Sy staan in ’n Normandiese klooster in die middel van die see. Buite loei die Februariewind en binne haar broei die besef: Hierdie is nie haar pelgrimstog nie.

“Die aartsengel Migael het in die jaar 708 aan die biskop Aubert van Avranches verskyn en hom beveel om ’n klein kerkie hier op die rots te bou,” vertel die natgeswete gids in ’n swaar Franse aksent. “Die engel moes nog twee keer aan hom verskyn en moes selfs die biskop se skedel met sy vinger deurboor voor Aubert aan sy versoek gehoor gegee het.”

Sy wens hy was hier. Haar oë dwaal verby die ander toeriste na die venster en oor die see, voor dit op die kim tot rus kom. As sy tot in die toekoms kon kyk, sou sy haarself middel Maart in haar bedompige pienk kleintydkamer aan die suidpunt van Afrika aantref.

Teruggeboender in ’n ouerhuis deur ’n virus wat die wêreld tot stilstand gebring het. Slaan sy weer die rooibruin Bybel oop wat sy vir haar 10de verjaardag present gekry het. Dit het agtergebly toe sy destyds die pad gevat het.

Want Europa is koud en ’n Bybel swaar en sy sou ’n jas nodiger hê; sy het eerder die klein Gideonsbybeltije ingepak. Die enetjie sonder die Ou Testament, wat ’n gerusstellende ornamentjie op haar boekrak in Frankryk sou word.

Op haar grootwordbed blaai sy verby Psalms, Spreuke en Prediker, want sy wil sien wat presies Annelie Botes bedoel het met ’n Hoogliedman.

Die son skreef skerp deur waar sy nie die gordyne behoorlik toegetrek het nie. Nie een keer nie, maar twéé keer spring die woorde na haar toe uit: “Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: Moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.”

Maar dis te laat, dink sy. Sy het lankal reeds die stukkies Spoegwolf en Breytenbach afgekrummel, dit by die gelykenis-van-die-vermetelheid-van-nederigheid-deeg geklits, en haar halfgebakte broodjie op die water gewerp. Finis.

“In die jaar 966 het ’n gemeenskap Benediktyners hulself hier gevestig,” kom die gidsstem na haar toe aangedryf. “Die Romaanse abdy is in die 11de eeu opgerig en die kloostergeboue is teen die noordelike muur aangebou.”

Haar foon brand in haar sak. Sy hoor vaagweg hoe daar tydens die Honderdjarige Oorlog in die 14de eeu militêre versterkings aangebring is om die paleisagtige kloosterdorpie teen aanslae van oor die see te beskerm. Verbeel sy haar of voel sy nog ’n vibrasie in haar sak wat ’n nuwe boodskap aankondig?

“In die 15de eeu is die Romaanse kansel afgebreek en dit is met ’n Gotiese een vervang,” vertel die gids verder. ’n Skielike drang om van die toerisbondel los te breek, pak haar beet, en sy druk verby rugsakke en selfiestokke na waar sy kan asem skep.

Die gids is skynbaar ongeërg oor sy verlore skaap, en praat ongesteurd voort.

Buite voel sy die wind aan haar wange, en waar sy teen die eeue-oue muur aanleun, kan sy haarself ’n slag hoor dink. Hy het ’n week of wat tevore die stukkie monnikewysheid oor die Audacity of Humility vir haar uit Tales of a Magic Monastery oor die foon voorgelees. ’n Brystem uit ’n mond waaraan sy nog nooit kon raak nie.

Die reën het sag buite haar vuurhoutjiedosiewoonstel in Lille neergesif en 13 000 km weg het sy stem gekraak ná die ou monnik se vraag: “Wat is die vermetelheid van nederigheid?”

Die antwoord het haar onkant betrap. Want hoe reageer ’n mens wanneer ’n stem wat jy van ver af leer ken het vir jou ’n ou monnik se woorde resiteer: “To be the first to say ‘I love you’”? 

Sy haal haar foon uit en druk haar windverwaaide blonde hare met een hand agter haar oor in. Hul aaneenlopende WhatsApp-gesprek het in ’n nimmereindigende tenniswedstryd ontaard waar niemand moeg word nie en niemand ooit in die net slaan nie. Met die boodskap beantwoord, steek sy haar foon terug in haar sak.

Sy druk albei haar handpalms teen die krummelrige klipmuur en leun oor. Terwyl sy na onder tuur, besef sy sy sal iets moet doen. Een of ander tyd. Haar oë volg die honderde trappies wat uit verskillende rigtings tot op seespieël kronkel.

Dit het alles op ’n Dinsdagaand in Januarie begin. Die ysreën het teen die vensters van haar Lille-woonstel gekletter, en sy was half melancholies oor die gevolgtrekking waartoe sy die vorige aand gekom het: Sy moet vergeet van die Fransman en ophou hoop dat hy sal bel.

Hulle het eintlik niks gemeen nie, en as sy doodeerlik moes wees, was sy eerder verlief op die idee van ’n Franse kêrel met ’n chateau in Boergondië en ’n ski-hut in die Alpe, as op die stomme man self.

Haar wêreld is so ver verwyder van die strikdasdineefoto’s waar hy en sy familie hand om die lyf met die Grimaldi’s van Monaco staan, en sy ma was in elk geval nie te vinde vir die idee van ’n laeklas Protestant uit Afrika vir haar oudste seun en erfgenaam nie. 

In haar droefgeestigheid het sy doelloos deur Instagram geblaai, en vasgehaak by ’n aanhaling: “I hope you fall in love with someone who speaks your language, so you don’t have to spend a lifetime translating your spirit.”

Sy het ’n skermgreep geneem en vir later gebêre, terwyl sy oopoog en woordeloos gebid het: “Here, wys my tog wat U in gedagte het.” 

’n Gedig op iemand se Instagramstorie het haar oog gevang. Die strofes was op die Skeppingsverhaal gebou, en iewers tussen die reëls kon sy sien daar lê ’n storie van liefde wat eens was. Sy het op die profiel van die digter geklik; klaarblyklik ’n reisiger wat sy verse agter landskapfoto’s versteek. Sy het die volgknoppie gedruk, hy het haar op sy beurt terug gevolg, en dadelik drie van haar foto’s gehartmerk.

Sy het hom met die gedig gekomplimenteer en so het die gesprek begin. Oor hoe hulle nege jaar op dieselfde dorp gewoon het sonder om mekaar ooit te ontmoet. Hulle deel ’n liefde vir lees, ’n sin vir humor en 50 Facebookvriende. Stemboodskappe en liedjies het oor en weer begin vlieg, en iewers tussen die tweede nag en die derde dag het sy sy naam die donkerte in gefluister. Sy wou haar verbeel Iemand het geluidloos geknik.

Die Sondag ná die Dinsdag wat hulle begin gesels het, het jakkals getrou met wolf se vrou. Die Franse hoofstad van Vlaandere is bekend vir reën, maar dié dag klou daar stukkies sonlig saam met die druppels aan haar woonstelvensters vas.

“Kom sit op my boekrak/saam met al die goeie stories wat ek nog moet lees”, nooi hy in ’n gedig wat hy geskryf het - nie vir haar nie - het hy vinnig gekeer, maar sy kon haarself “anderkant die wet/anderkant die wêreld” herken en “dalk,” verduidelik hy in die stemboodskap agterna, “dalk is daar iemand wat eendag so voel.”

Sy wou opsluit glo eendag is naby en iemand is hy.

dit was geskryf op varkensblaar

dit was ? bietjie dof

Die gids en sy toerskapies het intussen na buite beweeg. “In die 1800’s is die abdy onder Napoleon se heerskappy in ’n tronk omskep,” dreun hy nou binne hoorafstand voort. “Wie sou nou kon dink,” sê sy vir die mak seemeeu wat ’n entjie van haar af op die muur neergestryk het, “dat daar Robbeneilande bestaan het wat soos Disney-kastele lyk.” Die meeu draai sy kop skeef, sy houding spreek van begrypende onbegrip. 

Sy onthou die oggend vroeg toe hy haar gebel het. Hy was op die R44 op pad werk toe en hy wou net seker maak dat sy wakker is om die trein na Nantes te haal. Sy was haastig en het gesê hy moet haar herinner om die een of ander storie later te vertel. Hy het geantwoord: “Onthou my dat ek eendag vir jou die storie vertel van die veldmuis en die eekhorinkie wat van mekaar gehou het.”

“Ek wil dit nou hoor!” Die glimlag in haar stem het deurgeslaan.

“Nee, nee, die tyd moet reg wees,” het hy gekeer. 

Sy draai nog ’n laaste keer na waar die wolke en die water ontmoet, voor sy die kronkelende pad na onder aandurf. Saam met die wind swiep sy deur die steenstraatjies, verby die aandenkingswinkels en peperduur restaurante. Blinkoog kyk sy op na die klooster van klip.

As sy die toekoms kon inkyk, sou sy sy reaksie op haar skrikkelpoging van 29 Februarie kon lees: “Ek is jammer, ek het alles net baie lig bedoel.” 

Speel-speel. Soos winkel-winkel of skool-skool, sonder regte geld of regte huiswerk. Dit was maar een groot, speelse metafoor, wat inmekaar sou tuimel met die bekentenis: “Daar is iemand anders.” 

Natuurlik. ’n Meisie wat meer is as net ’n stem, ver uit die velde van Vlaandere. ’n Vrou van vlees en bloed, iemand aan wie hy kan raak. Sou sy daardie skoolgedig van Lina Spies onthou en wonder wie vir wie Aprilmaand was.  

Maar sy is nie ’n siener nie en vandag is 27 Februarie. Van die voetbrug oor die water neem sy ’n foto van die kasteelklooster op ’n rots in die see – die wolke altyd bietjie voor die son.

Sy stuur vir hom die foto. Op Stellenbosch, op ’n ander vasteland, is hy besig om bloed te skenk. “Ek gee maar net ’n stukkie van my hart,” verduidelik hy. “Of waar word bloed gemaak?”

“Ek weet nie,” sê sy. “Maar ek dink parabels word hier gemaak.”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.