Gerda sit die teesakkie in die koppie, maar gooi nie dadelik die kookwater in nie. Sy sit die ketel neer en gaan sit weer by die tafel. Sy lees Gabby se e-pos die vyfde keer. Knyp haar oë toe.

“Here, kan dit wees?”

Hoe het sy dit nie raakgesien nie? Sy het gedink sy ken haar kind. Weet alles. Sy vryf teen haar slape. Dis ’n kort brief. “Ma, ek wil Kersfees kom kuier.” Sy het gejuig. Sy gaan Gabby weer sien.

“Ek het ’n voorwaarde.”

Enigiets. Kom kuier net weer ’n slag, het sy gedink.

“Ek wil iemand saambring.”

Eindelik! Gabby het iemand ontmoet.

“Dis nie ’n man nie . . .” Gabby se vriendinne was nog altyd welkom.

“Ek is lief vir haar. Haar naam is Allen. Ons is die afgelope jaar saam.”

Hoe jy uitgesien het na jou eerste kleinkind . . . Alles drome. Verlore drome.

Gerda se hart mis weer ’n slag. Sy staan op en kyk by die venster uit. Die aartappelplant in die binnehof kort water. Maria moet die plant water gee. Die ding is besig om dood te gaan.

Hoekom versorg Maria nie die arme ding nie?

Sy moet ook iets drink. Sy is dors. Sy onthou haar tee en skakel weer die ketel aan. Sy tuur weer by die venster uit.

Sy het nog altyd gedink Gabby is net skaam. Dié dat sy nie seunsvriende of later mansvriende huis toe gebring het nie. Altyd hope vriendinne. Sy het nooit iets daarin gelees nie. Sy onthou haar matriekafskeid en hoe sy Gabby feitlik moes omkoop om te gaan. Gesê hulle maak te veel van die affêre.

Is dit iets wat sy verkeerd gedoen het? Waar het sy as ma misluk? Wat gaan Ben sê?

Ag, Here, hy sal dit nie oorleef nie. Hoe gaan sy hom vertel? Hoe gaan sy die familie vertel? Hul vriende. Hoe hanteer sy ander se oordeel?

Gerda hou Ben se gesig dop terwyl hy Gabby se e-pos lees. Sy sien die glimlag wat op sy gesig verskyn.

“Ben?”

“Ja, vrou?”

“Het jy mooi gelees wat Gabby sê? Verstaan jy wat sy vir ons probeer sê?”

“Ek verstaan dit al jare lank, vrou. Ek het net gewonder wanneer sy dit self gaan erken. Gewag dat jy iets sal sê. Julle was albei doodstil. Tot nou.”

“Is jy nie ontsteld nie?”

“Nee, ek is nie. Sy is my kind en ek is lief vir haar. Die Here het haar so vir ons gegee.”

“Hoe kan jy so sê?” vra Gerda hees.

“Want dit is hoe dit is. Dink jy sy het dit gekies?”

Gerda is ’n oomblik lank stil. “Ek weet nie,” sê sy verslae. Ben trek haar nader.

Sy hou haar kind vas. Styf. Sy wil haar nie laat gaan nie. Sy wil nie die Gabby wat sy ken en onthou, laat gaan nie. Maar hoe sê sy dit sonder om haar seer te maak?

“Vrou, luister vir my. Nie ek of jy of Gabby het iets verkeerds gedoen nie. Ons was nog altyd ’n normale gesin wat normale goed in die lewe gedoen het. Ons was nog altyd lief vir Gabby en het nooit geskroom om dit vir haar te wys nie. Stuur môre vir haar ’n e-pos terug en laat weet haar dat sy en Allen welkom is. Ons gaan Kersfees hou met ons kind onder ons eie dak.”

“Oukei.”

Gerda trek haar kussing nader en skakel haar bedliggie af. Sy lê lank sonder dat die slaap kom.

Die volgende oggend vroeg trek Gerda haar rekenaar nader en beantwoord Gabby se e-pos. Kort en saaklik laat weet sy Gabby en Allen is welkom en dat hulle uitsien na die kuier.

Niks meer nie. Sy weet nie wat om vir Gabby te sê nie.

Hoe sê jy vir jou kind jy het gedroom van haar troue? Hoe jy met alles sou help. Julle saam haar rok sou gaan kies. Saam die tafelversierings sou doen en ’n gastelys sou opstel.

Hoe jy uitgesien het na jou eerste kleinkind.

Alles drome . . . verlore drome. Nadat sy die e-pos gestuur het, klap sy die rekenaar toe. Sonder om dit te besef rol die trane oor haar wange.

Hoekom Gabby? Hoekom haar kind?

Ben en Gerda wag op die O.R. Tambo Internasionale Lughawe. Gerda se koffie is yskoud. Sy hou die glasdeur by die aankomssaal gespanne dop. Sy weet nie wat om te verwag nie. Sy weet nie hoe om teenoor Gabby op te tree nie. Gaan sy heeltyd moet voorgee?

Eindelik sien sy Gabby raak. Die knop in haar keel wil haar versmoor. Dan sien sy die ander vrou . . . Allen . . . die vrou in Gabby se lewe. Sy weet sy moet haarself regruk.

Ben storm vorentoe en draai Gabby in die rondte. Sy stap ook nader. Dis Allen wat haar nader trek.

“Hallo, tannie, ek is Allen. Gabby het al so baie van tannie vertel.” Sy sien die warmte en opregtheid in die kind se oë.

“Hallo, Allen. Welkom in Suid-Afrika. Welkom by ons.”

“Dankie, tannie.” Gabby staan ook nader. Sy gryp Gerda om haar nek.

“Hallo, my liefste Moekie.” Gerda onthou die troetelwoordjie. “Hallo, my kind.”

Sy hou haar kind vas. Styf. Sy wil haar nie laat gaan nie. Sy wil nie die Gabby wat sy ken en onthou, laat gaan nie. Maar hoe sê sy dit sonder om haar seer te maak? Sonder om Allen seer te maak?

Sy lyk op die oog af na ’n liewe kind. Soos een van Gabby se baie vriendinne wat altyd kom kuier het. Maar sy weet hierdie keer is dit anders. Dit is vir altyd anders.

“Ek besef nou eers hoe erg ek na mamma verlang het.”

“Beslis nie so baie soos ek nie.”

Tussen die gesels en opvang in die motor deur hoor Gerda die bekende lied op die agtergrond speel. Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar, die krip en Maria, met die kindjie by haar. Dis asof die engel die boodskap nog bring, van Jesus se vrede wat harte laat sing. Watter vrede, Here?

My hart klop in my keel en ek is bang, dink sy.

“Ma, sê tog ma het melktert gebak?”

“Hoe dan anders. Dit is jou gunsteling,” sê Gerda gemaak vrolik. “Wel, ek kan nie wag om te proe nie. Gabby vertel al die afgelope jaar vir my niemand kan melktert bak soos tannie nie.”

Ben neem haar hand en gee dit ’n sagte drukkie. Kan hy sien sy kry swaar? Hoekom is hy so oukei met alles? Het hy nie ander drome vir Gabby nie? Wou hy haar nie in die paadjie af neem en haar aan haar toekomstige man afgee nie? Soms saam met sy skoonseun rugby kyk of net ’n bier gaan drink nie?

By die huis wys Gerda die kinders waar hulle hul bagasie kan neersit en verskoon haarself. Sy wil gaan kyk of Maria klaar is met die slaai en die koue vleise. Maar eintlik wil sy net gaan asemskep.

Sy gaan sit op haar bed en prewel saggies: “Here, help! Ek weet nie hoe nie.”

Kersdag is almal vroeg op. Hulle het nie oudergewoonte Oukersaand geskenke oopgemaak nie. Gabby het gevra of hulle dit vanjaar ná hul Kersete kan doen. Gerda het ook nie ander familie genooi nie. Sy het die verskoning gebruik dat sy dié Kersfees haar kind net vir haarself wil hê.

Gabby en Allen en Ben het vroeg die vuur aangesteek en die kinders het haar met die bykosse gehelp. Gabby is nou meer van ’n raakvatter as toe sy in die huis was, glo vanweë Allen se aanmoediging.

Ná middagete is almal in ’n gemoedelike bui. Onder die Kersboom is baie geskenke. Amper asof elkeen wil vergoed vir die ander een se seer. Dit is toe Gerda vir almal koffie skink dat Gabby keel skoonmaak.

Oumie het vir my stories vertel en ons het draairoomys geëet. En ons het foto’s van my ander mamma gekyk.

“Ek moet julle iets vertel.” Sy vat Allen, wat langs haar op die bank sit, se hand. Gerda sit die koppies neer en gaan sit op die ander bank langs Ben. Asseblief, Here, bid sy in stilte.

“Ek en Allen het besluit om terug te kom. Terug Suid-Afrika toe. Ons wil naby julle wees.”

“Ag, dis wonderlik!” juig sy en Ben. “Nog iets.” Gabby kyk Gerda in die oë. ’n Glimlag kom oor haar lippe.

“Ek is swanger.”

“Gaan ek ouma word? Maar hoe?”

“Ai, Moekie. Ons leef in die 21ste eeu.”

Gerda swaai klein Gabriella op die skoppelmaai agter in die tuin.

“Waar is Moeks?” hoor sy Allen vra.

“By die boom!”

“En hoe het dit vandag hier gegaan? Wat het julle tweetjies alles aangevang?” Klein Gabriella gryp Allen om die nek.

“Oumie het vir my stories vertel en ons het draairoomys geëet. En ons het foto’s van my ander mamma gekyk.”

Allen sit haar arm om Gerda en stap saam kombuis toe.

“Hoe gaan dit met ma?”

“Goed. Party dae vang die verlange my mos meer as ander dae.”

“Waar is pa?”

“By die graf. Hy wou gaan skoonmaak. Bossies uittrek en so.”

“Ma bedoel sy prate gaan praat.” Hulle hoor hoe klein Gabriella roep.

“Mamma, kom kyk, ouma het melktert gebak!” Gerda glimlag vir Allen.

“Sy bly darem maar ’n pop; Gabby sou haar so baie geniet het.”

“Ek weet.” Gabriella staan by die deur.

“Kom nou. Oupa is ook terug.”

“Nou toe, jou klein woelwater, waar is die melktert?”

“In die kombuis. Ouma sê mamma het baie daarvan gehou. Dis my gunsteling ook!”

Gerda sluk aan die knop in haar keel en kyk na die mense om haar. Sy het haar dogter verloor, maar ’n skoondogter en ’n kleinkind gewen. Hulle eet melktert . . . en hou Kersfees in Suid-Afrika.