Jana haal haar selfoon uit, bewus van die grondboontjieverkoper wat vir haar staan en grinnik. Daar is niks meer vernederend as om vir ’n toeris in jou eie stad aangesien te word nie.

“Ek het nog nooit so ’n eekhoring gesien nie,” verduidelik sy en beduie na die boom waar die wolstert ewe rats met die stam opklouter. Met sy spierwit pels lyk hy soos ’n harige spokie teen die donker bas.

“Daai een – sy naam is Oupoot,” sê die ouerige man met die mandjie vol grondboontjiesakkies.

“Oupoot,” herhaal sy, geamuseerd. Die naam behoort eerder aan ’n reuse-olifant in die Knysnabos.

“Hulle sê dit is good luck om hom te sien.”

Ek het dit nodig, dink Jana. Sy was op pad na haar eerste afspraak sedert ’n vorige verhouding verbreek is. Sy was so op haar senuwees dat sy heeltemal te vroeg opgedaag het. Boonop voel sy asof sy hopeloos te gemaklik aangetrek is in haar skouerbroek en ontwerper-sneakers. Nou loop sy maar ’n bietjie in die Tuine hier onder Tafelberg rond om tyd te verspeel.

Sy wil nie oorgretig lyk nie. Mans kan desperaatheid ’n myl ver ruik, sê haar vriendin Robyn altyd. Dis juis sy wat vir Jana die koffie-afspraak gereël het met een van die prokureurs by haar regsfirma. Volgens haar vriendin kort sy nie nog ’n verloorder wat homself op 30-jarige ouderdom moet gaan vind nie.

Die grondboontjieverkoper grinnik steeds met afwagting in haar rigting en met ’n sug gee sy toe. “Hoeveel vir ’n pakkie?” Sy wonder of ’n mens die noodlot kan omkoop. Dit kan seker nie seermaak om te probeer nie. 

“Dis R10, mevrou.”

Jana haal haar beursie uit en begin vir kleingeld rondsoek. Skielik voel sy ’n harde pluk aan haar hand en hoor sy hoe vinnige voetstappe weg van haar af verdwyn. “My beursie . . . ,” sê sy, verbaas. Toe skree sy: “Help!”

Dis te laat. Die man het reeds halfpad met die laning afgehardloop. Sy kyk verward rond of sy die neongroen baadjie van ’n sekuriteitswag van die stadsverbeteringsdistrik sien. Hulle is gewoonlik op elke hoek in Kaapstad se middestad te vind.

“Help!” skree sy weer. Die rumoer moes wel ’n wag se aandag getrek het. Hy kom skielik aangedraf, met ’n handradio wat in sy palm blêr. “Wat is fout?”

“Daar was ’n dief. Hy het my beursie gegryp.” Sy wys na die laning waar die grypdief verdwyn het.

“Okei. Wag hier,” beveel die sekuriteitswag en draf weg in die rigting wat sy wys.

Jana kyk hom agterna, onseker wat om te doen. Sy kyk rond of sy die eekhoring sien, maar hy is nêrens te sien nie. Sy is alleen en haar harige gelukbringer het haar nou waarlik verlaat. Nie dat hy sy kant gebring het nie!

“Alles oukei?” vra ’n manstem agter haar. 

“Nee,” mompel sy, steeds half-deurmekaar. “Iemand het my beursie gegryp.”

Die volle implikasie van haar woorde tref haar. Wat ’n administratiewe nagmerrie! Sy sal al haar kaarte moet vervang. Sy begin ’n lysie in haar kop maak. Ten minste is haar MacBook veilig in die ontwerpateljee.

Haar gedagtes moes op haar gesig gewys het. “Kom sit gou,” sê die vreemdeling gaaf en stuur haar saggies tot by een van ’n handjievol tafels wat rondom ’n eikeboom gerangskik is. Onder die boom staan ’n koffiekarretjie met die logo Coffee Bru in heldergeel op die kant geverf.

“Dit gebeur ongelukkig gereeld hier,” sê hy met simpatie in sy bruin oë. Jana sien hom vir die eerste keer behoorlik raak. Sy donker baard laat hom effens ouer lyk, maar daar is niks grys in sy skouerlengte hare nie. Sy skat hom net ’n paar jaar ouer as sy.

“Wat dink jy is die kans dat hulle hom vang?” vra sy.

Die man skud sy kop. “Nie baie goed nie, jammer.”

Sy hou aan om in haar kop ’n lysie te maak van alles wat sy moet doen. Sy sal al haar bankkaarte moet vervang, maar die gimkaart is geen verlies nie.

“Was jou beursie waardevol?”

“Ag, meer sentimenteel. My ouma het vir my die beursie gegee. En dan is daar my lojaliteitskaarte. Ek was een besoek weg van ’n gratis koffie by Daily Grind.”

Sy wenkbroue lig. Hy is duidelik beïndruk met haar keuse van koffiekroeg. “Hmm, nogal  die Daily Grind? Is jy dan ’n koffiesnob?”

“Meer soos ’n verslaafde.”

“Kan ek jou ’n koppie aanbied?” vra hy en beduie na die karretjie agter hom.

“Dankie, maar ek is steeds ’n bietjie bewerig.” Sy hou haar hand op om te wys hoe dit bewe.

“Kafeïenonttrekking maak ’n mens ook so,” sê hy en Jana voel hoe die warmte na haar gesig terugkeer. Voor hulle verder kan praat, staan twee meisies nader aan die koffiekarretjie en hy verskoon hom om hulle te gaan help. 

Die sekuriteitswag kom ’n paar minute later na haar aangestap, en buk vooroor om asem te skep. Hy is duidelik moeg gehardloop.“Wat is die uitslag?” vra Jana, maar sy lees reeds die antwoord op sy gesig.“Hy was te vinnig. Ons kon hom ongelukkig nie inhaal nie. Hulle werk gewoonlik in pare, hierdie diewe, en gee die beursie vir die ander een, wat weer ’n ander rigting inslaan.”

Jana sug. Sy het dit verwag. Hulle ruil nommers uit. Toe die wag weg is, kyk sy na haar horlosie en skrik toe sy die tyd besef. Sy is laat vir haar afspraak!

Die koffie-man kom oorgestap toe sy opstaan. “Reeds op pad?” Hy lyk teleurgesteld. Sy voel gevlei. “Nou is ek laat vir ’n afspraak.”

“Hierso,” sê hy en bied vir haar ’n lojaliteitskaartjie aan. Op die voorkant is die geel logo, met ‘Jacques, the Coffee Bru’ daaronder geskryf. Jana draai die kaartjie om en glimlag. Agterop is tien stempels van ’n koffiebeker gedruk asof sy al soveel keer sy stalletjie besoek het.

“Vir daai gratis koffie. Jy is welkom om dit enige tyd te kom haal.”

Jana glimlag steeds toe sy wegloop. Die grondboontjieverkoper grinnik weer toe sy verby hom stap en wens haar ’n goeie dag verder toe. Hierna kan dit net beter gaan, dink sy en plaas die kaartjie in haar handsak. 

Die tafels van die Tuine-restaurant is reeds deur regslui-tipes beset. Dit neem ’n ruk voor Jana vir Pieter tussen hulle uitken volgens Robyn se beskrywing. Hy lyk formeel in sy donker pak en sy ligte hare is gejel tot perfeksie. Hy het juis die restaurant gekies omdat dit naby aan al die prokureurskantore is.

“Jy’s laat,” groet hy haar.

“Ek is so jammer! Ek is nooit gewoonlik laat nie,” sê sy en verduidelik vinnig van haar beursie se diefstal. Sy blink leerskoen tik-tik ritmies soos ’n metronoom terwyl sy praat. Die kelner kom met ’n spyskaart aangestap net toe sy haar storie voltooi het. “Iets om te drink?” vra hy.

“’n Chai latte, asseblief.” Sy het iets vertroostend nodig. By hierdie man gaan sy dit nie kry nie. ’n Soet chai-drankie laat haar altyd aan Kersfees en koue Europese vakansies dink.

“En ietsie vir jou?” vra sy hom beleefd. Dan sien sy die twee leë koppies koffie voor hom raak. Dit verduidelik dalk hoekom hy so knorrig is, dink sy.

“Nie vir my nie, dankie. Ek moet amper gaan,” sê Pieter ewe belangrik. “Ek het ’n afspraak met ’n kliënt om twee-uur.”

“Watter soort prokureur is jy?” vra sy in ’n poging om hom te paai. Sy wil nie hê hy moet stories oor haar slegte maniere by Robyn aandra nie. Sy sal dalk nooit weer vir haar ’n afspraak reël nie. Hy bring die volgende 15 minute deur deur haar ’n lesing oor die fynere punte van eiendomsreg te gee. Jana is skoon verlig toe die kelner eindelik met haar drankie opdaag. 

Pieter sien sy aankoms as ’n verskoning om hom uit die voete te maak. “Ek moet ongelukkig teruggaan kantoor toe. Dit was aangenaam om jou te ontmoet,” sê hy formeel, asof hy ’n vergadering afsluit.

“Ek sal jou opsoek as ek ooit in die moeilikheid is,” spot Jana, maar hy glimlag skaars vir haar flou grappie. Hy het dit seker al tevore gehoor. Toe hy weg is kyk Jana na haar drankie met teleurstelling. Skielik is sy eerder lus vir ’n koffie.

Jana vermy Robyn die volgende dag. Sy is nie lus om te verduidelik hoe gister se afspraak verloop het nie. Toe haar foon lui en dit is nie haar vriendin nie, is sy dankbaar. Sy herken eers nie die nommer toe dit op haar selfoonskerm flikker nie. Die naamaanwysing kom op en sy antwoord onmiddellik.“Mevrou, ek het goeie nuus. U beursie is gevind,” sê die sekuriteitswag.

Jana kan skaars haar ore glo. “Werklik? Hoe?”

“’n Grondboontjieverkoper het dit kom ingee. Hy het dit in ’n drom in die Tuine gevind.” 

Sy is steeds oorbluf toe sy later die middag haar beursie gaan haal. Sy wonder hoe gereeld dit gebeur dat mense hul verlore eiendom terugkry. Dis seker so skaars soos ’n wit eekhoring. Jammer, Oupoot, dink sy. Dalk het sy die gelukbringer te vroeg geoordeel.

Terug in haar kar maak sy dadelik die rooi beursie oop. Die kontant wat daarin was is nou wel weg, maar al haar kaarte is nog daar. Daar is net een wat ontbreek. Sy haal die kaartjie met die stempels uit haar handsak en sit dit veilig in die beursie. Dis tyd om daai gratis koffie te gaan eis.

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.