Ek stoot die Checkers-trollie stadig op en af in die straat. Dis gevul met leë plastiekbottels en ou koerante en is deel van my vermomming.

Met dié dat jong meisies sommer helder oordag verdwyn, het ek besluit om my dogter se kêrel, Nico Swart, ’n bietjie dop te hou. Jy weet, vir die wis en onwis. Ek vertrou min mense, en hy is nie een van hulle nie.

Nadat ek my man drie jaar gelede weens kanker aan die dood moes afstaan, was ek en my dogter nie regtig na aan mekaar nie. Maar dit beteken nie ek is nie lief vir haar nie; ek sal enigiets doen om haar te beskerm.

Dis hoekom ek, Jenny Pretorius, op 45-jarige ouderdom met ’n kort blonde pruik rondloop. Die pruik het beter dae gesien, maar dis perfek vir nou. Ek dra twee lae klere oor mekaar en ’n gewone bril wat ek sommer by die apteek gekoop het.

Nou lyk ek soos enige ander boemelaar. “Ek is seker nie eens my ma sal my herken nie,” dink ek laggend hardop.

My jare in die polisiediens het my die ervaring gegee wat nou baie goed te pas kom. Ronel is 18 en ietwat van ’n rebel en blameer my seker vir haar pa se dood.

Ons is baie dieselfde. Dis hoekom ons nie oor die weg kom nie. Sy was nog altyd haar pa se kind. Ek stoot my sukkelende trollie amper tot teen Nico se tafel waar hy voor die restaurant sit.

“Nou goed, Monica. Alles is dan gereël vir dié Vrydag,” hoor ek hom sê. Sy staan op en groet hom met ’n soen op die wang. Hy gaan sit weer en ek sukkel met die simpel trollie en stamp per ongeluk daarmee teen sy tafel.

“Jammer, Meneer,” praat ek in ’n bewerige stem. Hy kyk nie eens in my rigting nie, maar mompel iets wat klink soos “verdomde boemelaars . . .”

“Dis nie mooi van hom nie,” sê ek vir myself en stoot my trollie verder. Ek gaan sit op ’n bankie nie te ver van hom nie. Wat gaan dié Vrydag gebeur? wonder ek terwyl ek hom dophou. Vandag is Dinsdag, nog drie dae tot Vrydag.

Met ’n skok onthou ek dis Ronel se verjaardag. Reël hy dan vir haar ’n partytjie? wonder ek weer en voel amper skuldig omdat ek hom wantrou. Nico bel ’n nommer en ek kan net-net hoor wat hy sê.

“Stuur die limousine so vyfuur se kant na hul huis, maar jy vertel haar niks,” gee hy bevele oor die foon. ’n Rukkie later betaal hy sy rekening en klim in sy swart paneelwa en ry weg. Ek gee my kollega ’n teken waar hy onder ’n boom oorkant die restaurant geparkeer is en hy volg hom op ’n afstand.

Ek klim in my Jeep en ry terug polisiekantoor toe. Ek is immers nog aan diens en wag vir my kollega. Met sy terugkeer gee hy my die adres waarheen Nico is. Ek skryf dit vinnig neer, groet hom en ry huis toe.

Ek en Ronel kom op dieselfde tyd by die huis. “Hallo, my skat,” groet ek haar met ’n soen op haar wang.

“Hallo, Ma,” antwoord sy terug. “Wat wil jy vir jou verjaardag doen, Ronel?” vra ek en hou haar reaksie dop. “Ek weet nie,” sê sy terwyl sy haar skouers optrek en vir ons koffie maak. “Beplan jou kêrel dalk iets?” vra ek versigtig. “Ek weet nie, Ma; hoekom al die vrae?” wil sy weet. Ek vat my koffie en gaan sit by die tafel.

Sy gaan sit oorkant my en kyk na my asof ek die antwoorde het.

“Ek vra net. Dalk kan ek en jy iewers gaan eet,” stel ek voor. Woensdag breek aan en ek sit in my Jeep naby Nico se huis.

Dis baie stil, en net toe ek begin wonder of hy ooit daar is, kom hy uitgestap, selfoon teen die oor. Ek volg hom na sy kantoor. Daar wag ek tot hy uitgaan vir middagete.

Ek wonder hoe hoog sy foonrekening is, want hy is permanent op die ding.

Die volgende oomblik sluit dieselfde brunet as die vorige dag by hom aan. Hulle soengroet mekaar en ná ’n minuut gee hy vir haar ’n koevert. Sy maak dit oop en tel die geld. Sy groet hom weer en verdwyn. Hy wink vir die kelner en bestel iets om te eet.

Gerugte doen die rondte dat ’n mensehandelsindikaat besig is om jong meisies te werf en voor die son met hulle te verdwyn.

Die afgelope tyd het 11 meisies spoorloos verdwyn. Dis ook nie net vir vat nie, dink ek, en voel hoe die woede in my opstoot. Dis my dogter en niemand vat aan my dogter nie.

Ná sy middagete ry hy weer terug kantoor toe en bly die res van die dag daar. Hy ry ná werk direk huis toe. Ek moet ’n manier kry om na sy oproepe te luister sodat ek kan uitvind wat de hel aangaan, besef ek.

Ek gaan maak vroegaand ’n draai by sy kantoorgebou, en met donker pruik en al praat ek my pad in. Die sekuriteitsbeampte is baie vriendelik en neem my tot by Nico se kantoor.

Ek laat hom in die gang staan terwyl ek my “verrassing” in sy kantoor los. Donderdagoggend word ek vroeg wakker, maak vir my en Ronel ontbyt en laai haar by die skool af.

Ek leen my vriendin se motor vir die dag en gaan parkeer voor Nico se kantoor met die afluisterapparaat in my een oor. “Baie interessant,” sê ek saggies vir myself. “So dís sy planne met my dogter. Nie as ék daarvoor kan help nie.”

Die volgende halfuur sit ek en luister na sy gesprekke. Met alles op band gaan praat ek met die kaptein.

Hy organiseer ’n taakspan vir Vrydag en bespreek al die besonderhede met hulle. Hy plaas ’n paar manne in siviele drag in die omgewing van Nico se kantoor, ’n paar by Ronel se skool en die res by Nico se huis.

“Moet hom onder geen omstandighede uit die oog verloor nie, manne!” waarsku die kaptein hulle. EK KOM laat Donderdagmiddag by die huis en hoor Ronel se harde musiek op ’n afstand.

Maar vandag is ek baie dankbaar vir daardie harde musiek. Ek is besorg oor my enigste dogter se veiligheid vir môre, maar sy sal genoeg oë hê wat haar sal oppas.

“A, hier is my pragtige dogter,” sê ek toe sy my tegemoetloop. Sy vertel my van Nico se planne om haar op haar verjaardag te bederf, maar dat sy steeds nie weet waarheen hulle gaan nie.

Ek gaan maak vroegaand ’n draai by sy kantoorgebou, en met donker pruik en al praat ek my pad in

Dit bekommer my, maar ek hou myself kalm.

Om vieruur Vrydagoggend word ek met ’n hol kol op my maag wakker.

Ek weet dis my senuwees en probeer myself oortuig alles sal goed gaan. Sesuur maak ek Ronel wakker met ’n koppie koffie en gee haar ’n pragtige silwerhangertjie met ’n kruisie daarop.

Sy bedank my met ’n soen op my wang en sit dit om haar nek. Ek maak vir ons ontbyt en daarna vat ek haar skool toe. By die skool gewaar ek van my kollegas in siviele drag en ek voel effens beter.

Die res van die dag word Nico se oproepe opgevang en hy word dopgehou soos wat die paparazzi met bekendes doen. Klaarblyklik is hy nie baie oplettend nie. Sy arrogansie maak hom blind, besef ek.

“Maar dis goed so; ons wil nie hê hy moet snuf in die neus kry nie.”

Om vieruur stop ek voor ons huis en haal eers ’n paar keer diep asem voor ek uitklim. Ek sien die polisiemanne ’n entjie van die huis geparkeer staan. Ek sou hulle andersins nie raakgesien het nie.

Ek sit by Ronel terwyl sy aantrek – en sy lyk ook senuagtig. “Is dit normaal om ’n hol kol op my maag te hê?” vra sy my. En ek antwoord haar met dié woorde: “As jy ongemaklik voel, moenie gaan nie.”

Maar sy wil gaan, en ek keer haar nie. Stiptelik om vyfuur stop die limousine voor die huis. Met ’n soen op my wang stap sy uit en klim agterin nadat die deur vir haar oopgemaak is.

Ek sien die agente volg die limousine, en ek volg in my Jeep. Die limousine stop verskeie kere langs die pad.

Einde ten laaste stop die limousine by die genoemde adres in sy telefoongesprekke. Dis ’n groot dubbelverdiepinghuis, en een vir een word die meisies die huis ingedra.

Ek skrik en besef hulle is heel moontlik met chloroform oorval.

Hulle is in groot gevaar en ons sal vinnig moet speel, besef ek opnuut. My paniek is gelukkig van korte duur, want die volgende oomblik loei die polisiesirenes en bestorm beamptes die groot huis.

Nico sit in ’n kantoor wat voorheen die hoofslaapkamer was en dring daarop aan om net met sy prokureur te praat. Hy en al die ander word geboei terwyl hul regte aan hulle voorgelees word.

Daarna word hulle een vir een in die vangwa gelaai en weggevat. Elke kamer in die groot huis word deursoek en 11 meisies word gekry.

Almal, Ronel inkluis, vasgemaak aan hul beddens sodat hulle nie kon ontsnap nie. Ronel bars in trane uit toe sy wakker word en besef wat gebeur het. “Baie dankie dat Ma my kom red het,” sê sy tussen haar trane deur en omhels my. Toe weet ek dat ek en my dogter oukei sal wees. S