Toe, toe, opstaan!” gil iemand in my ore. Ek maak my oë oop en onthou waar ek is. In ’n smerige vuil en klam tronk buite Durban.

Ek, Jenna Williams, het regtig gedink ek sal op 30 lont kan ruik. Maar nee, ek is met die oudste slenter in die boek gevang. Manlike sjarme.

In die tronk het jy nie vriende nie. Jy hou jouself eenkant, maar dit het ek op die harde manier geleer. In die dag het ons ’n paar uur “buitetyd”.

Daarna kan jy doen wat jy wil, behalwe om te probeer ontsnap. Ek sit eenkant op ’n bankie en kyk na die ander gevangenes. Daar is alle soorte, van prostitute tot moordenaars.Die klok lui en dit beteken ons almal moet terug na ons selle toe.

Terwyl ek na my sel toe loop, dink ek weer aan daardie idioot, Shawn. Ek het Shawn de Wet op die strand by Margate ontmoet. Hy was blond, bruingebrand en goed gebou. “Dagsê, my strandlopertjie,” hoor ek iemand agter my praat.

Ek draai vinnig om en daar staan ’n beeld van ’n man.“Hallo; wie is jy?” vra ek hom.“Ek is Shawn de Wet, tot u diens,” sê hy en maak ’n galante buiging. 

“Wat maak jy so alleen op die strand?” vis hy uit.“Ek is hier vir rus en vrede, maar jy versteur my vrede,” antwoord ek mislik.“Eina!” antwoord hy.

“Wie het jou kwaad gemaak? Vertel my, ek sal hulle gaan regsien.”

“Dis nie hulle nie, maar my gewese kêrel,” sê ek en kyk stip na hom.

“En toe hardloop jy weg en beland hier op die strand?” vra hy laggend. “So iets, ja,” beaam ek. “Noudat jy dit weet, los my asseblief alleen.”

“Nee, netnou vang jy iets simpels aan,” sê hy. “Ek is nie so kinderagtig nie, man,” skel ek op hom.

“Loop en laat my net in vrede.”

“Kyk, ek sê jou wat. Kom ons gaan eet iewers en dan kan jy my alles vertel,” bied hy aan.

“Toe, wat sê jy?”Ek kyk na hom in ongeloof.

“Nou goed dan.”

Ons ruil name uit op pad na ’n kiosk op die strand. Hy bestel vir ons iets om te eet, en met die kos in ons hande gaan sit ons onder ’n palmboom en eet. Ek vertel hom “die storie van my lewe”.

“Mmm, dis baie lekker,” sê ek terwyl ek my vingers aflek.

“Dis ’n gatsby, en baie gewild onder almal,” verduidelik hy. “So wat is jou planne noudat jy weer enkellopend is, Jenna?” vra hy.

“Ek vlieg oor ’n paar dae Phoeket toe vir ’n 10 dae lange toer,” deel ek my planne met hom.

“Dit klink na ’n lekker wegbreek. Ek wens ek kon saamgaan, dan kon ons vir my broer gaan kuier het. Hy is ’n onderwyser in Thailand. Maar ek het nie daardie soort geld nie.”

“So, jy is ’n beach bum?” terg ek hom.“Jy kan so sê, ja,” laat hoor hy met ’n lag. “Ek sal dan maar oral saam met jou broer rinkink en vir jou foto’s stuur en jou wys wat jy misloop,” sê ek.

“Dis mos nie mooi van jou nie. Ek het my broer jare laas gesien,” sê hy en tuur oor die see. “Wel, dink daaroor. Ek gaan nou terug na my rondawel toe,” sê ek en stap weg.

“Sien jou môre, Jenna,” roep hy agterna. “Miskien!” antwoord ek terug.

EK SIEN Shawn weer die volgende dag op die strand.“Hallo,” groet ek hom waaiend. “Hallo daar,” groet hy terug.

“Kom ons gaan kry koeldrank en dan stap ons langs die see.”

“Het jy daaroor gedink of jy saamgaan Thailand toe, Shawn?” vra ek hom.

“Nee, jammer. Ek kan dit nie bekostig nie, Jenna,” antwoord hy afgehaal. “Maar ek wil jou asseblief ’n gunsie vra as jy nie omgee nie,” las hy by.

“Seker. Wat is dit?” vra ek terwyl ek my koeldrank drink.

“Jy weet my broer is in Thailand, en hy het my gevra om van sy persoonlike ­dokumente oor te stuur, maar ek het ­gewonder – aangesien jy oorgaan – of jy dit kan saamvat?”

“Natuurlik sal ek dit vir hom oorneem,” stel ek hom gerus. “Ag, dankie tog! Jy weet nie wat dit vir my beteken nie,” laat hy verlig hoor. “Ek sal vir jou ’n foto van hom wys sodat jy weet hoe hy lyk.”

“Dis alles reg,” sê ek.

“Ek vlieg oor ’n week, maar gaan oor ’n paar dae huis toe om te pak. My papiere is alles in orde.” Ek sien Shawn nie weer voor my laaste dag nie.

Hy gee my ’n geel tas en bedank my weer. Ons ruil foonnommers uit en neem afskeid van mekaar.

Die volgende middag sit ek op die lughawe en wag op my vlug. Oral is polisie wat met snuffelhonde rondloop.

Tot my verbasing vind die honde hul pad na Shawn se geel tas. Ek kyk verstom na die tas. Ek word vergesel na ’n klein kantoortjie met ’n groen-en-wit “private”-bord op die deur.

Binne word ek oor die geel tas ondervra. “Kyk, die geel tas is vir my vriend se broer in Thailand bedoel,” verduidelik ek.

“Ek weet eerlikwaar nie wat in die tas is nie, en ek gee regtig ook nie om nie. Shawn het gesê dis sy broer se persoonlike dokumente.” “Vertel ons meer omtrent jou vriend Shawn,” sê een van die polisiemanne.

“Sy naam is Shawn de Wet en hy is ’n beach bum op die strand by Margate. Hy het nie eens ’n vaste werk nie,” noem ek alles wat ek van Shawn weet in een asem. “Watter tydelike werk doen hy?” vra die polisieman. “Ek het geen idee nie,” kom my eerlike antwoord.

Ek besef tot my verbasing hoe min ek werklik van hierdie man weet.

“Nou goed dan,” sê die polisieman.

“Werk saam met ons om Shawn te vang en ons sal jou met ’n skoon rekord laat gaan.”

“Sommer net so?” vra ek verbaas.

“Ja,” antwoord hy.

“Nou goed dan,” sê ek, “ek gaan beslis nie in die tronk sit vir hom nie. Wat wil julle hê moet ek doen?”

“Bel Shawn en vertel hom jou vlug is met ’n paar uur vertraag en jy wil hom graag weer sien voor jy vlieg,” sê die polisieman.

“Oortuig hom.”

Ek neem my foon wat voor my op die tafel lê en bel Shawn se nommer. Niemand antwoord nie, maar ek probeer weer, en met die derde lui antwoord hy.

“Hallo, Shawn; dis ek, Jenna,” sê ek. “My vlug is met ’n paar uur vertraag en ek wil jou graag weer sien voor ek vlieg.”

“Mmm, Jenna?” hakkel hy. “Hoekom wil jy my weer sien? Ek dog jy is al op pad Thailand toe. Wat is fout?” vra hy agterdogtig.

“Niks is fout nie, man. Jy het omtrent ’n indruk op my gemaak, en ek wou jou net graag weer sien,” sê ek in ’n soetsappige stem terwyl ek my oë rol.

“Jammer, Jenna. Dis ’n goeie uur en ’n half se ry Durban toe. Dalk druk hulle jou iewers in sodra ek op pad is.”

“Hy probeer regtig verskonings uitdink om nie te kom nie,” sê ek vir die polisieman terwyl ek die foon teen my lyf vasdruk. “Hou hom nog ’n rukkie aan die praat,” fluister die polisieman.

Ná wat soos ’n ewigheid voel omdat ek met iemand praat wat nie met my wil praat nie, druk ek die foon dood.

“Moenie bekommerd wees nie, juffrou,” sê die polisieman, “ons manne het sy foonsein opgespoor. Ons gaan hom binnekort vastrek.”

“Dis goed om te hoor, maar wat van my?” vra ek.

“Jy moet ongelukkig opgesluit word, maar dis net vir ’n rukkie,” belowe hy. “Ons moet dit vir jou veiligheid doen. Ons moet hom eers agter tralies kry voor ons jou kan vrylaat.”

“Ná al die drama, vertel my wat in die geel tas is,” eis ek.

“As jy moet weet, 5 kg se suiwer ko­kaïen,” sê die polisieman. “Ons praat van baie geld en baie lewens. Lewens wat ons red.”

’n Volle week gaan verby, maar ek hoor niks van die polisie nie. Ek wonder of hulle my ooit sal laat gaan. Hulle dink seker ek was deel van Shawn se span. Maar as ek Shawn ooit iewers raakloop . . .

Die volgende oomblik word die seldeur oopgesluit. “Williams, kom saam met my,” beveel die bewaarder. Ek laat my nie twee keer nooi nie en volg haar.

Sy sluit die deur van die sel. “Jy word vrygelaat,” sê sy met ’n glimlag wat wil deurbreek. Voor by die ontslagkantoor wag die einste polisieman vir my.

“Sien, ek het my woord gehou, maar ek hoop jy verstaan dat ons jou hier moes hou vir jou eie veiligheid,” sê hy met ’n glimlag.

“Ons het Shawn gekry waar hy met sy volgende slagoffer besig was. Hy is ook nie ’n werklose beach bum nie. Inteendeel, hy is baie ryk en baie gevaarlik, met kontakte op die verkeerde plekke.”

“Dis verby en ek is baie dankbaar daarvoor,” sê ek. “Nou kan jy jou vakansie gaan geniet,” sê die polisieman.

Drie dae later stap ek van die vliegtuig af in Phoeket met net een voorneme: Vermy alle mans.