“Om te dink my ma is vandag presies 30 jaar dood,” onthou Mia terwyl sy proe-proe aan haar koffie in ’n lughawerestaurant.

Haar jongste seun en sy bruid het pas hul tasse ingeweeg, en nou kuier hulle vir oulaas saam voor die tweetjies Kanada toe vertrek.

“Mamma onthou dit nog elke jaar,” merk Pieter op en verander die onderwerp.

“Is Ma nou seker julle is orraait met my groot skuif?”

Pieter hou haar fyn dop. Hy kon nog altyd sy ma se gemoed aan haar oë lees. Sy kyk in sy oë en knik haar kop stadig, ernstig.

Sy ís hartseer oor ek ’n Kanadese burger wil raak, maar sy’s tevrede, lees hy aan haar houding.

Hy slaak ’n diep, verligte sug en vou sy sterk arm styf om haar skouers.

Dan herhaal hy sy ma se verwysing na hul ouma in Engels, om Ashley in te sluit.

“Tell us more about ouma Maria?” vra hul nuwe skoondogter.

“Again?” vra Mia, onseker of sy reg gehoor het.

Sy kyk vir goedkeuring na haar man en vertel die storie soos sy dit oor jare bymekaargetrek het; die storie oor haar ma se lewe: Ouma Maria Westraad– wie se vreugdelose gesig reeds drie keer vantevore haar kleinkinders se doopfoto’s ontsier het – voel vandag ekstra beswaard.

Haar man, Wessel, is reeds sewe dae in die hospitaal. Hierdie keer ’n aansteeklike siekte; hy is in afsondering.

Ouma Maria se gemoedsbedruktheid kom van kleindag af omdat haar ma en ouma “arme Mariatjie met die asmaborsie” altyd opgepiep het.

Sy het later geglo dat die duiwel pal met ’n sak vol siektes staan, gereed om dit nét oor haar uit te skud. Maria het altyd gevrees sy sal sukkel om kinders te kry.

“Wat jy vrees, sal oor jou kom” is ’n uitdrukking wat spesiaal vir Maria uitgedink kon gewees het.

Weens al haar selfgeskepte spanning het Maria nie eens ’n effense glimlag gehad toe sy die dag trou nie.

Beeldskoon was sy wel, voor oormatige kommerplooie haar gesig ontsier het.

Toe menige bruilofsgas hulle begin vererg oor Maria se strakke houding, het hulle begin redes uitdink waarom die aantreklike Wessel Westraad verby al die gretige ander meisies kyk en eerder met Maria trou.

“Warm genoeg by die opsitkers? ’n Aanloklike erfporsie? Pers sy hom af?”

Hoe leër die sjampanjeglase, hoe woester was die gissings.

Dalk was dit die bruilofpons wat Maria sommer kort daarna met ’n boepie laat spog het.

Sy het ’n klompie maande gestraal soos selde tevore. En nooit weer daarna nie.

Hoe ouer Mia – die egpaar se enigste spruit – geraak het, hoe strenger was Maria se gesig.

Presies wanneer dit gebeur het, was later moeilik om te bepaal, maar die eens dinamiese Wessel het ná Mia se universiteitsdae ál gereelder in die hospitaal beland.

Maria kon nooit besef dat hy moed verloor het met die eise van ’n neerslagtige lewensmaat nie.

Natuurlik was Maria bekommerd oor Wessel se eerste hospitalisasies; hom met besoeke en eetgoedjies bederf. Sy het hom ondersteun dwarsdeur die hartaandoenings, ekstreme jigaanvalle, die drups, ’n bloedoortapping of twee.

Intussen het die bure gewonder of Maria kennis dra van Wessel se verhouding met ’n lewenslustige verpleegster van die manssaal.

Sy het hom moed gegee vir die droewige lewe saam met Moeë Maria én hom help planne beraam vir nuwe verskonings vir elke volgende hospitalisasie. Min bure het hom verkwalik.

Hulle kon self nie verstaan waarom hy so lank geneem het om dié slaapkamer wat pal na spiersalf en motbolle ruik vir iets vrolikers te verruil nie.

Nie Mia of die bure het later veel omgegee wat die rede vir die soveelste hospitalisasie was nie. Maria het hul nommers, ja, dankie, sy sal bel as sy hulp benodig, was die standaardroetine.

Terwyl Morbiede Maria haar daaroor verstom dat haar Miatjie soveel makliker en vroliker deur die lewe gaan, hoor sy op hierdie 24ste dag van Mei 1990 die goeie nuus dat Mia se vierde baba gearriveer het.

“Dis hul derde seuntjie, en daar is Wessel al weer in die hospitaal,” dink Maria weemoedig terwyl sy ’n sorgvuldig gebreide stelletjie babaklere uit haar swarthoutkis haal en dit in bruin papier toedraai om vir Mia te pos.

Dat die breiwerk na motbolle ruik, is glad nie vir haar vreemd nie. Ten spyte van Pietertjie se geboorte voel ouma Maria daardie aand ekstra beswaard.

“Ek wens ek kon die goeie nuus vir Wessel vertel, maar hy is so ver weg; sowaar met ’n mediese helikopter na die Kaapse hospitaal gevlieg.”

“Moenie my kom besoek nie, Mariatjie; hierdie hoësorgeenheid is te neerdrukkend. Ek gun dit tog nie vir jou brose gestelletjie nie,” het hy paaiend laat weet. Toe Maria daardie aand onder haar beddegoed inskuif, onthou sy Wessel se jare lange begeerte om ’n sagte duvet vir hul bed te koop.

“My ma se komberse is nog sterk en heel; vir wat sal ek nuwe goed koop?” was aljimmers haar verweer.

Terwyl Maria haarself onder haar motbolgegeurde komberse tuismaak, sou sy nooit kon raai dat haar wettig getroude man op dieselfde oomblik gretig inwikkel onder ’n sagwit duvet van ’n Suid-Natalse gastehuis nie. Ook nie dat hy gawe geselskap onder daardie duvet het nie.

Die volgende oggend vroeg staan Maria met ’n nuwe missie op. Só dat sy haar hare buitenstyds was, dit oudergewoonte plat teen haar kop vaskam en in die laatherfssonnetjie op die voorstoep droogbak voor sy haar handsak optel en see toe ry.

Sy het gedroom sy skryf haar jongste kleinkind se naam en adres agterop sy foto’tjie, sit dit binne-in ’n bottel en gooi dit in die see.

Dis waaraan ouma Maria toe die grootste deel van 25 Mei 1990 wy: die aankoop van ’n botteltjie oranje gaskoeldrank (sy het al vergeet hoe lekker dit kan wees; sy gun haarself selde daardie soort luukses), die uitspoel daarvan en toe die groot gewag dat dit van binne droog raak.

Sy het sorgvuldig die foto’tjie, met ’n briefie en vandag se datum daarby, binne ’n banksakkie verseël en – net om seker te maak – ook ’n paar motbolle binne die bottel gesit.

’n Mens vat nie kanse met briefies wat dalk eers oor 20 jaar gelees gaan word nie.

Eindelik het Maria Westraad ’n droom, ’n toekomsvisie: Sy wil graag leef tot sy eendag die resultaat van haar boodskap in die bottel sien.

Dalk kry ’n miljoenêr dit – iemand wat ’n erfgenaam soek en hierdie kleinseun daarmee seën, dink Maria opgetoë terwyl sy die bottel diép die water ingooi, net toe die gety van die Hermanusstrand terugtrek.

Ouma Maria – wat geduldig moet wag om hierdie vierde kleinkind te ontmoet terwyl Wessel eers gesond raak – loop laatmiddag terug kar toe met ’n sweempie van ’n glimlag.

Sy voel iets wat ander mense as ekstase sou beskryf, maar by Maria, wat haarself reeds lewenslank van sulke uitspattige emosies weerhou, is daardie effense glimlag reeds betekenisvol.

Niemand kon voorsien dat Maria ’n breinfloute sou opdoen net toe sy die straat oorsteek nie.

En ’n motorfiets nie betyds kon stop om noodlottige beserings te voorkom nie. In teenstelling met haar algemene lewenswandel sterf Maria Westraad daardie laatmiddag met ’n sagte klein glimlaggie.

Terwyl Wessel (heel ongemaklik) by ’n verre strandoord die doodstyding ontvang.

Terwyl Mia by die pediater se spreekkamer aan haar beswaarde moeder staan en dink.

Want sy het pas verneem haar baba is met ’n serebrale gestremdheid gebore; iets wat hom lewenslank sal pla.

Sy wou nooit ’n strak gesig soos haar ma hê nie. Sou Pietertjie se mediese probleme dalk veroorsaak dat sy wat Mia is ook so ’n vreugdelose gesig ontwikkel?

‘So het ouma Maria jare ná haar dood vir jou ’n wonderlike geskenk gestuur’

Ná haar ma se begrafnis het Mia nooit weer met haar pa gepraat nie. Want sy sonbruin lyf was ’n te groot kontras met sy geveinsde intensiewesorgsituasie. 

Met die lees van Maria se testament kry Wessel nog ’n vuishou tussen die oë: Omdat hulle op aandrang van Maria se pa (die grondmagnaat) buite gemeenskap van goedere getroud was, bemaak Maria al haar eiendomme aan Mia.

As Miatjie wil, kan haar pa in die huis aanbly waarin hulle 37 jaar lank gewoon het.

Het Maria dalk wel van Wessel se dwalinge geweet?

In haar woede het Mia dadelik die huis verkoop. En haar min daaraan gesteur toe sy verneem die verpleegster het heelwat drif verloor toe daar ’n einde aan Wessel se skatte kom.

Mia se serebraal gestremde baba het juis baie van haar tyd – en baie van die erfgeld – geverg.

“And then I found the bottle while jogging on a beach in Canada,” glimlag die fyngeboude donkerkop wat sedert verlede week Pieter se bruid is.

“En so het ouma Maria jare ná haar dood vir jou ’n wonderlike geskenk gestuur,” glimlag Mia.

Pieter skuif nóg nader aan Ashley en kyk in haar oë: “Ek was altyd so skaam en selfbewus oor ek so mankerig loop; oor ek nie soos al die ander seuns kon wees nie. En toe kom jy uit nuuskierigheid hier aan met ouma Maria se briefie en oorrompel my hart. En al my skaamheid verdwyn!”

Mia Vermaak en haar man glimlag tevrede terwyl die twee pasgetroudes nie eens hul verliefdheid probeer wegsteek nie.

“Ek wens ouma Maria was ook nou hier, dat ek haar behoorlik kon bedank,” mymer Mia.

Pieter loer vinnig na sy ouers, onseker of hulle weet hoe gereeld hul oupa Wessel sy kleinseuns in die geheim kontak en telkens probeer om geld by hulle te leen.

“What I still can’t fully comprehend,” onderbreek Ashley haar man en skoonma se gedagtes.

“Why the smell of naphthalene in the bottle – 29 years later. Faintly, but it’s still there . . . What’s the name you call it here? Motbolle!”