“A-Nee-A! Hoekom doen jy dit aan my? Jou verraaier! Ek en jy was dan altyd getroue oefen-buddies en gesond eet was ons leuse. Ek het immers ’n fortuin bestee aan allerlei verfermingsrome en skommeldrankies. Juis om jou jonk te hou. Jy kom beslis nie jou end van die deal na nie.”

Brenda krimp ineen voor die gewraakte spieëlbeeld en wonder meteens wie die vreemde vrou met die karikatuuragtige figuur is wat so treurig na haar staar. “’n Spieël jok nie,” hoor sy haar man se goedige geskerts in haar agterkop.

Dis seker waar, maar spieëls in klerewinkels se oorbeligte aantrekhokkies skreeu die naakte waarheid luidkeels uit.

“Somer was dalk altyd jou gunstelingseisoen, maar jou lyf se rakleeftyd het nou verval, Mevrou. Jou soort figuur verkies die winter. Dan kan jy darem die oortolligheid veilig onder bonkige jasse en truie versteek.” 

Die bikinipassing-skok tref haar soos ’n stinkbom. Oorbedeelde figure hoort duidelik nie meer in sulke skamele nommertjies nie. Sy frons toe sy die eenstuk aanpas met die rekinsetsel wat glo veronderstel is om jou maag wonderbaarlik weg te toor. Dit lyk ook nie juis of dié toorkrag meer werk nie.

Oudword kan opgesom word in een woord – vreesaanjaend. Eers was dit nie te sleg nie. Ná die laaste kuiken uit die nes is, is die huis altyd netjies en kan sy soms soggens inlê en ál later aantrek. Skoolgeleenthede en oueraande is eindelik iets van die verlede. Sy en manlief kan hulle naweke haarfyn vooruit beplan en rondrits soos hulle wil.

Maar tog word die brood muf in die broodblik en bakkies vol oorskietkos staan die yskas vol. Sy moet ’n afspraak maak met haar kinders om hulle te kan sien. Dis nou mits hul besige sosiale programme dit toelaat. Die grys ouderdomsverklikkers neem ook nie meer die veronderstelde ses weke voor hulle verskyn nie. Seker dié dat haar haarkapper deesdae so ingenome lyk.

En dan is daar die wanhopige pogings om haar middelmaat te laat krimp. Nes ’n uitbundige kleuter klim sy telkens weer op die gewigwipplank met bloedgroep-diëte, keto of banting en bakke vol koolsop.

Hoe hoër die gewig op die skaal styg, hoe laer daal haar gemoed. Heimlik hoop sy steeds op ’n wonderwerk en oefen daarom daagliks getrou in die sitkamer saam met Linda Kriel om “daai lyf” weer terug te kry.

Haar kopdokter het eenkeer doodluiters gesê dit wat met jou lyf gebeur, is maar ’n manifestasie van wat in jou binneste aan die gang is. Skielik wonder sy watter inwendige besmetting veroorsaak dat haar lyf dan so vreeslik rebelleer.

Die keisersnit-littekens kan sy nog wegsteek, maar dis die hangborste, haelskade, rekmerke, plooie, boude wat al laer sak en arms wat flap as jy waai. In die elegante, granaatrooi aandrok wat veronderstel is om vleiend om jou lyf te drapeer, lyk sy soos ’n opgestopte Weense worsie. Sy wriemel liewer weer vinnig daaruit.

Met ’n suur trek op haar gesig berispe sy haar alter ego waar hulle nou naak en naby teenoor mekaar staan. “Jy’s nie eens meer ’n appel óf ’n peer nie. Jy’s net ’n drillerige jellie. Jy weet, klein, stywe borste is vrolik en prettig. Joune is groot en snikkend hartseer. Ek skaam my vir jou.” 

Meteens giggel twee jong meisies onbedaarlik in die aantrekhokkie langs haar. Brenda snork minagtend. “Ja lag maar, eendag sal julle verstaan. Gravitasie is ’n vreugdedief.”

Oornag moes haar klerekas verander. Gemak is deesdae haar hoofprioriteit. Strappy toppies het nou liewer moue, hakskoene word plat skoene, denims word gerieflike, ritslose jeggings en noupassend is vervang met loshangend. Dan kan ’n mens darem so soort van die muffin-top probeer verbloem. Lae halslyne en halterneksnitte het ’n stille dood gesterf en haar eens delikate lingerie van kant is nou dienlike beige vormdrag.

Brenda sug hoorbaar toe sy uitstap. Sy kyk vir oulaas na die vrou in die spieël wat agterbly. “Jy verlang verniet na jou jeugdige lyf. Jou dae is getel. Jy lyk al meer soos jou ma.”

Sy gaan hang die armsvol klere wat sy eintlik ook nog wou aanpas weer sorgvuldig terug, elke kledingstuk op sy plek. Hierdie somerseisoen se modes is duidelik net vir mense met ’n winkelpoplyf bedoel. 

Die eintlike rede vir vandag se uitstappie is omdat haar dogter, Sanet, voorgestel het dat hulle mekaar by die Italiaanse restaurant La Roma vir middagete ontmoet. Haar seun, Jaco, kon ook ’n etensuur in sy bedrywige rooster inpas. 

Dis nogal vreemd dat Sanet so dringend ewe formeel reëlings wou tref vir ’n ontmoeting. Dis glad nie in haar warkoppige aard nie. Sy het seker ’n enorme verhoging gekry. Of dalk ’n bevordering waarvoor hulle nou vir haar die rooitapyt moet uitrol. Sy hou nog altyd daarvan om die fokuspunt van aandag te wees. 

Brenda het so intens uitgesien om haar kinders albei weer te sien, maar sy voel taamlik miserabel ná die verdoemende klerepas-episode. Haar uiterlike beeld lê soos ’n stuk lood in haar gemoed. Sy het sommer ook haar eetlus verloor. 

Voor die restaurant praat sy ferm met haar weerkaatsing in die venster. “Ek hou jou dop, nè. Jy verdien verseker niks meer as sodawater met ’n skyf suurlemoen nie. So hou jou in. Moenie eens waag om na die verduiwelse pastageregte te loer nie. Sê net jy voel siek of iets.”

Die kinders is albei verheug om haar te sien. Sy druk hulle styf vas en vergeet vir ’n genotvolle oomblik van die geveg met haar lyf. Dan sweef ’n vietse, jong vrou die restaurant sierlik binne. Sy lyk soos ’n Swarovski-swaan in ’n spierwit snyerspak met haar geboë nek en fyn gelaatstrekke. Die toonbeeld van perfeksie. Dis om van naar te word, dink Brenda wrewelrig. ’n Kelnerin met ’n Barbiepopfiguur verskyn ewe hoflik by hul tafel. “Wil julle dalk solank bestel? Die sjef beveel aan . . .”

Brenda grynslag liefies. “Ag, ek het klaar besluit, dankie. Dit lyk ook nie juis of jy ooit eet wat die sjef aanbeveel nie.” 

Die verdwaasde kelnerin haal ’n pen uit, gereed om die bestelling te neem. “En wat kan ek vir u bring, Mevrou?”

Brenda bestudeer die spyskaart noukeurig en kyk dan op. “Ferm buuste vir voorgereg, ’n plankdun middellyf vir hoofgereg en stywe boudjies vir nagereg, dankie.”

’n Geskokte stilte volg. Sanet trek haar asem skerp in en haar groen oë rek groot. “Ma! Is ma frieken mal? Moet ma altyd so vol geite wees? Ek skaam my morsdood.”

Jaco sit sy arm beskermend om haar. “Ma, jy is te hard op jouself. Ons is lief vir ma nes ma is.”

Brenda se lip begin bewe. “Jy kan maklik praat. Oudword is nie vir sissies nie, maar daar is boonop ’n groot verskil tussen geslagte. Mans word handsome al word ’n borskas oor jare heen ’n hangkas, maar vroue verander in hekse.”

Sanet rol haar oë. “Goeiste tog. Ma kan so dramaties wees. Wat het nou weer gebeur? Uit daarmee!”

Brenda sluk aan die knop in haar keel. Emosionele wanbalans is mos nóg ’n vloek van menopouse. Dis nou glo afgesien van die verlies aan elastisiteit en verlaging van estrogeenvlakke. Met ’n stem vol bitterheid sê sy: “Oudword het met my gebeur. My kollageen het spoorloos verdwyn en ek het die gravitasiegeveg verloor. En niemand verstaan nie. Ek voel so bitter alleen.” 

Sanet glimlag vroom en neem Brenda se hande in hare. “Nou maar dan kort ons iets wat ma kan opbeur. En ek dink ek het net die regte medisyne.” 

Sy kyk vlugtig na Jaco. “Ek het julle genooi, want ons het iets om te vier.” Sy aarsel ’n oomblik en vervolg dan. “Ek en Pierre verwag.”

Brenda skud haar kop ongelowig. “Maar my kind. Hoe het dit dan nou gebeur? Julle is nog skaars ’n jaar getroud.” 

Jaco proes van die lag. “Sanet het mos nog altyd ’n liefde vir die lewe gehad, Ma.”

Dan kyk hy na sy ma in afwagting. “So, as ek nou ’n oom gaan word, word ma mos ’n  . . . ”

Skaars hoorbaar fluister Brenda die ondenkbare woord “ ’n Ouma.”

Kort ná die aanvanklike skok, spoel die vreugde oor die ongebore pienkvoet soos ’n golf oor haar. Die lekkerste van ma-wees is ongetwyfeld die onverwagte opwinding van ouma-word. “Ook maar goed ek het toe nie ’n bikini gekoop nie,” prewel sy.

“Dit sou seker uiters onvanpas wees om so skraps geklee met my kleinkind op die strand te paradeer.”

Haar oë skiet vol trane van vreugde toe sy na Sanet kyk. “Ek is so bly vir julle. Jy sal sien, ek gaan ’n ouma duisend wees.”

Sanet knik instemmend. “Daaraan twyfel ek nie vir ’n oomblik nie.”

Toe Jaco vertrek, plant hy ’n soen op haar voorkop. “Sien ouma volgende Sondag vir ete, nè?” 

Brenda straal behoorlik. Haar hande jeuk skielik om te leer borslappe hekel en babaskoentjies brei. Sy sal sorg dat haar spens se rakke altyd kreun onder blikke vol koekies. Sy sal stories lees, pleisters plak, sandkastele bou en roomys eet. Wat ’n vreugde! Dis asof sy plotseling weer ligvoets deur die lewe kan dans. Sy gaan stylvol en grasieus oud word. As koningin Elizabeth dit kon regkry, kan sy ook.

Daardie aand ontspan Brenda in ’n salige borrelbad met ’n glas vonkelwyn in die hand. Dis immers nie aldag dat ’n mens ouma word nie. Dis tyd om hierdie nuwe lewensfase aan te gryp. Toe sy uitklim, staan sy fier en regop voor die wasbak en knipoog vertroulik vir die vrou in die spieël.

“Kom ek gaan maak vir ons twee tee. Ons kom al ’n lang pad saam. Dis hoog tyd dat ons vrede maak en basta met bikini blues!”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.