Sal ’n mens nie enigiets wil doen om jou kind gelukkig te sien nie, sit en wonder ek waar ek aan my kroos sit en dink. ’n Paar dae gelede verjaar my seuntjie met die sjokoladebruin oë met gewone ballonne wat Pappa laatnag opgeblaas het. Ek het dit stilletjies teen sy bed se kopstuk vasgebind. Wat is ’n verjaardag tog sonder ballonne?

Die geskenke netjies langsaan gepak. Kleinsus noem dit dooie ballonne; dié dat sy gisteraand by ons vriendin se 50ste verjaardagpartytjie kordaat ’n paar heliumballonne vra, want vir haar lyk hulle baie meer lewendig. 

“Tannie, my boetie het óók hierdie week verjaar. Kan ek van die ballonne kry om vir hom te gee?” vra Madre met geen skaam haar op haar kop nie.

Wie sal nou nie gehoor gee aan so ’n smekende versoek nie. Ons stap daar uit met ’n hand vol ballonne. Ballonne wat vreugde én hartseer sou bring.Eers met die wakkerword vanoggend hoor boetie dat sy haar twee ballonne aan hom afstaan. “Petrus, hier is twee ballonne vir jou,” kondig sy dit luidkeels in die tjoepstil huis aan.

Die ballonne bring ure se pret, maar ook stryery. Hulle werk allerhande speletjies uit. Die koppe wat styf teen mekaar konkel. Daar is swart en rooi ballonne. Soms sien mens mos moeilikheid op ’n afstand aankom.

Dit is lente-skoonmaak in die tuin, en met my neus in die grond en gebukkende rug luister ek na die kindergesprekke op die trampolien. Dit klink by tye soos kat en hond tussen boet en sus, en ná die hoeveelste stryery vra ek my tuinkollega, Lukas, uit radeloosheid of hy kinders het.

Ek wil eintlik by die vraag uitkom of syne ook so stry toe hy my in my spore stuit: “Nee, Mevrou.” Hy hark die blare stil bymekaar. En met geen uitdrukking kom die sagte antwoord. “Hulle is oorlede.”“Hulle?” kom die vraag sonder keer oor my lippe. Op agtjarige ouderdom, so oud soos my seun, word sy seun voor die skool doodgery. En twee jaar daarna sterf sy dogtertjie weens ’n lewersiekte, vertel hy.

“Mevrou, dit was ’n vreeslike tyd,” sê hy en gaan voort met die ophark van die blare. Wat sê ’n mens? Ek werk in stilte verder. Verduur die kinders.My man, Hugo, wat die gesprek aangehoor het, vra vir my toe Lukas buite hoorafstand is: “Nou ja, wil jy nog verder kla?” Sonder om twee keer te dink kom die antwoord sommer net. “Nee.”In my kop is daar egter ’n langer gesprek as die kort antwoordjie.

Ek wonder: Besef ons die seer in mense rondom ons? Ons leef net elke dag voort op ons eie rotresiesbaan en weet nie eens van die diep seer van mense wat saam met ons beweeg nie. Met tjailatyd neem Hugo hom huis toe, terwyl ek die laaste stukkie bedding omdolwe.

Op die trampolien maak die onnutsige Madre, Petrus se nuwe verjaardag-Lego-karakters vas aan die ballonne en laat gaan dit soos ’n warmlugballon, om nét betyds weer te vang. Haar sproete is weggesteek tussen al die lekkerkry op haar gesig.

“Julle moet versigtig wees en eerder ophou met hierdie speletjie,” waarsku my Rottenmeier-stem. Sê nou net sy kan die ballon nie vang nie? Soos ’n grammofoonplaat wat vashaak, waarsku ek oor en oor.Met my gedagtes nog nie eens koud nie, hoor ek die een ná die ander waarskuwing.

Die volgende oomblik hoor ek die hartseer gil deur die lug klief. Ek los alles en is net betyds om te sien hoe die ballonne buite my bereik die hemelruim invaar.“Agge nee, wat gaan ek nou doen?” wonder ek hardop. My moed sak in my skoene en ek sien die hulpsoekende gesiggie met die traanstrepe voor my. As Pappa net hier was.“Gou! Hardloop en bring Mamma se besem; ek hou hulle dop” roep ek die bevele uit. 

Asof dit sal help, hardloop ek met ’n besem straat toe. Daar vind ek die twee uitverkore ballonne vasgehaak aan die kragdrade. Verligting. Die hartroerende snikke om my bring my terug na die werklikheid. My besem is te kort. Ek weet ons het ’n kettie, maar dit sal nie werk nie. My kop werk oortyd. As ek net die ballonne kan bars, kan ek ten minste die Lego-hond red! Die ongelooflike magteloosheid pak my beet: Ek kan net staan en kyk met die ballonne buite bereik.

Die volgende oomblik voel dit soos ’n arend wat die hondjie oppik en wegvlieg, want die ballonne wip hulle vermakerig uit die drade. Geruisloos en grasieus én buite my beheer verdwyn hulle oor die bome. As Pappa net hier was. Ek stuur dadelik ’n string boodskappe en probeer kophou met die huilende kind langs my. Ek weet dat hy iets sal kan doen.

Tipies onemosioneel kom sy vaderlike antwoord kort en kragtig: “Dit is nou maar net so. Hy moet maar net leer.” In my hart weet ek dat hy wel ’n plan probeer maak. Hy sien nie die gesiggie langs my nie! Vraagtekens en bruin ogies smekend om hulp. Ek besef die helium is ’n dag oud en wil glo die ballonne sal gou-gou val. Maar sy aanmerking tref my soos ’n dolk in die hart, want dít wat ek altyd vir hulle sê, staan nou in hoofletters in Petrus se verstand. “Mammas kan mos alles doen,” kom dit tussen die snikke deur.

Met besem in die hand begin ek afdraand stap, want draf is taboe ná so ’n dag se tuinwerk – my lyf smeek vir rus en nie sulke spanning nie. Saggies stuur ek skietgebedjies op, want hierdie soektog lyk baie donker. 

Ek lui voordeurklokkies, klop aan deure. Vreemde mense wat ek nog nooit eens gesien het nie. Desperaat. En elke keer as die voordeur oopgaan, is my speurdersvraag: “Hallo, ek is op soek na twee ballonne.”Wat die mense van my gedink het, weet ek nie, want wie sal op ’n Saterdagmiddag na ballonne in die wind soek? Dit klink soos ’n wolhaarstorie.

Die een omie sê ek kan maar sy agterplaas fynkam. Wat ek toe ook doen. Ek bekyk elke bos, boom en hoekie. Ek trap amper op die vrou voor my. Sy lê op die gras met ’n boek. Graaf eenkant. Dit is eers met die opstaan dat ek sien sy maak eintlik ook tuin skoon. Seker maar ’n ruskansie geneem. Of probeer ’n laaste sonbaaisessie geniet voor die son groet.Ek soek verder en my asem jaag met die gedagte aan die kindergesiggie.

Uitasem en moedeloos gaan staan ek by ’n heining toe ’n rooi gloed my aandag tref. Sowaar! In die jasmynbos vasgehaak.Ek groet en haas na die bure. Van die straat af hoor ek die vrou bevele uitdeel. Net so luid soos ons. ’n Motor hou stil en iemand klim uit. Dit was natuurlik ook haar laaste opdragte om seker te maak alles is netjies en aan die kant vir hulle gas. Die vreemdeling by die motor hoor my storie en bied aan om die huismense te vra.

Dit voel soos ’n ewigheid voor sy haar verskyning maak. En dan sien ek hulle. Die rooie én die swarte. My oë vasgenael op die onderpunt. Is die kosbare vrag nog daar? Dis die belangrikste.

Die trane vloei sommer uit my oë soos ’n damwal wat breek. Ek neem die ballonne en dan sien ek die swart hondjie waaroor alles gaan. My asem jaag – en dis nie net van onfiksheid nie. Dankbaarheid. Verligting. Ek pak die terugtog aan. Bult op. My lyf moeg van die drie dae se tuinwerk en nog meer van die soektog, maar die adrenalien forseer my vorentoe. Dankie tog. Want hoe kan ’n Mamma nie ’n plan maak nie?

Intussen gaan draai Pappa ook kilometers ver, want hy het die wind bepaal en ballonne trek mos ver. Diep binne is daar ’n sagte hart wat net so graag wil help.Terwyl ek loop met ballonne en besem in die hand, wens ek hulle kan sommer net bars. Ek dink aan hoe die mensdom soms meer en beter wil hê as ’n gewone opblaasballon.

Jaarliks is die bos ballonne bokant hulle bed ’n teken van feesvieringe. Vanjaar kom die sogenaamde “lewendige” heliumballonne met ’n vermakerige, rammetjie-uitnek-houding en verander amper die vreugde in hartseer. 

Op die bult sien ek die mooiste prentjie voor my. Voor staan my klein seuntjie met hande in die mond. In afwagting. Nét vir my. Óf die Lego-hond?

Ek steek hulle agter my rug weg. Maar soos ’n nuuskierige agie loer die rooie oor my skouer, en ek sien hoe die gesiggie ophelder en weer begin lewe toon. Toe ek langs hom staan, oorhandig ek die piepklein hondjie met sorg aan hom, asof dit die gróótste geskenk in die wêreld is. Vandag is dit. My asem jaag nog vir ’n hele rukkie, maar my hart is stil-gelukkig.

Hoe lekker is dit nie om te help nie. Maar nog meer om net te sien hoe die gordyn van hartseer oopgetrek word in die ogies van ’n kind en die son deurbreek in borrellende vreugde en oorweldigende opgewondenheid.

Ná al die spanning en afwagting, is sy versoek: “Kom ons bars hulle, Mamma?”Die groot boom se dieporanje blomme loer nuuskierig oor die muur. Die rugbygroen grasperk gestroop van sy blare-karos en gereed vir die nuwe seisoen. Dit is lente. My beker van geluk loop oor.