend by wees, Lottie. Hierdie kliënt is ’n moeilike man en jy sal hom in toom kan hou met jou insette. Hy’s nogal vol idees oor hoe hy sy uitleg sien. Kom help, asseblief.”

Sy draai om toe die deurklokkie lui en laat die bouer en die eienaar van die voorgenome winkelkompleks binne. Die bouer groet vriendelik en stap verby, maar die kliënt hou haar hand net ’n bietjie te lank vas.

“En waar steek jy nog heeltyd hierdie aanvallige dame weg, TG? Noem my asseblief Tersius, Juffrou.”

Lottie wil haarself nog voorstel toe TG haar voorspring.

“Jammer, Tersius. Sy’s nie beskikbaar nie. Maar kom staan nader.”

Voor sy omdraai om die skinkbord met koffie te gaan haal, merk sy ’n ongewone gesteurdheid in TG se houding. Kan dit wees dat sy kliënt se familiariteit hom effens ontsenu?

Tersius bly staan naby haar.

“Ek hou van jou voorstel, Lottie, dat ons hierdie muur so effens skuif vir meer vloerruimte. Terselfdertyd kan . . .”

“Dis fyner details vir later, Tersius,” val TG hom met ’n ongewone skerpheid in die rede, wat Lottie verbaas. Maar Tersius laat hom nie van stryk bring nie.

“TG, ek moet jou komplimenteer. Dis weer ’n goeie stukkie werk. Ek dink dit moet gevier word. Hoe lyk dit? Tafel vir vier vanaand? Daar is ’n oulike eetplek in Seepunt.”

“Dis gaaf van jou, Tersius, maar ek het reeds planne,” sê TG.

“Wat van jou, Lottie? Dis ’n seekosrestaurant, as dit reg is met jou?”

“Dankie vir die uitnodiging, Meneer. Ek . . .”

TG kyk haar deurdringend aan oor die oopgerolde bouplan, en Lottie voel hoe ’n warm gloed in haar nek opstuif. Sy stem kom afgemete en skerp.

“Jy sien, Tersius, Lottie is reeds getroud!”

Lottie se mond val oop en sy kyk TG vraend aan. Van wanneer af het hy besluit sy’s getroud? Toe die kliënt en die bouer later vertrek, kom staan hy voor haar.

“Jammer, Lottie, dat ek moes inmeng, maar daardie man het ’n reputasie wat vroue betref.”

“Ek kán na myself kyk,” verweer Lottie. “Ek doen dit nog al die jare. Maar waar kom jy daaraan dat ek getroud is?” “En die ring?”

“Dit het aan my ma behoort.” “So, dis nie . . .” “Nee, dis nie ’n trouring nie.”

Sy blou oë verdiep toe hy voor Lottie kom staan. Sy stem is sag en innig.

“Dis die beste nuus ooit. Vir die afgelope jaar en ’n half wroeg ek met gevoelens vir jou wat ek probeer wegsteek deur myself in my werk te begrawe.” Hy neem haar hande in syne en trek haar nader.

“Die enigste troos was die geur van jou parfuum wanneer jy in my kantoor was. Dan was jy langer hier by my.”

“Danksy Tersius weet jy nou van beter,” sug sy met ’n hart wat in haar keel klop. Met sy lippe teen haar oor kom die uitnodiging waarop sy al so lank wag.

“Hoe lyk dit? Tafel vir twee by daardie restaurant teen die berg?”