Die gras kraak onder Emma se stapskoene. Die Britse winter hou vir haar ’n bekoring in. Die lug ruik ekstra vars. Die natuur wat lang somerdae korter maak, bome se blare wat verkleur na skakerings van rooi en oranje en eindelik af fladder aarde toe en kaal takke agterlaat. Hoe hemels dat die gras altyd groen is in die winter! 

Margaret, die tannie na wie sy omsien sedert die begin van September, het haar vinnig touwys gemaak toe die winter sy kop begin uitsteek het. Emma se eerste Britse winter! Wheathampstead het geen klerewinkels nie, en sy en Margaret het op die internet gegaan om warm klere te bestel. ’n Waterdigte kakie stapbroek, waterdigte stapskoene en helderpienk Wellington-stewels vir die nat en modderige Januarie. Afgerond met ’n donkerblou knielengte-jas, wolhandskoene en ’n veelkleurige mussie met ’n groot tossel op die punt.

Margaret het aangedring om daarvoor te betaal, want in haar woorde “moet my oppasser by my kan byhou tydens my oggendstappies”. Emma kon uit die staanspoor nie verstaan hoekom Margaret ’n oppasser het nie. Daar is heelwat huiswerk wat sy graag self doen en een keer ’n week woon sy ’n pilatesklas in die kerksaal by. Verder is sy die leier van die dorp se “oor-die-muur-boekklub”. Ja, die 11 lede noem dit self so. 

Margaret hou wel niks van kosmaak nie, en haar bestuursvernuf laat veel te wense oor. So dis twee takies wat Emma voltyds oorgeneem het. Sy dink Margaret se hoofmotivering vir ’n oppasser is sodat sy nie so alleen in haar huis moet wees nie. Margaret het al gebieg dat die alleen aande vir haar die ergste is, veral wanneer die winter so vroeg sy donker kombers laat sak.

Emma se werk by Margaret voel skaars soos werk. Dit voel eerder asof sy by haar ouma kuier. Smiddae oor naweke speel hulle Rummikub; hulle kyk saam sepies, bak een keer ’n week saam suurdeegbrood en vat Walter, Margaret se ligbruin cockapoo, vir oggendstappies langs die rivier.

Ongelukkig het Margaret ’n paar weke terug op ’n nat sypaadjie gegly – ’n gebreekte knie het vir eers ’n einde gebring aan haar oggendstappies saam met Emma. En uit verveeldheid is Margaret se nuwe projek om haar beste vriendin, Liz, se kleinseun aan Emma voor te stel. Volgens Margaret, sal hy Emma se voete onder haar uitslaan, haar met entoesiastiese oorgawe vang en haar terselfdertyd op sy hande dra.

Wanneer die onderwerp opduik, skud Emma net haar kop en praat oor iets anders. Want sien, daar is ’n ander man wat haar oog gevang het wat sy veel eerder sal wil ontmoet. ’n Lang, donkerkopman met breë skouers en uitmuntende kleresmaak. Wat haar dagdrome – en nagdrome! – heeltemal oorheers. Sy het aanvanklik begin dink hy het dalk net oor Kerstyd gekuier, want sy het hom vir ’n paar weke glad nie gesien nie.

Maar tot haar verligting het sy hom gister gewaar. Dit was slegs vir ’n paar sekondes – en hoe het sy nie gewens tyd kon stilstaan nie . . . Hy het uit die hardewarewinkel gestap en om die hoek verdwyn.

Soos ’n verliefde tiener het sy bewonderend na hom gestaar waar hy met sy Hugh Grant-haarstyl gestap het met sy wange blosend van die Februarie-koue. Sy het gewonder hoe sy hande lyk onder daardie donkerblou handskoene. En sy wou liewer nie dink aan die moontlikheid dat daar dalk ’n ring aan sy vinger mag wees nie.

Ten spyte van Margaret se besering maak Walter seker dat die oggendstappies voortgesit word. Klokslag tienuur elke oggend gaan sit hy op die matjie by die voordeur en begin saggies tjank. As Emma nie vinnig genoeg reageer nie, raak die getjank al hoe harder, tot Walter sien hoe sy turkoois halsband van die hoederak afgehaal word. 

Vanoggend is besonder koud en plek-plek lê daar nog sneeu. Sal sy hom dalk vandag weer sien? By die Tesco, op die brug, in die bakkery of dalk buite die fietswinkel? Walter ruk aan sy halsband en bring Emma se gedagtes terug na die hede. Sy draai om om te kyk wat hom in sy spore laat vassteek het.“Agge nee, Walter. Elke keer? Regtig? Ons is skaars by die huis weg dan maak jy al ’n bolletjie!”

Emma lag gemaak kwaad vir Walter wat skaam opkyk na haar.

Sy praat nou al vir ’n wyle Afrikaans met Walter en sy wonder of hy teen die tyd verstaan wat sy vir hom sê? Dis bloot uit gewoonte dat sy met alle honde Afrikaans praat. Dit was, in haar opinie, die enigste taal wat haar Engelse pa se twee boerboelle verstaan het. Sy buk af, maak die plastieksakkie oop, maak vinnig agter Walter skoon en knoop die sakkie twee keer. 

“Kom, vir al my moeite gaan jy nou vir my ’n koffie koop. En sommer ’n sjokoladecroissant ook,” gesels sy verder met hom en hy waai sy stertjie opgewonde soos wat hulle verder stap.

Emma stap om die hoek van die plaaslike kroeg en snak skielik na haar asem. Daar staan hy in die tou voor die bakkery. Dis mos nou haar kans. As sy ook in die tou gaan staan, kan sy dalk ’n kort geselsie met hom aanknoop. Maar wat sal sy sê? Praat oor die weer; dis altyd ’n goeie aanknopingspunt vir enige gesprek in Engeland. Maar op die ouderdom van 27 voel sy ewe skielik of sy ’n bol watte in haar mond het en asof sy net haar naam met ’n plank gaan slaan as sy nou met hom gaan probeer geselsies maak.

Hy kyk skielik op van sy foon af en dit lyk of hy in haar rigting loer. Wat? Het hy vir haar geglimlag of was dit haar ooraktiewe, hoopvolle verbeelding? Sy vind haarself met ’n glimlag op haar gesig en hoop regtig daar is nie ’n mooi blondine wat agter haar stap vir wie hy eintlik kyk nie. Haar aandag word afgetrek deur Margaret se buurvrou wat by haar stop vir ’n geselsie. 

Tien minute later groet Buurvrou, en Emma besef moedeloos sy het haar kennismakingsgeleentheid verspeel. Maar dan sien sy hom in haar rigting aangestap kom. Met twee wegneemkoppies in sy hande. Weer daardie selfde glimlag, en hierdie keer besef sy dat dit wel vir haar bedoel is.

“Hallo daar,” groet hy haar in ’n ligte Skotse aksent, en hy hou een van die bekers koffie na haar toe uit. “Ek hoop nie jy gee om nie, maar ek het vir jou ’n koffie gekoop. Cappuccino om meer spesifiek te wees.”

Die wind is so effens uit Emma se seile geneem. Met ’n skaam dankie en ’n ligte fronsie vat sy ’n koppie uit sy hand en hulle vingers raak skrams aan mekaar. En daar sien sy dit . . . ’n leë ringvinger. Dis nou ’n goeie begin, dink sy ingenome.

“Jy is Emma, wat by Margaret woon. Sy en my ouma Liz is goeie vriendinne. Sy het genoem dat jy elke oggend met Walter gaan stap, so ek het gehoop ek loop jou raak. My ouma het al ’n paar keer voorgestel dat ek kom kennis maak aangesien ons albei nuut is in die dorp. En daar is nie juis jong mense wat in Wheathampstead woon nie. Ek probeer maar nog my voete vind! Ek is Logan.”

Hy verplaas sy eie koffie na sy linkerhand en steek sy regterhand na haar toe uit. Sy handdruk is ferm, manlik. Net bo sy baardlyn verskyn ’n glimlag-kuiltjie in sy regterwang. Meteens besef Emma wie hy is – hy is die kleinseun van Margaret se vriendin! Die een wie sy nie oor entoesiasties was om te ontmoet nie!

“Margaret het al genoem van Liz se suksesvolle stadsjapie-kleinseun wat Londen verruil het vir die eenvoudiger lewe hier in die platteland,” noem sy teenoor hom.

Hy trek sy linkerskouer op. “Londen is ’n opwindende stad met die ongelooflikste geleenthede. Maar tydens my kuiers aan my ouma het ek terselfdertyd ook verlief geraak op hierdie gebied met sy oop velde en woude en het geweet daar sal ’n tyd kom wat ek hierheen sou trek.”

“Londen is nog ’n nuutjie vir my,” erken Emma aan Logan. “Ek gaan gereeld op my af dae soontoe. En elke keer sien ek iets nuuts. Soms kan ek sommer vir lang tye op ’n bankie gaan sit en kyk hoe die lewe verbygaan. Ek het nooit besef hoe kosmopolitaans die stad werklik is nie.”

Hulle begin stadig verder saamstap.“Ek is mal oor jou aksent. Jy is van Suid-Afrika af? Ná my finale regs-eksamen het ek saam met vriende deur die Tuinroete getoer. Wat het jou na Engeland gebring?”

Emma voel hoe sy bloos en hoop maar hy dink dis die koue winterswind en nie die aksentkompliment wat haar wange so vinnig laat verkleur nie.“Ek het juweliersontwerp studeer nadat ek besef het onderwys was toe nie my passie nie. So my plan was om hier te kom werk om geld te spaar om my eie onderneming te begin. Daar is natuurlik ook wonderlike kursusse en geleenthede hier in Engeland, so my aanvanklike plan het effens verander.” 

Sy kan die toevalligheid van die omstandighede nie glo nie. Dat haar dagdroomman en Liz se kleinseun een in dieselfde persoon is! Voor hulle by Margaret se voordeur groet, spreek hulle af om die volgende Saterdag langs die Teems middagete te gaan kry.

En skielik voel sy dis meer as die weer wat haar hier in Engeland gaan laat aanbly. 

  • Innibos Storieskryfkompetisie Is jy ’n aspirant- of gevestigde skrywer? Wen prysgeld van R5 000 vir jou kortverhaal. Die wenverhale sal oorweeg word vir publikasie in Huisgenoot. Inligting en die inskrywingsvorm is op www.innibos.co.za beskikbaar of stuur e-pos na skryf@innibos.co.za.
innibos
Innibos

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Kry hier meer inligting.