Dis toe Basie die voordeur oopstoot dat hy die gevoude vel papier opmerk. Hy buk en tel dit met ’n frons op en stap studeerkamer toe waar hy sy aktetas neersit. Terwyl hy gaan sit, vou hy die enkele pienk vel oop. ’n Kort nota in ’n netjiese handskrif lui: Meneer, jou bome se wortels groei in my riool en verstop die pype. Jy moet dadelik die bome verwyder. B.G.

Impulsief ruik Basie aan die pienk briefie. Wat het hy verwag, ’n laventelreuk? Sy sal dit eerder met rooipeper bestrooi. So ’n ou bitterbek, seker die pen in gal gedoop.

Verbeel jou, die bome verwyder. Hoe verwyder ’n mens ’n volgroeide boom? Verwag die ou bitterbek hy moet sy bome afkap?

Hy bekyk die briefie weer. B.G., staan seker vir Bittergal, darem nie so kras soos bitterbek nie. Kon sy nie net kom praat het nie? Nou kom sy met ’n briefie.

Basie los die briefie op die lessenaar; hy sal môre daaraan aandag gee.

Die volgende oggend is Basie vroeg in die studeerkamer en kry sy werk vir die dag reg. Toe sien hy weer die nota. Hy neem ’n vel papier uit die laai en skryf: B.G. (Bittergal), ek sal Saterdag aandag gee aan jou riool. B.

Toe hy kantoor toe vertrek, gaan druk hy dit sommer onder haar deur in. Seker maar ’n oujongnooi. Sy en haar katte sal nog slaap.

Die middag is Basie op die uitkyk vir ’n nota, en sowaar, daar lê dit in sy pienk glorie. In die studeerkamer lees hy: B (Brolloks), dit is nie my riool wat aandag moet kry nie; dit is jou bome. B.G.

So ’n ou bittergal, vervies Basie hom. As sy van briefies hou, hy kan ook skryf en sal dit môre aflewer.

Bittergal, dit is môre Saterdag, indien jy nie weet nie. Ek sal jou om 09:00 met ’n besoek vereer dat ons die saak in reine bring. B.

Die volgende aand is Basie amper teleurgesteld toe daar nie ’n briefie is nie. Twee ou mense het in die huis langsaan gewoon tot hulle ’n paar maande gelede ouetehuis toe is. Basie het gemerk dat daar vroeër die maand iemand ingetrek het.

Sedert Sonja, sy vrou, se dood so drie jaar gelede het hy hom aan die samelewing onttrek. Hy moes seker langsaan gaan kennismaak het, maar hy het net nie daarby uitgekom nie.

Saterdagoggend om negeuur daag Basie langsaan op met die gereedskap wat hy kan nodig kry.

Toe hy sy hand uitsteek om aan die deur te klop, gaan dit van binne oop.

Basie staar die vrou aan. Sy is so om en by 50; sy ouderdom. Sy moes mooi gewees het toe sy jonk was, want sy is nog mooi. Maar ’n oujongnooi sal mos goed lyk, want sy ken nie swaarkry en jouself verniel nie.

“Môre,” bring sy Basie terug.

“Ek kom vir jou riool, en die wortels,” bepaal hy hom by die doel van die besoek.

“Ek het reeds die riool laat regmaak, maar hulle sê die bome moet uit, anders groei dit terug,” antwoord sy.

“Dan gee ek net aandag aan die bome,” probeer Basie darem nie so onvriendelik wees nie.

“Die bome is aan jou kant, so hierdie kant is niks te doen nie,” beantwoord sy Basie se vriendelike poging nie te vriendelik nie.

Hulle sou heeldag kon redekawel, maar Basie het haar oorreed dat sy net luister terwyl hy verduidelik wat hy gaan doen en hoe.

Hy gaan nie sy bome afkap nie; ’n mens kap nie ’n boom af wat lewenslank groei nie. Hy gaan die wortels afkap wat deurgroei, dan ’n sloot grawe en ’n sinkplaat teen die kant sit. Die regte ding is die bou van ’n enkel-steenmuur onder die grond, maar die plaat sal ook die wortels keer. Niks gif nie; hy wil nie die bome doodmaak nie.

Wonder bo wonder gaan sy saam met hom kyk wat hy gaan doen. Toe loop sy huis toe, iets waaroor Basie dankbaar is, want hy soek nie ’n toeskouer nie.

Hoewel Basie nie ’n ambagsman is nie, doen hy graag sulke werkies self, maar nie vir ’n bittergal buurvrou nie. Die sweet tap Basie af. Hy het al die nodige gereedskap gebring, maar drinkwater vergeet. So of sy Basie se gedagtes kon lees, kom sy ’n rukkie later met vrugtesap daar aan.

Sy bied dit aan en bly staan terwyl Basie drink.

“Dit lyk of jy amper klaar is,” sê sy toe die stilte ongemaklik raak.

“Juffrou, dit is . . .”

“Mevrou,” help sy Basie reg.

“O, nie geweet nie, waar is jou man dan?” vra hy sonder enige rede.

“Twee jaar gelede oorlede,” is al wat sy sê. “Dit moes seker vir hom ’n verlossing gewees het met so ’n bittergal,” sê Basie onnadenkend.

“Nie vir hom nie, vir my, want hy het hom dood gedrink, maar so ’n gevoellose mens soos jy sal nie verstaan nie,” kom dit met seer in haar stem en oë.

Sy vat die drinkgoed en swaai driftig weg en stap met dieselfde drif huis toe. Basie verwonder hom aan haar goed gevormde lyf, maar ook nie sonder skaamkry nie. Sy opmerking was gevoelloos en ongevraagd. Hoe sê ’n mens nou ekskuus?

Nadat Basie alles mooi opgeruim het, is hy huis toe sonder om eens te sê hy loop. Die aand vind Basie ’n bakkie met ’n deksel op die stoeptafeltjie. Hy maak dit oop en sien die heerlikste vetkoeke, en natuurlik die pienk briefie vol vetkolle.

Hy lees: Brolloks, dankie vir die regmaak. B.G.

Basie vat dit en eet sommer by die kombuistafel, heerlik soos Sonja dit nog gemaak het. Hy smeer party appelkooskonfyt en ander eet hy met fyn biltong. Later in die bed lê Basie en dink aan die mooi vrou van langsaan. Is sy regtig so bittergal of is dit dalk maar hy wat sy uitkyk op die lewe verloor het?

Hy gaan nie sy bome afkap nie; jy kap nie ’n boom af wat lewenslank groei nie

Die volgende oggend op pad kerk toe gaan sit Basie die bak voor haar deur met sy briefie.

Bittergal, die vetkoek was heerlik. Die werk het ek ter wille van my bome gedoen, nie vir jou nie. B.

Ná kerk kom hy tuis en stap met die enkele trap die stoep op en sien iets roois op die tafel. Hy stap daarheen en sien dit is ’n bloedrooi brandrissie met ’n nota wat met ’n kopspeld vasgesteek is.

Hy lees die enkele woorde: Brolloks, jou nagereg. B.G.

Basie glimlag; hy is seker daar is soveel humor as venyn in die nota, maar hy verdien dit, want hy het homself swak uitgedruk. Die Maandagaand ná werk koop Basie op pad huis toe ’n dosie sjokolade wat hy tuis mooi toedraai. Hy plak sy nota op die dosie.

B.G., kom braai Woensdagaand 18:00 by my; ek sal die deeg regkry, dan maak jy vetkoek. Dankie. B.

Basie lewer die briefie eers teen donker af, want hy wil nie betrap word nie. Dinsdagaand kyk hy vir haar antwoord, maar niks. Dit is haar manier om hom te straf, want nou weet hy nie of sy gaan kom nie. Hy laat hom nie afsit nie en berei voor asof sy gaan kom.

Woensdagaand teen sesuur hou Basie die voortuin dop en stiptelik om sesuur kom sy aangestap. Haar rok vlei haar figuur, nie uitdagend of uitlokkend nie, maar darem so dat hy sien sy het ’n mooi figuur en bene.

Basie verbaas homself toe hy hom hoor sê: “Jy lyk pragtig,” en die ergste is, hy bedoel dit.

Basie en Sonja het nie baie onthaal nie, maar sedert haar dood het hy nie mense ontvang nie. Afgestomp, tot hier waar hy hom vanaand laat betower.

Basie bied haar ’n sjerrie aan en hulle staan by die binnebraai terwyl hy die vuur aansteek.

Nadat Basie die vuur aangesteek het, draai hy na haar, en terwyl hy haar arm liggies druk, vra hy: “Vertel my van jou man; ek wil graag weet en sal luister.”

“Ek was kwaad en seergemaak, maar ek sal jou vertel,” sê sy.

Sy vertel dat sy met ’n goeie man getroud was en dat hulle baie gelukkig was. Hulle was sosiaal en dit is waar die drank hom gevang en vernietig het. Hy het haar nooit aangerand nie, maar dit was later ’n nagmerrie om saam te leef.

“Die ergste was ek het my geliefde man verloor. Dit was regtig ’n verlossing met sy dood,” sluit sy haar vertelling af.

“Jou vrou?” vra sy. “Daar was seker een?” vervolg sy.

“Kanker, drie jaar terug; dit was erg,” antwoord Basie kort. “Ek het afgestomp en onsensitief geraak teenoor dié wat gelukkiger is as wat sy was,” kom dit met seer in sy stem.

“Dit is seker hoekom ons so na mekaar byt, maar ek kon sien Brolloks is nie wat hy hom voorhou nie,” sê sy met ’n bietjie spot in haar stem, maar ook deernis.

“Wie is B.G.; ek bedoel jou naam?” vra Basie.

“Bedoel jy voor Bittergal? Bessie Gouws,” sê sy amper verleë. “En Brolloks?”

“Basie,” sê hy, en dan, “aangename kennis, Bessie.”

Basie steek sy hand uit en sy neem dit, maar dan trek hy haar teen hom vas en gee haar ’n druk. Basie voel hoe sy hormone deurmekaarraak met die soete gevoel ná drie jaar van bitter wees. Toe hul lippe mekaar s’n vind, weet Basie dinge gaan nie dieselfde wees nie.