Alex raak aan die losgetorringde koperknoop en skuif die draadraambril terug op sy neus.

Hy het die mokdossier onder oë gehad met al die agtergronddetail oor die rol wat hy moet speel tydens vanaand se misterieuse “Moord-by-die-partytjie” by die Esmoné-boetiekkelder.

Hoe belaglik!

Erger nog is dat dit alles Meline se sotlike idee was dat hy dit bywoon.

Met ’n tema soos “Casino Fataal” het hy geweet hy laat homself vir meer in as waarvoor hy kans sien.

Hy is moeg gewag vir haar. Moeg om altyd met net die krummels tevrede te wees.

’n Man kan ook net soveel verduur. Hy dwing die kelkie met die koue komkommersop wrang by sy keel af. Dis veronderstel om die palet skoon te maak. Al wat dit doen, is om hom naar te laat.

Alex staar strak om hom rond.

Alles, van die alfresco-grasperke by die proelokaal tot by die vinothèque, is prentjiemooi tussen die wingerde teenaan die Bolandse berge geplaas.

Vanaand is ekstra moeite gedoen om die verouderingsaal in ’n dobbelhuis te omskep, met vier blackjacktafels en twee rye dobbelmasjiene aan elke kant van die vertrek.

“Is dit nie opwindend nie!” kraai Meline. Sy lyk verruklik in daardie swart rokkie. Dit is ook net om sy aandag af te lei.

As sy net weet wat dit aan hom doen. Die flitse van haar oproerige kamera hap gulsig aan alles.

Sy ryg die beelde om hulle in. Sy moet haarself voordoen as die verslaggewer wat op ’n reusedeurbraak wag.

Hy wonder moedeloos of dit nodig sou wees om die hele aand se verrigtinge by te woon.

Dan fladder die gasvrou se stem deur die skemer kelder. Sy stel haarself voor as Peggy, die bestuurder van die denkbeeldige Casino Lady Lux.

“Hier tussen ons wingerde is die fokus daarop gestel om slegs die beste wyn gebottel te kry. Ons vlagskip is natuurlik die Esmoné-enkelwingerd-shiraz, Splith; daarom het ek dit goed gedink om ’n Colombar-en-Chenin Blanc-versnit vir julle vir hierdie geleentheid te berei. Nou ja, geniet die aand saam met ons!”

Die kelners sit die eerste kanapees voor. Eindelik bring hulle iets wat hy kan eet! Alex se maag ontvang die bloukaas- bedruipte steak mildelik.

Skielik doof die krag uit en die gaste skarrrel rond. ’n Honende gil vul die vertrek voor die ligte weer ophelder. “Die liggaam van die tafels se top-kaartdeler is in die kombuis gevind,” laat hoor ’n glimlaggende Peggy geheimsinnig.

Meline dien hom ’n harde skouerpomp toe. “Jy is mos die sjef. Waarvoor wag jy?” Peggy onderbreek hulle.

“Ek sal ongelukkig almal se selfone moet konfiskeer,” sê sy en raap sy foon teen sy sin weg voor dit by haar donker lapsak in verdwyn.

Die gaste spat met oorgawe deur die vertrek. Buite die kelder hang die skemer soos ’n silwer gordyn oor die ryp wingerde.

Alex vorder tot by die kombuis, waar hy ’n vleishamer en ’n verlore ring vind. Hy het dit vroeër die aand gesien, dink hy meteens effens opgewonde. Mev. Brummel! Ja, dit is sonder twyfel die modeontwerper se ring. Of was dit? “Hierdie leidrade lei tot absoluut niks,” mor Alex geïrriteerd toe Meline weer by hom aansluit.

“Dit kan wag,” sê sy met ’n glimlag. “Kom.”

Die verligting spoel oor hom toe hulle in die privaatheid van ’n kantoor agter die vinoteek wegglip.

“Eindelik alleen,” fluister sy. “Ek het ’n kode gekry. Jy sal dit mos kan ontsyfer?”

Alex staar huiwerig na die flikkerende lig van die rekenaarskerm terwyl sy hom tot by die sagte leerstoel vergesel. Meline skuif met haar slanke lyf tot op sy skoot.

“Ek begeer dit al so lank om jou so teen my vas te kan hou,” sug hy. Haar asem jaag.

“Die kode . . .” Sy vingers ken die rekenaartale terwyl hy blitsig die vorms, skripte en bronteks vir die rekenaar voer.

“Dit kan wag,” mymer hy en leun saggies oor haar. “Hoe het julle hier ingekom?” vra Peggy meteens.

“Die deur was oop.” Alex probeer wegglip.

“Nie so haastig nie, Alex. Die gaste het jou geïdentifiseer as die moordenaar en is angstig om hul prys op te eis,” sê Peggy.

“Ek het genoeg hiervan gehad!” mor Alex en stap uit die vertrek met Meline kort op sy hakke. “Hoe gaan jy in Johan Jordaan se kantoor inkom?” fluister Meline.

“As Peggy my nie so fyn dopgehou het nie, sou dit dalk makliker kon wees,” sis Alex. Hy sien uit die hoek van sy oog hoe die kelderbestuurder, Johan Jordaan, hom nader. Meline verdwyn woordeloos tussen die groep mense voor hulle in. Johan beweeg met wye handgebare tot by hom.

“Ek glo nie dat ons al vanaand die kans gehad het om met mekaar te gesels nie, Alex. Sou jy omgee om gou eenkant privaat met my te gaan praat?”

Die soel lugverkoeling van die weelderige vertrek laat Alex ril. “Hoe ken jy die dame wat jou vanaand vergesel het?” vra Johan terwyl hy die kristalglase op die olienhoutafel voor hom plaas.

“Beproef gerus hierdie Cabernet Franc,” bied Johan aan. Alex sluk die wyn vinnig weg en sê dan: “Om eerlik te wees, ek het Meline nog net vlugtig ontmoet met my vorige besoek toe ek hier was.”

Johan vee oor die donker besem aan sy bolip en takseer Alex van onder sy lui ooglede.

“Meline is gif.” Alex staar die man woordeloos aan. “Sy is een van die beste wynmakers wat ek al ooit gehad het. Sy het jare gelede in die Rône-vallei in Frankryk gepars.” “Wat het dit met my te make?”

“Jou telefoonnommer verskyn op al die rekords wat ek nagegaan het hier in die kantoor.” Alex sluk merkbaar. “Sy het my mening oor ’n sekere rekenaarpakket gevra wat sy wou aankoop, maar ons het dit ongelukkig nie in voorraad gehad nie.” “Ek gaan oop kaarte met jou speel, Alex. Meline het planne beraam om diamante in sommige van Esmoné se wynversnitte te versteek en te versend. Ek het ’n begaafde rekenaarprogrammeerder soos jy nou nodig. “Haar vriend, Kobus Brand, het kodes geskryf wat aan al die versendings gekoppel was.

Die man het natuurlik soos mis voor die son verdwyn.

Ek sal jou mildelik vergoed vir jou dienste.”

Daar is ’n loodsmaak op Alex se tong toe hy die volgende oggend wakker word. Hy staar na die rekenaarkodes wat hy aan die binnekant van sy arm neergeskribbel het. Sy selfoon lui. Hy herken die stem.

“Dit is nie ’n speletjie diénie, Alex. As jy nie doen wat ek vra nie, sal jy spyt wees,” stoom Johan voort.

Alex val hom in die rede: “Ek het reeds gisteraand nadat ek jou sisteme gesien het aan jou verduidelik dat die kodes wat Kobus geskryf het te ingewikkeld is. Ek kan niks daarvan kraak nie!” Johan se stem bars deur die gehoorbuis.

“Jy sal doodeenvoudig weer moet probeer. Ontmoet my om twaalfuur vanmiddag op Slanghoek.” Alex sluk aan die droogheid in sy keel toe hy weer met sy Range Rover voor die grasdakkelder van Esmoné stop wat soos ’n droombeeld tussen die groen laslappieheuwels opdoem. Johan staan bo teenaan die oprit met sy strakwit hemp en wag.

“Jy is laat.” Alex volg hom met afgemete treë tot binne-in sy kantoor.

Dan sê hy: “Ek het intussen van ’n ander, beter program onthou wat ek kan gebruik.” Johan knik tevrede.

“Dis wat ek wil hoor. Maak jouself solank gemaklik. Jy het minder as 24 uur om vir my die kodes te ontsyfer. “Kobus het dalk weggekom. Jy sal nie so gelukkig wees nie.”

Teen sononder staan Alex met ’n wit koevert in die hand. Hy hou dit uit. “Hier is die lys met jou gekraakte kodes en versendingsadresse. Dit was goed om met jou besigheid te doen, mnr. Jordaan.

Tot siens.” Johan lyk verlig. “Ek kan jou nie genoeg bedank nie, Alex.”

Die tafel is gedek vir die opening van die gesogte kuns-en-wynveiling in Sotheby’s se galery in Milaan. Gevestigde kunstenaars het almal van vroeg af ingestroom.

’n Paar besonderse kratte gevul met van Esmoné se beste wyne kom ook onder die hamer. Sy sit in die derde ry. Haar hare is heelwat korter. Hy sal daardie lenige bene op enige plek uitken.

Die wit ontwerpersrok beklemtoon haar sonbruin rug en hy weet vir seker dat hy haar gekry het.

’n Bod word toegeslaan op ’n beeldhouwerk van Marina Scholtemeijer terwyl almal se fokus op die naakstudie van Amedeo Modigliani gerig bly. Esmoné se 1986-Pinotage is volgende op die lys.

Sy lag wydmond agter die klein swart bordjie.

Die man met die vlek aan die wang stoot die bod die hoogte in met $80 000 vir 12 kratte. Alex lig sy bordjie vir $150 000.

Die afslaer bring die hamer neer. Die son knik sy kop oor die veerboot waarop Alex en Meline staan, met Amalfi se kuslyn op die agtergrond, . Hy steel die olyf reg tussen haar tande uit.

Meline volg sy bewegings van onder haar digte wimpers. Sy griffel haar vingers tussen sy dik hare deur. Daar is ’n smalende fyn glimlaggie wat om haar mondhoeke pluk.

“Jy was ongelooflik.”

Alex lig die onooglike draadraambril van sy neus af. Sy wag geduldig tot hy die res van sy vermomming ook afstroop.

“Hoekom het jy so lank geneem, Kobus?”

vroetel sy met haar pruilmond teenaan sy nek. Hy skeur die laaste stukkies lateks van sy neus af los.

“Johan Jordaan het geen idee wat hom getref het nie,” lag hy.

“Hy gaan nog lank wonder wat van jou en Kobus geword het. Nadat ek die virus op sy rekenaar gelaai het, het alle spore van julle vir ewig verdwyn.”

Haar hare vorm ’n gordyn oor sy gesig. Haar lippe proe na soet wyn.

Die soort waarvan hy nie genoeg kan kry nie.