Die lewe is totaal onregverdig, dink Amelia, terwyl sy haar opsies vir die hoeveelste keer oor ’n koppie tee en ’n sny kaaskoek sit en oorweeg. Tussen Duiwels- piek en die diep blou see lê Clifton se Vierde Strand, het haar vriend Herman onlangs geskryf.

Hy het nie geweet hoe dringend Amelia by dié strand moet uitkom nie. Hy het nie geweet hoe sy dagin en daguit sit en wik en weeg oor wat haar te doen staan nie.

Nee, heimlik weet sy wat sy moet doen, maar hoe en wanneer om haar vermoede te deel – dít is haar dilemma; dít is die olifant wat hom op haar borskas kom sitmaak het. Amelia het Zani nog nooit voorheen so sien borrel nie.

“Al my planete is skielik in lyn, mamma,” het sy haar “goeie geluk” beskryf toe hulle die eerste keer oor Skype oor haar nuwe liefde gesels. “Oliver is alles wat ek nog altyd in ’n man wou hê. En nog meer.”

Zani is nou al ’n jaar in Melbourne, waar sy besig is met haar meestersgraad in kliniese sielkunde. Sy het oor en oor probeer om by ’n Suid-Afrikaanse universiteit in te kom, maar eindelik maar die stryd gewonne gegee en begin planne beraam om iewers in die buiteland verder te gaan studeer.

“Alles in die lewe gaan oor timing, mamma,” het sy gesê toe sy besef een van haar proffies het intussen Australië toe verskuif.

Opgewonde het sy laat weet hy dien in die paneel wat haar aansoek moes oorweeg. Tydsberekening. Inderdaad, dink Amelia, terwyl die ses-skakels-van-verbintenis-teorie haar te binne skiet.

Die kleine wêreld! Al was die gedagte dat Zani minstens ’n paar jaar lank ver van haar af gaan woon swaar om te verwerk, was Amelia tog dankbaar.

En miskien, net miskien, sou sy in ’n ander land finaal van Gert-Jan en al die hartseer wat hy gebring het, kon vergeet. Oliver was in alle opsigte, so het Zani verduidelik, die teenpool van Gert-Jan.

“Hy is die liefdevolste, vrygewigste, gaafste, bedagsaamste man onder die son. Hy mediteer ure aaneen, maar mamma hoef ma nie te bekommer nie; hy dra darem nie ’n lang bruin rok nie!” het Zani laggend laat hoor. Hy streef net Zenbeginsels na.

Oliver is juis die naweek in die Grampiansberge vir ’n joga-retreat, het Zani gisteraand gesê. Sy vaar dikwels saam met hom die gramadoelas in en dan slaap hulle sommer in swags.

“Dis warmer as ’n normale tent,” het sy selfversekerd verduidelik. “Die swaar seil en kleiner binnekant help om jou liggaamshitte te behou. Dis heerlik! Mamma moet dit net een keer probeer.” “You bet,” het Amelia sarkasties geprotesteer.

“En as een van daai gruwelike slange besluit om saam te slaap? Nee dankie, sê die gansie.”

Zani wou nie hê Amelia en Oliver moes mekaar oor Skype ontmoet nie. Dis heeltemal te onpersoonlik en kunsmatig. “Ons bêre dit liewer tot ons in elk geval in September vir mamma kom kuier.”

En so het Amelia gereedgemaak vir haar dogter en haar nuwe Ozzie-liefde se koms. Sy het uitgehaal met blomme, spesiale kos en nuwe beddegoed. Strepies in die hare laat sit en ywerig probeer om ’n kilo of twee af te skud.

Sy sou hulle self die Saterdagoggend op O.R. Tambo gaan haal en nie die Uber-opsie, wat Zani voorgestel het, gebruik nie.

“Hoe sou die man lyk, die man wat weer my kind se oë laat blink?” het Amelia gewonder.

Sy sien voor haar geestesoog hoe almal verloor. Maar hoe keer sy dit?

“Presies hoe weird sou hy wees?” Amelia staan ruim betyds in die aankomssaal en raak saam met wildvreemdes emosioneel oor die weersiens van geliefdes. Dit voel vir haar asof honderde passasiers voor Zani-hulle deur die outomatiese skuifdeur stap. Eindelik sien sy haar. Sy is ’n bietjie maerder as voor sy weg is, maar haar hoog opgebinde poniestert lyk nog net dieselfde. Haar jeans en oranje K-Way-baadjie bekend.

“Mom, meet Oliver. Oliver, meet Amelia,” blom Zani.

Oliver steek sy hand uit, en Zani slaan haar arms om hulle albei. “Group hug, group hug,” bulder sy spontaan.

Amelia versteen in die omhelsing. Want hier reg teen haar aangedruk staan haar broer. Haar jongste broer toe hý 30 jaar oud was. Raafswart hare, blou oë, diep kuiltjie in die kennebak.

Die bolla op die agterkop is nie Charl nie, maar so seker soos twee maal twee vier is, so seker is Oliver Baudenette bloedfamilie. Op pad huis toe babbel Zani soos ’n verfbalgeweer. Poef, poef, poef. Sy geniet die rol van toergids.

In Australië is sý die een wat gedurig uitvra en uitgehelp moet word. Daar is sy gewoonlik die oningeligte. Hier kan sy elke vraag wat haar kant toe skiet met groot selfvertroue beantwoord.

Oliver is ’n nuuskierige passasier en Zani geniet elke oomblik daarvan. Amelia registreer byna niks van die geselsery nie. Dit voel asof sy onderwater na golwende stemme bo die oppervlak luister, met ’n membraan tussen haar en die ander twee insittendes wat die woorde onduidelik en ver weg laat klink.

Haar hande is klam op die stuurwiel. Bloed stoot teen haar nek op en bruis, teen alle gravitasiereëls in, oor haar gesig tot verby haar haarlyn. Dit voel soos die bekende “gloede”, maar sy weet: Hierdie keer is dit nie dit nie. Dit kan tog nie wees nie. Wat is die kans?

’n Naald in ’n hooimied!

Sy kyk kort-kort in haar spieëltjie. Oliver neem geesdriftig aan die toer deel. Die verliefdes is grotendeels onbewus van hul motorbestuurder se teenwoordigheid.

Ook maar ’n genade, dink Amelia. Hoe sou sy haar paniek verduidelik sonder om haar waansinnige vermoede uit te blaker. Sy moet eers seker maak. Maar selfs Oliver se geanimeerde manier van praat herinner haar aan Charl.

Om die waarheid te sê, hoe langer sy hom sien, hoe groter word die besef dat dit nie haar verbeelding kan wees nie. Dat hy nie ’n hologram is nie. Dat dit nie ’n surrealistiese nagmerrie is nie.

Amelia weet daar sou wel ’n verklaring vir die ongelooflike ooreenkoms kon wees, maar dit is iets waaraan sy jare laas gedink het. Haarself doelbewus verbied het om aan te dink.

Sy het dit ook nooit, ooit met enigiemand bespreek nie. Sommige geheime gaan doodgewoon saam met ’n mens graf toe. Maar iewers in haar brein was daar weliswaar, dit besef sy nou, ’n lêer waarin dié hartseer inligting opgeteken gelê het. Hoe gaan sy dit aanpak sonder om vir Charl te betrek?

Charl weet uiteraard nie dat sy weet van die gesprekke wat 30 jaar gelede agter geslote deure gevoer is oor ’n “ongewenste” swangerskap nie. Sy meisie was 16; hy 17.

Albei ouerpare en die tieners het besluit dat aanneming die beste uitweg is. Vir seker nie die maklikste nie, maar die beste. Daarna het die meisie, haar naam was Liezl, uit sy lewe verdwyn. Haar ouers het Kaap toe verhuis.

Charl het met die lewe aangegaan. En nou dit. Amelia sien haar kind tot barstens toe verlief. Sy sien misvormde babas. Sy sien Charl se vrou wat in ongeloof vir Oliver ontmoet. Sy sien blinde en dowe kinders.

Sy sien hoe geskokte dogters hul rug op hul pa keer. Sy sien vir Charl, vernietig deur selfverwyt. Sy sien hoe Zani weer, en vir die honderdste maal, die “liefde van haar lewe” moet prysgee.

Sy sien ’n woedende Oliver. Sy sien hoe almal verloor. Maar hoe keer sy dit? Amelia besluit om net eers deur die naweek te probeer kom.

Gelukkig is Charl en sy familie met vakansie en sal hulle nie die twee te sien kry nie. Maar die naweek word ’n week en ’n week word twee weke, en toe is dit tyd vir Zani en Oliver om te vertrek, terwyl Amelia steeds nie ’n woord oor haar geheime vrees gerep het nie.

Wat sê ’n mens tog? By die lughawe het Zani weer gevra of als oukei is met haar, “want mamma was so stil dié twee weke”, voor sy dartelend om die hoek, met haar sielsmaat aan die hand, verdwyn het.

Met die kinders terug in Australië, hoop Amelia, sal daar iewers ’n lig opgaan. Maar die enigste lig wat sy sien, is ’n spuwende laserstraal met ’n plan om haar kind se hart in duisend stukke te laat spat. Wat as sy haar misgis?

Daar is tog baie voorbeelde van dubbel- gangers? Terwyl Amelia die laaste happie kaaskoek op haar vurkie laai, besef sy dat sy eenvoudig dringend tot aksie sal moet oorgaan.

Die ding is besig om haar op te vreet, en om dit weg te wens bring haar nêrens. Die logiese eerste stap is om op ’n manier uit te vind of Oliver ’n aangenome kind is, redeneer sy.

Dit sal sy kwalik kan doen deur hom reguit te vra, maar terselfdertyd kan sy ook nie wag tot hy dit eendag self opper nie. Dalk weet hy nie hy’s aangeneem nie. Is hy ooit aangeneem?

Dalk kan sy vir Zani aanmoedig om hom oor sy geboortedorp en babadae te pols? Maar hoe gaan sy dié vreemde versoek aan Zani verduidelik sonder om Charl se geheim te verklap?

Die ander moontlikheid, wat eintlik vir Amelia na die enigste werkbare plan voel, is dat sy in Melbourne gaan kuier, Oliver se ouers ontmoet, en dan maar die water toets en die moeilike vraag vra as dit nie anders kan nie. Sy sal net ’n geloofbare rede moet uitdink vir haar ingewing-van-die-oomblik-kuiertjie oor die water.

’n Vrek duur trippie, maar sy sal haarself nooit vergewe as sy nie dié ding tot die einde deurvoer nie. Amelia staan op om haar bordjie en koppie kombuis toe te neem toe ’n WhatsApp-boodskap van Zani deurkom: ’n Brown snake het vir Oliver gebyt!!!! Fighting for his life in hospital. Ek bel Mamma wanneer ek daar aankom. Bid solank! X

Die wit sand en ysige water van Clifton se Vierde Strand voel skielik vir Amelia bereikbaar naby.

Ek bid, my kind, ek bid! XXX