’n Herfsweek in Clarence! Wat ’n lieflike vooruitsig, dink sy toe sy haar kar se neus suidwaarts stuur. Sy gaan koud kry in die berge, maar dis hoekom ’n mens Clarence toe gaan: ’n boek, ’n kaggelvuur wat knetter en ’n glas rooiwyn in die hand.

Moet ook nie vergeet van Karlien se kos nie. Sy gaan steen en been kla oor die ekstra kilo’s wat moet saam huis toe. Karlien het twee jaar gelede die deur van haar prokureurspraktyk in Sandton agter haar toegetrek. Die klein gastehuis op Clarence sou haar voortaan aan die lewe moes hou. Dit was nie te moeilik nie. Die wêreld en sy mense het lankal van die bekoring van die bergdorpie in die Drakensberge gehoor, en haar gastekamers is permanent volbespreek.

Sy moes al maande vooruit hierdie datum vir haar sus deurgee.

Die padpredikant vertel dis nog 10 km tot op Clarence. Meteens lui haar foon en sy moet aftrek. Karlien se naam flits op die skerm. “Haai, Sus,” begin sy, maar Karlien maak haar stil.

Sy luister geduldig, maar hoor die ontsteltenis in haar sus se stem. Dié vertel haar sy het vroeër die middag van die leertjie afgeval toe sy ’n bottel ingelegde pere uit die spens wou haal. X-strale het pas bevestig die voet is gebreek en sal geopereer moet word. Monika luister gelate. Sy voel intens jammer vir haar suster, maar eintlik wil sy huil om haar eie onthalwe. Sy het baie uitgesien na ’n week van bederf!

’n Skraal blonde man staan op die matjie, tasse in die hand. Onder sy arm is ’n bottel rooiwyn geknyp.

Dan hoor sy Karlien is besig om instruksies uit te deel. “Bongile is huis toe die naweek, so jy sal moet kos maak.” Haar sussie raak weer onhoorbaar tot sy weer iets kan uitmaak: “Sorg asseblief mooi vir hom. Pierre . . .” en dan is daar niks verder nie. Wie is Pierre? Weet Karlien wat sy van haar vra? Sy sukkel om ’n eier te kook, en nou moet sy vir vreemde gaste kos maak.

Sy probeer Karlien bel, maar die blikstem verduidelik dat die persoon nie nou beskikbaar is nie. Nou is sy bekommerd. As sy haar sussie reg verstaan het, moet sy vanaand kos maak. Dêmmit, hoekom moes Bongile juis hierdie naweek huis toe gaan?

Die gastehuis is in een van die dorp se systraatjies. Daar is nog geen ander voertuig onder die afdak nie. Dankie tog, die ander gaste is nog nie hier nie. Dit gee haar kans om tot verhaal te kom voor sy in die kombuis moet kyk wat sy kan optower. Met ’n vuurtjie wat gesellig in die groot ingeboude kaggel knetter, is dit tyd om die resepteboeke nader te trek. Al waaraan sy nou kan dink, is sommer spaghetti bolognese. Dis die enigste gereg waarmee sy al redelike sukses behaal het. Daar is maalvleis in die yskas en ’n pak spaghetti in die spens.

Sy kan egter nie begin voor sy weet hoeveel gaste gaan opdaag nie. Wie is Pierre? wonder sy. Dis al skemer toe sy ’n kardeur hoor klap. Minute later klingel die skeepsklok by die voordeur. ’n Skraal blonde man staan op die matjie, tasse in die hand. Onder sy arm is ’n bottel rooiwyn geknyp. ’n Oomblik lank wil-wil hy bekend lyk, maar toe hy hom as Pierre du Toit voorstel, lui die naam nie ’n klokkie nie.

Dis dan die geheimsinnige Pierre van wie Karlien haar vroeër nog wou vertel. Sy stap saam met hom tot in die een gastekamer. Sy vertel hom van Karlien se penarie en dat sy vanaand gasvrou gaan speel. “Maak jou tuis. Ek is in die kombuis as jy iets nodig het,” sê sy.

Sy loer in haar suster se kantoortjie in en sien die dagbeplanner raak. By die datum is daar net twee name. Kleinsus en Pierre. Dankie tog. Sy hoef dus nie vir ’n hele koshuis te kook nie. Terwyl die uie in die pan braai, kom die skraal man ingestap.

“Kan ek vir jou wyn ingooi?” wil hy weet terwyl hy twee wynglase van die rak afhaal. “Wat maak jy? Kan ek help?” Sy keer hom gou. Karlien het immers gesê sy moet mooi na hom omsien.

Vanaand gaan hy van haar spaghetti bolognese eet. Die pot waarin sy die spaghetti vroeër gegooi het, kook verwoed. Sy gaan sit op die stoel langs hom en wonder ’n oomblik lank wat sy hom kan vra. Gelukkig begin hy die gesprek. Nie te lank nie of hulle gesels land en sand. Hy is vir ’n blaaskans in Suid-Afrika, vertel hy.

Hy het dit goed gedink om hier by Karlien op Clarence te kom afpak vir ’n week of twee voor hy moet terugkeer Frankryk toe. Hulle het mekaar verlede jaar in Frankryk ontmoet toe Karlien deur Provence gereis het, en hy wou haar gastehuis kom sien. Die manier waarop hy glimlag wanneer hy oor Karlien praat, laat haar wonder of daar iets meer as net vriendskap tussen die twee is.

Die maalvleis is ook amper gaar, sien sy dan en gooi ’n lepel sout in. “Het jy nie nou-nou al sout bygegooi nie?” vra hy met ’n glimlag. Sy is onseker. Het sy? Sy hoop nie so nie. Teen die tyd dat sy die spaghetti onder koue water afspoel, sien sy dit het effens te lank gekook. Dis beslis nie al dente nie en klou in sulke hompe aan mekaar vas. Terwyl sy met die kos doenig was, het hy twee plekke by die kombuistafel gedek.

“Ons sit sommer hier,” nooi hy haar uit. Toe sy die eerste happie proe, besef sy sy het inderdaad twee keer sout ingegooi. Sy hou hom dop. Hy eet asof ’n Michelinsjef die kos gemaak het. Dan sluk sy nog ’n mondvol. Al wat sy proe, is sout. Tog word dit ’n heerlike aand.

Hulle skuif later na die twee gemakstoele by die kaggel en kuier land en sand. Toe hy ’n gaap onderdruk, besef sy dis al ná 10 en hy moet doodmoeg wees. “Dankie vir ’n lekker aand. Natuurlik is ek bitter spyt Karlien was nie hier nie, maar haar kleinsus se geselskap was heerlik! Ek sê jou wat. Môreoggend hoef jy jou nie te bekommer oor kos nie. Ek stick jou vir ’n ontbyt hier iewers op die dorp,” sê hy toe hy haar by haar kamerdeur groet.

Ek hoop ek het jou voete onder jou uitgeslaan?

Sy lê in die donker en dink aan die blonde man met sy mooi amberkleur-oë. As sy nou weet dat haar sussie nie reeds haar kleim op hom afgesteek het nie, kan sy hierdie week wat voorlê, gebruik om hom beter te leer ken. Sy sal eers daarvan moet seker maak. Dit wat sy vanaand ervaar het, laat haar hart vinniger klop.

Vroegoggend hoor sy hom in die kombuis. Toe sy instap, is die koffie al besig om in die perkoleerder te prut. “Ek hoop jy is so honger soos ek,” sê hy terwyl hulle sit en koffie drink. Net voor nege stap hulle in die klein restaurantjie in.

Meteens storm die bestuurder op hulle af. “Monsieur Pierre! Welkom hier in ons Plaaskombuis. Kan ek asseblief ’n foto saam met jou neem?” Monsieur Pierre. Sy weet waar sy hom al gesien het. Dis die Franse sjef wat ’n kookprogram op BBC aanbied. Sy het die een keer wat sy toevallig gekyk het, gewonder hoekom dié Fransman Engels op ’n eg Suid-Afrikaanse manier praat. Sy sien hoe ongemaklik hy rondskuif met al die aandag op hom.

“Miskien was dit nie so ’n goeie idee nie. Kom ons drink net gou koffie. Ek sal vir jou by die huis ’n omelet gaan maak.”

Sy stem dankbaar in en kry nie haar koffie gou genoeg afgesluk nie. Terwyl hulle in die fris oggendlug terugloop na die gastehuis, voel sy vreeslik verleë. Sy het letterlik gisteraand vir ’n Michelinsjef aaklige kos voorgesit. Dan dink sy aan die manier waarop hy aan haar kos gesmul het. Hy is waarskynlik die heel beste akteur wat jy kan kry. Sy grinnik saggies. “En as jy so lag?” wil hy weet. “Wel, ek wonder hoe jy my verbroude spaghetti bolognese in jou lyf kon kry!”

“Spaghetti bolognese?” vra hy met ’n laggie. “Is dít wat dit moes wees?” Sy lag. “Ek hoop Karlien sal my vergewe dat ek jou amper vergiftig het. Siestog, ek wonder hoe gaan dit vanoggend ná die operasie.”

“Moet jou nie oor Karlien bekommer nie. Sy het nie regtig haar voet seergemaak nie. Sy wou net vir my ’n kans gee om haar kleinsus te ontmoet en haar te betower. Verlede jaar in Frankryk het sy al geweet ek en jy pas by mekaar. Toe bedink sy hierdie plannetjie, en ek speel saam. Monika, ek hoop ek het jou voete onder jou uitgeslaan?”

Sy wonder of sy moet lag of huil. Dan merk sy die lagplooitjies om sy oë. “Dit sal meer as ’n bietjie Franse sjarme verg om my voete onder my uit te slaan. My sussie moes jou gewaarsku het. Miskien sal ’n Michelin-omelet help.”

Toe sy in die gastehuis instap, wonder sy hoekom haar wange so gloei. Is dit die koue berglug of dalk die feit dat sy skraal hand hare styf vashou?