Lidia parkeer haar Mercedes voor die tweeverdiepingwoonstelblok wat regtig ’n laag verf kortkom. Die tuintjie by die hek is verwaarloos. Kinders speel in die straat. Is dit waar sy bly? dink sy. Die ander vrou.

Sy kyk weer na die adres wat die speurder haar gegee het. Ja, sy is op die regte plek.

Sy sit enkele oomblikke lank agter die stuurwiel. Sy moet glo sy kan dit doen. Sy loer in die truspieël. Die grimering aan haar oë gee haar ’n skerpte, haar wangbene kry klem, die hare is in ’n stywe bolla.

Die beige pak lyk – en is – duur, spesiaal vir die geleentheid gekoop. En haar kruit is droog. Sy klim uit, klap die deur toe, druk die afstandbeheerder met mag en stryk aan oor die straat.

Kinders hou op met speel en loer na haar. Sy staan in die oop gang voor die woonstelle en bekyk die nommers op die deure. Op met die trap en sy kom voor nommer 12 te staan. Sy is bly dis nie nommer 13 nie. Haar hart klop vinniger. Wie weet wat hier op haar wag?

Die stem in haar hou vol: Jy’s mal, Lidia. Wat kan jy tog hier uitrig?

Is die situasie nie buite haar bereik nie, soos sy haarself al soveel keer vermaan het?

Bêrend, haar man, is al drie jaar deurmekaar met dié vrou.

Sy klop. Sal die vrou die deur in haar gesig toeklap en vlug, of –nadat sy deur die loergaatjie gekyk het – maak of sy nie daar is nie?

Maar die deur gaan tog oop. Die vrou wat daar staan, is geklee in ’n sweetpakbroek en gekreukelde T-hemp, haar grysbruin hare saamgevat met ’n rekkie.

Wat het Lidia verwag? ’n Soel-mooi langbeendanseres met vloeiende blonde maanhare? So het dit half in die jaar lange wroeging by haar gespook.

En dié vrou . . . sy is nie eens mooi nie. Wat op aarde het Bêrend hier kom soek?

Hoe begin ’n mens in so ’n situasie?

“Ek is . . .” probeer Lidia. “Ek weet wie jy is, Lidia,” antwoord die vrou gemoedelik. Dis amper asof sy Lidia verwag het.

“As ek jou Lidia mag noem. So nie,” sy trek haar wenkbroue op, “bly ek maar by Mevrou van Mesch. En jy weet seker wie ék is. Pens en pootjies. Kom binne.”

Lidia huiwer. Die vrou praat met haar asof hulle ou bekendes is. Dit het sy nie verwag nie. Sy sou hierdie hele saak hier op die drumpel kant en klaar wou afhandel, omdraai en loop.

Maar die lewe het ’n snaakse manier om alles om te dolwe. Die vrou nooi haar binne, en dit lyk asof sy dit maar sal moet doen. Die sitkamer het, so lyk dit vir Lidia, meubels wat ’n geslag of twee gelede deftig was, ’n lang spieël teen die muur, ’n goedkoop vaas sonder blomme en ’n deurtrapte tapyt. Die plek ruik na gisteraand se kos.

“Het jy jou pistool saamgebring?” vra die vrou met die fynste spot oor haar skouer. Sy kom staan weer voor Lidia.

“Jou springlemmes, dalk?”

Dit is ’n mooi stem en die oë glim met humor. Daar is geen venyn hier nie. Sy is op haar gemak en hoef nêrens heen te vlug nie.

Dié vrou wil weet of ek my op haar kom wreek, dink Lidia. Ek sou wou. Maar sy voel verward. Hoe moet sy op hierdie vrae reageer?

“Ek . . .” Hier is die woorde nou in haar keel, voor in haar mond, dit klim by haar lippe uit, woorde wat sy al maande repeteer, juis vir hierdie oomblik.

“Ek het gekom om jou te vra om my man te los.”

Die vrou kyk haar aan en die glim in die oë versag. Die volgende woorde is nog meer onvoorspelbaar.

“Met plesier,” sê sy sonder huiwering.

As jy ’n glas koue water in Lidia se gesig geskiet het, sou dit minder uitwerking gehad het. Sy het haar deur die maande ’n toneel van ’n heel ander aard voorgestel.

“En ja,” gaan die vrou voort, “jy moes nogal moeite gedoen het om my hier op te spoor, in die uithoeke van die voorstede. Speurder?”

“Speurder,” sê Lidia. “Wil jy nie sit nie, Lidia? Ek maak vir ons tee.”

Lidia bly staan, onseker van wat hier gebeur het, wat nog kan gebeur. Hoe kan die vrou van “ons” praat?

“Nee, ek is verlig,” sê die vrou en neem nadenkend ’n tree of twee.

“Jy weet Bêrend is ’n eenvrouman.” Dis iets tussen ’n vraag en ’n stelling.

“En my beskeie mening is dat hy dit self nog nie weet nie. Nie eens ná die drie jaar wat ek en hy . . .”

Sy knip die sin kort. Lidia frons, en die vrou sien dit.

“Laat ek dit vir jou so stel, Lidia. In die afgelope paar maande praat hy ál meer oor jou. Ek lieg nie vir jou nie. Hy het selfs onlangs vir my ’n foto van jou gewys, ag, seker so sewe, agt jaar gelede geneem, as ek moet skat, voor jul huwelik.”

Sy glimlag aan die herinnering.

“Hy’t my vertel hoe – dis nou voor julle getroud is – jy ’n seisoen lank in Kanada wou gaan appels pluk, hoe jy ’n jaar wou klasgee in Suid-Korea, hoe jy wou gaan hand bysit met die epidemie in Gaboen.

“Wat hy ook vir my gesê het, is hoe skerp jy oor die politiek was. ’n Paar interessante staaltjies. Kortom, ’n onafhanklike gees, jy.”

Lidia se hart looi minder, maar die situasie word ál meer verstrengel in dinge wat sy regtig nie verstaan nie. Wat probeer die vrou vir haar sê?

“Kom hier,” sê die vrou en neem ’n tree of drie na die lang spieël teen die muur. Onseker neem Lidia ook die treë, en voor haar sien sy dis hulle twee.

“Vergelyk ons, Lidia. Jy is slank en elegant. Jy’s stylvol uitgedos. Jou hare is pragtig. Jy’s mooi, as ek dit mag sê. Kyk nou na my. Watter man gaan hierdie ou verslonste vrou kies?”

Sy stap kombuis toe en kom ’n rukkie later terug met ’n skinkbord en teegoed. Sy plaas dit op die tafeltjie voor die bank en kry haar sit.

Lidia voel sy moet seker maar sit. Sy het selde in haar lewe so ongemaklik voel. Maar sy besef hier word dinge kwytgeraak wat sy moet kleinkry voor sy by daardie deur uitloop.

“Lyk of jy sukkel om te verstaan,” gaan die vrou voort. Sy stoot die koppie oor die tafeltjie na Lidia; plaas die suiker en die melk daarlangs. Dan sit sy met haar elmboë op haar knieë. Lidia sit op die rand van die gemakstoel.

“En jy sal dalk beter verstaan as ek jou ’n paar goed vertel. Toe ek Bêrend ontmoet het, was ek pas terug van Kazachstan waar ek vir sakemense loop klasgee het. Agttien maande gelede was ek in Chili waar ek betrokke was by die herbou van huise ná die destydse aardbewing. Onlangs was ek die Amasonerivier af saam met ’n klomp dokters wat in veldhospitale operasies doen. Dit was nou iets, kan ek jou sê.”

Lidia kyk die vrou aan. Verlangs, amper soos ’n figuur wat uit die nag opdoem, begin iets vir haar duidelik word.

“Dié dinge . . . dis wat Bêrend raakgesien het. En, Lidia, wat jy jouself moet afvra, is dit: Wat het gebeur met die Lidia wat daai appels wou loop pluk het, wat Gaboen toe wou gaan, wat sterk politieke opinies gehad het? Waar is sy? Jy’t haar vroeg in jou huwelik laat verlore gaan. Sy’t verdwyn. Wat het gebeur met die onafhanklike gees?”

Lidia staar na haar. Sy kan dit skaars dink, maar dié vrou praat met deernis. En die vraag wat sy nou net gevra het . . . dit grawe diep in haar.

“Ek praat sommer reguit,” sê die vrou, “want ek en jy boer nie aldag by mekaar nie. Ek het ’n spesmaas jy’t haar opsygestoot om ’n goeie huisvrou te word. Ek sê nie jy moet ’n slegte huisvrou wees nie . . . soos ék.”

Sy giggel amper. “En jy hoef ook nie Kazachstan toe te gaan nie. Ek sê net vir jou, kontak weer die onafhanklike gees in jou. Dís die Lidia op wie Bêrend destyds verlief geraak het.”

Lidia sien dit nou. Tussendeur die warrelende stofstorm wat haar binneste striem, word dinge al helderder. En dis vreemd . . . om haar hang die stilte van die sitkamer.

“Weet jy wat hy hier kom soek het, Lidia, drie jaar gelede? Dis al vir my ’n geruime tyd duidelik.”

Lidia kan nie antwoord nie. Haar gevoelens val hande-viervoet oor mekaar.

“Hy’t jou kom soek.”

Die woorde hang in die lug. Vir die eerste keer kyk hulle reguit in mekaar se oë. Die uitdrukking in die vrou se gesig is sag, asof sy begryp wat Lidia verloor het; wat sy self nou afstaan.

“As jy hom wil terughê, Lidia, kontak die jy wat jy was.”

Lidia kyk na die koppie koue tee op die tafel. Sy ry huis toe. Sy het nooit vir Bêrend gesê waar sy was nie, en hy het blykbaar nooit self daarvan te hore gekom nie.

Seker omdat hy nooit weer die vrou gesien het nie.

Toe sy ses maande daarna die vrou bel om haar te sê dat sy haar raad uitleef, om te laat weet dat dit beter gaan, sê die antwoordmasjien die vrou is in Finland.