Miekie grom en maak sy skootrekenaar met ’n sug toe. Die nuwe bure se kinders lawaai weer vreeslik vandag. Sedert die pandemie word hy gedwing om van die huis af te werk. Alles het klopdisselboom verloop tot die meenthuis reg teenaan syne vyf dae gelede nuwe intrekkers gekry het. 

Dit was altyd lekker om op die stoepie by sy klein swembad te sit en werk, maar nou moet hy heeltyd maak of hy nie die drie pare diepbruin oë raaksien wat gereeld oor die skeidsmuur loer nie. Hy weet dat een van die pare oë twee parmantige poniesterte het, en die ander twee se eienaars het kort seunshaarstyle.

Vandag loer een van die korthaar-eienaars oor die muur en Miekie moet twee keer kyk om seker te maak dat hy reg gesien het. Die kort bruin hare lyk of ’n rot dit beetgekry het. Hy kan minstens drie kaal kolle tussen die deel bo-op die kind se kop uitmaak.

“Het hy jou gesien?” hoor hy ’n fyn stem agter die muur praat. 

“Ek weet nie. Dink jy hy sal my help? Tannie Belinda gaan horries kry as sy my hare sien.”

“Ek het jou gesê dat jy die goed moet uitlos, maar jy het nie ore nie,” raas die fyn stemmetjie weer.

“Jy moet leer om geluldig te wees.”“Nina, jy is nie my ma nie,” lispel die kind wat skynbaar nie ore het nie. “En die woord is geduldig.”

“Jy kan bly wees ek is nie jou ma nie,” mor Nina. “Kan ’n mens nie jou hare terugplak nie?”

“Ben het dit klaar in die toilet afgespoel. Jy weet mos tannie Belinda bly nie lank weg as sy inkopies gaan doen nie. Hy was bang sy sien dit.”

“En dink julle twee sy gaan nie die kaal kolle op jou kop raaksien nie? Ek sal die oom moet vra of hy kan help voor sy kom,” offer Nina.

“Lig my op.”

Miekie vou sy arms oor sy bors. Dit behoort interessant te wees . . . 

Die bo-deel van ’n kop groei bokant die siersteenmuur uit tot oë en ellelang wimpers sigbaar is. Dan volg ’n fyn neus, lippies en ’n ken.“Middag, Oom,” praat Nina senuagtig. “Ons het ’n probleempie. Ek weet tannie Belinda sê ons moet wegbly van vreemdelinge en die nors buurman af, maar ons is in die moeilikheid, en gaan maar ’n kans vat,” babbel sy voort.

Miekie lig sy wenkbroue. Sy gedagtes het by die deel van die nors buurman vasgehaak en hy dwing hom om vir die kind te luister.

“Dis Johan se hare.”

Miekie se mond smelt self tot in ’n glimlag. “Wat van sy hare?”

“Dis kol-kol kaal.”

“Maak gou, my skouers val af,” protesteer Johan anderkant die muur.

“Wag net hier, Oom. Ek is nou terug,” sug Nina en verdwyn.

Miekie hoor hoe iets oor die plaveisel gesleep word en hy raai dat dit ’n plastiektuinstoel is. “Draai die emmer om,” hoor hy Nina se stem. “En hou dit vas! Plêstiek op plêstiek werk nie so lekker nie.”

Mm, dink Miekie, Nina is wys vir so ’n klein meisietjie.

“Ek is terug,” sug sy oor die muur. “Het Oom ’n knipper?”

“Ek het.”

“Weet Oom hoe die ding werk?”

“Ek doen.”

“Kan ek vir Johan oor die muur help, dan skeer oom gou al sy hare af. Voor . . . voor dit te laat is.”

“Te laat vir wat?”

“Ag Oom, kan Oom eers skeer, dan verduidelik ons daarna?”

“Weet jy dat ek in die moeilikheid kan kom as ek ander mense se kinders se hare skeer sonder die ouers se toestemming?”

“My pa sou ja gesê het as hy hier was,” antwoord Nina vinnig. “Hy is alleen by die huis. Met kouwit. Die dokter sê hy moet.”

“En jou ma?”

“Ook in die hospitaal. Met ons nuwe sussie. Nou moet ons by tannie Belinda bly, en glo my, dis moeilik. Sy is nie gewoond aan rerrotiste nie.”

“Terroriste,” help Johan haar van anderkant die muur reg.

“Daai woord,” sê sy. “En sy is al moeg vir ons. Ek is bevrees hierdie ding gaan haar oor die grot stoot,” sug Nina.

“Oor die afgrond,” kom Johan se stem weer.

Dit maak nou sin hoekom hy nie van dag een af die kinders gehoor het nie. “Hoe oud is jy?”

“Ses. Johan en Ben is sewe. Pa sê hulle is dabbel trabbel,” giggel sy.

“O. ’n Tweeling?”

“Jip. Ja,” korrigeer Nina vinnig en Miekie het ’n idee dat die Belinda-vroumens iets met die beter taalgebruik uit te waai het. 

“Waar is Ben?”

“Hy probeer die knipper aanmekaarsit. Dit het uit sy hande gegly toe hy Johan se kuif wou korter sny. Dit het heeltyd in sy oë gehang en was ieneterend.”

“Irriterend.” Johan aan die anderkant van die muur.

“Ek dink julle moet wag tot julle tannie Belinda terugkom. Dan kan sy eers toestemming gee dat ek Johan se hare knip."

Miekie sien hoe ’n meisietjiegesig in ’n oogwink soos ’n rosyntjie opplooi en net nadat haar mond wyd oopgegaan het begelei trane die donkiegeskal wat sy ore vul. “Oukei, oukei! Hou net op balk,” mor hy en staan op. “Ek . . .”

“O jimmel, dis te laat! Die draak is terug,” kreun Johan agter die muur. “Klim gou af voor sy horries kry.”

Miekie se nuuskierigheid is nou geprikkel. Die buurvrou is skynbaar ’n draak wat horries kry as die kinders iets aanvang. Hy het haar net een keer skrams by die hek van die kompleks teëgekom en sy het nie eens in sy rigting gekyk nie. Hy staan op, klim die drie trappies na benede en gaan staan langs die muur. Gelukkig is dit agt voet hoog en die draak sou hom nie kon bespeur nie.

“Hello Nina. Ben. Jammer dat ek so lank geneem het. Ek sien ouma Lettie het voor die televisie aan die slaap geraak. Waar is Johan?” 

Miekie se mening is dat die vrouestem heel tegemoetkomend klink. En dis die eerste keer dat hy verneem dat hier nog iemand langsaan is. Dus het die buurvrou nie die kinders heeltemal alleen gelos voor sy die strate ingevaar het nie. “Hy…” Nina se stem word stil.“

Hier is ek,” lispel Johan. Buurvrou se geskokte inasem is hoorbaar bo-oor die muur. “O, my genade! Ons gaan netnou ry om julle ma en nuwe sussie by die hospitaal op te laai, en kyk hoe lyk jy! Sy gaan horries kry!”

Ah, nog ’n vroumens wat horries gaan kry. Miekie wonder skalks of horries in die bure se bloedlyn loop. 

“Ons kan dit mos alles kort skeer,” offer Johan. “Dis buitendien warm.”

Daar is ’n stilte voor buurvrou weer praat. “Dis dalk ’n plan. Ek kry gou die knipper.”

“Uhm, nee, dit sal nie werk nie,” babbel Nina vinnig.“Daar is nie ’n manier dat ek met ’n skêr al sy hare eweredig gaan knip nie. Die knipper is die ideale oplossing.”

Miekie staan en luister hoe Nina vir die buurvrou vertel dat haar knipper gesneuwel het. “Maar die oom langsaan het een wat ons kan leen. Ons het hom klaar gevra.”

“Ek ry eerder weer en gaan koop nog een,” mor buurvrou. “Die man kyk anderpad as ek by hom verbyry.”

Miekie se nekhare rys en hy na-aap die kinders se tuinstoeltruuk voor sy gesig bokant die muur verskyn. “Goeiemiddag. Ek verstaan dat julle hulp nodig het,” sê hy en knipoog vir Nina. Belinda se mond gaan oop en toe maar sy kry nie ’n woord uit nie. Waar kom die man aan sulke diepgroen oë?

“As jy wil kan ek gou my knipper kry en Johan se hare egalig sny voor sy ma die piep kry,” offer Miekie. “Ek is Michael, of Miekie vir dié wat my goed ken.”

“Horries. Nie piep nie,” lag Belinda met rooi wange. “Adele is my tweelingsuster en haar drie terroriste is in my sorg tot hul ma vandag ontslaan word uit die hospitaal. Dan gaan hulle twee ook hier kuier tot Benjamin se isolasietydperk verby is. Gelukkig het die huis vier slaapkamers.”

Sy vryf oor Johan se stoppels. “Dankie, ons sal jou hulp aanvaar. Ons loop gou om na jou hek toe.”

“Dis makliker as ek na julle toe kom,” sê Miekie. “Ek is nou daar.”

Miekie leer in 20 minute dat die buurvrou nie ’n hoogmoedige draak is nie. Haar huis hang immers vol familiefoto’s. En noudat hy die drie kinders van aangesig tot aangesig ontmoet het, sien hy dat hulle normale klein wesentjies is wat eintlik baie intelligent is vir hul ouderdom.

Die ouma slaap steeds soos ’n klip in die uitskopstoel voor die televisie.“Sy haal nog asem. Ons het klaar gevoel,” fluister Nina ’n antwoord op die vraag wat deur Miekie se gedagtes gaan.

Johan lyk so mooi ná die haarknippery dat Ben besluit om ook sy hare so kort te dra. Nina staan gereed met ’n klein besempie en skopgrafie en vee enige hare wat op die stoepie se teëls beland dadelik daarin. Belinda verskyn in die deur. “Kan ek vir jou iets offer om te drink vir jou moeite?”

“Hy kan sommer netnou saam met ons braai,” offer Nina. “Dan kan hy vir Simone ontmoet. Dis my nuwe sussie,” glimlag sy.

“Nina, dalk het die oom ander planne. Jy kan mos nie . . .”

“Inteendeel,” val Miekie haar in die rede. “Dié oom sou net voor die televisie uitgespan het. Ek kan doen met ’n uitstappie. Moet ek vleis bring? Of ’n slaai?” 

Dit was drie maande gelede. En nou sit Belinda langs Miekie op sý stoepie, en sy het nog nie een keer in die laaste 90 dae horries gekry nie.

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.