Benneman vee oor sy voorkop om van die lastige sweetdruppels ontslae te raak.

Hy het skaars sy hand laat sak of ’n fyn meisie is gereed met ’n poeierkwas. Sy eerste instink is om te koes, maar sy glimlag en sê: “Ek weet grimering is nou nie eintlik deel van ’n boer se skoonheidsroetine nie, maar hier mag jy nie sweet nie, hoor.”

Hy glimlag ongemaklik en laat haar begaan. Hier waar hy nou staan en wag vir die volgende shoot kan hy nie aan een goeie rede dink waarom hy hom laat oorreed het om deel van die Boer Soek ’n Vrou-sirkus te wees nie.

Hy verlang skielik intens na sy simmentalerbeeste en die stilte op sy plaas. Hy kan homself skop dat hy nie sy oorywerige drie susters in hul peetjie gestuur het toe hulle aandring om hom in te skryf nie.

Hy was vas oortuig daarvan dat die hele proses ’n stille dood sou sterf. Nooit in sy wildste drome het hy gedink hy sou van al die inskrywings die tweede meeste briewe ontvang nie.

Van die dag dat Christine, die aanbieder, met bokse vol briewe op sy plaas opgedaag het, is sy lewe onderstebo gekeer. Omdraaikans is daar nie. Iets val hom by en hy haal sy selfoon uit sy bosak. Vinnig skakel hy Jafta, sy regterhand op die plaas, se nommer.

Ná ’n vrolike groet vra Benneman: “Jaffie, ek bel net gou om te hoor of Elmien al gekalf het.”

Hy luister aandagtig hoe Jafta verduidelik dat die kalf nog nie daar is nie, maar dit lyk vir hom baie naby.

“Goed so, hou haar in die kraal en as dit vir jou enigsins lyk of sy sukkel, bel dadelik vir Oudok, hoor.”

Hulle groet en toe hy sy selfoon laat sak, sien hy vir die eerste keer dat iemand langs hom staan met ’n tamaai kamera op die skouer. Sy laat sak die kamera effens sodat hy haar gesig kan sien.

Twee groot bruin oë waarin liggies dans, vra: “Kom ek raai: Elmien is ’n stoetkoei wat deur die een of ander belangrike bul gedek of geïnsemineer is?” Sy oë rek effens van verbasing.

“Hoe het jy geweet?”

Sy glimlag en kreukel haar neus: “Sommer ’n raaiskoot!” En dan: “Ons is reg vir jou daar binne. Sterkte.” Met ’n laaste simpatieke kyk draai sy om.

Die res van die week word heel aangenaam, tot Benneman se eie verbasing. Hy geniet die aandag van die mooi vroue, en wanneer die kameras nie draai nie, kuier hy en die ander boere lekker.

Hy hoor hoe die res van die span vir die vrou agter kamera 2, wat klaarblyklik iets van beeste weet, Rodé noem. Hy weet nie of hy hom verbeel nie, maar dis asof haar teenwoordigheid hom kalmer maak.

Hy haat elke oomblik daarvan om van die hoopvolle vroue huis toe te stuur. Aan die einde van die week is dit Annanda, Maja en Caylie wat hy kies om vir ’n week by hom op die plaas te kom kuier.

Al drie lyk na oulike, spontane vroue. Die hemel alleen weet hoe hy tussen hulle sal moet kies. Die maande daarna vlieg in ’n waas verby. Sy boerdery neem al sy aandag in beslag.

Die laaste week voor die vroue en die Boer Soek ’n Vrou-span kom, spook hy veral om sy plaas en diere in so ’n toestand te kry dat hy ’n week lank sy hande losser sal hê om tyd saam met die vroue deur te bring.

Sy huis se regmaak los hy vir sy ma en susters; hulle wou hom mos vir die gedoente inskryf. Nou sal hulle maar hul deel moet doen, besluit hy.

Dit lyk asof hulle die petalje gate uit geniet, soseer dat hy amper nie sy eie huis se binnekant herken toe hulle klaar is nie. Nuwe beddegoed, geskenke op elke bed, ’n nuwe mat en strooikussings in die woonkamer en propvol koskaste.

Die besef dat sy nie uitgeknip is om ’n boervrou te wees nie, het swaar in albei gelê

Hulle het selfs vir hom ’n paar stelle nuwe klere gekoop. Hy moet teësinnig erken hulle is raakvatters en het goeie smaak. Die vrou wat hy eendag kies, sal moet uithaal om by hulle te kan kers vashou.

Eindelik breek die dag aan waarop die vroue opdaag. Sy senuwees is aan flarde, maar die feit dat hy nou op eie turf is, maak hom rustiger. Die uitdaging is nou om te sien watter een van die vroue hier sal kan inpas.

Hy is bly om hulle te sien en gee elkeen ’n stywe drukkie toe hulle uit die voertuig klim. Die volgende paar minute is ’n gespook om die tonne bagasie af te laai en die vroue in hul kamer ingeburger te kry.

Dis eers toe iemand uitroep “Cut!” en die kamera laat sak dat hy die gesig agter die kamera herken. Dis Rodé. Hy skrik vir sy hart wat skielik in sy borskas wip. “Hi!” groet sy vriendelik.

“Hoe lyk dit? Het jou stoetkoei toe gekalf?” Hy lag.

“Jip, haar verskalf is al vier maande oud.” Toe sy glimlag, sien hy daar is kuiltjies in haar wange. Die volgende oggend ná ontbyt moet ’n toneel in die kraal geskiet word. Benneman glimlag toe hy die vroue senuagtig tussen sy skape sien staan.

Veral Annanda lyk bleek. Hy hoop nie sy val om van ’n leë maag nie. Sy het net roosterbrood geëet vanoggend omdat sy ’n vegetariër is. Hy wonder of sy besef dat die einste skape waartussen sy nou staan, gaan sorg vir die skaaptjops wat hulle vanaand moet braai.

Hy wys hulle geduldig hoe om ’n lammetjie aan die agterbeen te vang. Dis makliker gesê as gedaan. Almal, die kameraspan inkluis, skater later van die lag vir die chaos in die kraal.

Die skape raak verbouereerd en hardloop in sirkels. Dis toe dat Rodé, met kamera en al, haar kans afwag, op die regte oomblik afbuk en ’n opgeskote lam behendig aan die agterpoot vang.

Sy hou hom vas tot ’n natgeswete Caylie daarby kan uitkom. Hy besef toe dat dié kameravrou ook ’n plaasvrou moet wees.

Die tweede oggend vroeg neem hy vir die vroue koffie en beskuit. Toe hy Annanda se gesig sien, skrik hy hom byna disnis. Die skok op sy gesig laat haar opspring en in die spieël kyk – en toe skree sy.

Haar oë is byna toegeswel en haar hele lyf oortrek met ’n rooi uitslag. Binne oomblikke is die kamer vol besorgde mense. Dis Rodé wat haar arm vertroostend om Annanda se skouers sit.

“Toemaar, girl. Ek dink dis net ’n allergiese reaksie. Benneman, het julle dalk antihistamien in die huis?”

Hy knik en draai om terwyl hy sy foon uit sy bosak haal om die dokter te bel. Die daaropvolgende drie dae is ’n waas van gebeure wat Benneman dwing om diep te delf om sy emosionele ewewig te behou.

Die dokter het bevestig dat Annanda inderdaad ’n ernstige allergiese reaksie vir iets op die plaas getoon het. Dit kan vir enigiets wees van grassade tot dierehare.

Sy het huilend in die dokter se spreekkamer vir Benneman gevra of hy haar sal kwalik neem as sy nie weer teruggaan plaas toe nie. Die besef dat sy nie uitgeknip is om ’n boervrou te wees nie, het swaar in albei gelê.

Hy het haar styf vasgedruk en gerusgestel. Hy het vreemd verlig gevoel dat minstens een besluit vir hom geneem is.

Die aand voor hy sy finale keuse tussen Maja en Caylie moet maak, kan hy om die dood nie aan die slaap raak nie. Hy gaan sit toe maar buite in die donker op die stoeptrap.

Die hemel weet, hy weet nie wat hy gaan doen nie. Albei vroue het ’n sagte siel en goue hart wat enige man wat vir hulle bedoel is dolgelukkig sal kan maak.

Die probleem is net hy is taamlik seker hy is nie daardie man nie. Daardie “iets” wat van vriendskap liefde kan maak, is nie daar nie.

’n Gesig doem skielik voor hom op, maar hy druk die gedagte summier dood. Lank sit hy so ingedagte, en skrik toe Rodé langs hom vra: “Jy oukei?”

Hy wil eers knik, maar iets in haar oë sê sy weet reeds die waarheid.

“Toemaar, jy hoef nie te antwoord nie. Ek werk al lank genoeg agter die Boer Soek ’n Vrou-kamera om dinge te sien soos dit regtig is.”

Hy laat sak sy kop in sy hande, maar ruk weer regop toe haar hand op sy skouer volts deur hom stuur. Hulle kyk lank vir mekaar tot die kraak van ’n vloerplank hulle albei laat omkyk.

In die skadu van die donker huis sien hulle hoe Caylie omdraai en in die huis verdwyn.

En nou, moeilik soos dit is, het die oomblik aangebreek waarop jy jou keuse moet bekendmaak oor wie jy wil hê langer op die plaas moet bly, Benneman,” sê Christine in haar aanbiederstem en kyk afwagtend na hom.

Dit voel of ’n mens die spanning in die vertrek met ’n mes kan sny. Toe lig Caylie onverwags haar hand en draai reguit na die kamera.

“Die liefde laat hom nie voorskryf nie. Soms gaan soek ons dit op plekke waar dit nie is nie, maar soms daag dit op op tye en plekke sonder dat ons daarvoor soek. Maar as dit die dag opdaag, moet jy dit met albei hande aangryp. In dié geval het dit agter die kamera opgedaag en nie voor die kamera nie.”

Sy en Maja glimlag sameswerend voor hulle gelyk opstaan en almal hulle verward aankyk. Hulle loop saam om die tafel tot agter ’n verbaasde Rodé.

Maja vat sonder seremonie die kamera by haar en Caylie trek haar aan die hand tot voor Benneman. Dit duur ’n hele paar sekondes voor hulle tot verhaal kom.

Dan trek hy haar nader en voel die “iets” in hom opspring. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Christine haar grimering afhuil.