Jakobus knyp wragtig die kat in die donker!” Magriet staan met haar pofferhande in haar sye; haar beplooide oë wyd gerek. Martella sluk ongemaklik en laat haar breiwerk stadig sak. 

Haar hart klop in haar keel en sy druk haar bewerige hande teen haar bene vas. 

“Waarvan praat jy, Magriet?” Magriet loer oor haar skouer, loop in Martella se ouetehuiskamer in en druk die deur vinnig toe. 

“Die man neurie wanneer ons in die oggende kaart speel! En dan en wan glimlag hy, maar onderdruk dit vinnig. Ek het dit met my eie oë gesien.” 

“Magriet, die man is 77. En daar is katarakte in sy oë. Hy sal beslis die kat mis knyp,” probeer Martella die situasie ontlont. “Dis nie nou tyd vir grappies nie! Jy moet my help om hom uit te vang.” 

Martella verstik byna in haar spoeg. “Nou hoe bedoel jy nou?” “Ek wil weet met wie hy my verneuk,” fluister Magriet dramaties. “Ek het nie geweet julle is ’n paartjie nie,” sê Martella eindelik. 

Sy weet goed hoe Magriet al byna twee jaar lank agter Jakobus Lotter se lyf en sy geld aan is, en enige ou vrou in die Herfsblaar-aftreeoord wat net in Jakobus se rigting kyk, word vinnig ingelig dat hy en Magriet so te sê op trou staan. 

Die waarskuwing word voorgelê sodra Jakobus buite hoorafstand is, natuurlik. “E...ja, man, almal weet dit tog.” “Almal behalwe Jakobus,” sê Martella droogweg. 

“Wat wil jy op jou ouderdom met nog ’n man maak? Jy het al twee onder die kluite gebêre. En dis nie asof hy vir jou en vir hom ’n huisie by die see gaan koop nie. Julle is albei hier ingeprop deur kinders wat te besig is om na julle te kyk. Nes ek.” 

“Sê net as jy my nie wil help nie. En sê wat ook al jy dink sommer hardop. Moenie my gevoelens spaar nie,” skel Magriet met ’n kastige traan in haar stem. 

Sy weet goed hoe Magriet al byna twee jaar lank agter Jakobus Lotter se lyf en sy geld aan is, en enige ou vrou in die Herfsblaar-aftreeoord wat net in Jakobus se rigting kyk, word vinnig ingelig dat hy en Magriet so te sê op trou staan.

Sy loop stadig by die deur uit en wens dat haar jig-elmboë haar wou toelaat om die deur toe te klap. 

Martella se breiwerk is nou vergete. Sy gryp haar selfoon en druk Jakobus se nommer in. 

“Magriet het snuf in die neus. Sy dink jy verneuk haar,” val sy met die deur in die huis. “Goeiemôre vir jou ook,” lag Jakobus. 

“Dis nie nou tyd vir oppervlakkige gesprekkies nie, mnr. Lotter! Magriet gaan vir jou en vir my jallap ingee as sy moet weet dat ons..” “Dat ons wat, juf. Skaam?” Martella bloos. 

“Ná slaaptyd kuier. Kuier. Dis al. En vir wat sit jy en neurie wanneer julle lot kaarte speel?” 

“Ek? Neurie? Met my vals stem?” vra hy kamma geskok. “Jakobus!” “Ja, my engel?” Martella druk die foon dood. 

“Die man is van sy sinne beroof!” Haar hart klop wild oor die troetelnaampie. Dit is die eerste keer dat Jakobus haar so noem. 

Sy kyk op die horlosie teen die muur bokant die televisiestel. Dit is tyd om na die ontbytsaal te gaan, maar skielik is sy nie honger nie. 

Siek speel sou nie werk nie. Die matrone is erger as ’n Duitse generaal en sal haar van kop tot tone laat ondersoek as sy nie vir ontbyt opdaag nie. 

“Koee-ieee,” roep Magriet haar toe sy by die saal se deur instap. Ag, genade! dink Martella. Ek het gehoop om onder haar valkoë uit te bly en nou roep sy my om langs haar te gaan sit. 

“Magriet het snuf in die neus. Sy dink jy verneuk haar,” val sy met die deur in die huis.

“Sorrie oor netnou. My kop los my wanneer dit oor Jakobus gaan. Ek het eers agterna besef jy het nié gesê jy sal my nie help om die flerrie op te spoor nie. Ontbyt is asof uit die hemel bestel.” 

Magriet babbel voort oor wat vanoggend te ete aangebied word, maar Martella hoor nie ’n woord wat oor haar lippe rol nie. 

Jakobus staan in die deur, sy atletiese lyf kiertsregop. Sy oë soek tot hulle Martella vind en dan stap hy reguit na haar toe. 

“Kyk, Martella, hy kom reguit na my toe,” fluister Magriet opgewonde agter haar hand. Dieselfde hand druk vinnig oor haar pers dos. 

“Lyk ek oukei?” fluister sy, maar voor Martella kan antwoord, trek Jakobus die stoel oorkant Magriet uit en gaan sit. “Môre, dames,” glimlag hy. “Die kos ruik heerlik, nie waar nie?” 

Martella se hart wil haar aanval toe sy voel hoe Jakobus se knie styf teen hare druk. Die adder se oë is op Magriet gerig terwyl hy aan my vryf, en arme Magriet vreet elke sekonde wat die man aan haar wy met honger lippe op, dink Martella vies. 

Mans is ’n euwel! “...en wat dink jy, Martella?” vra Magriet skielik. “Van wat nogal?” vra Martella skuldig. 

“Die Kersete. Die personeel oorweeg om dit ’n fancy-dress te maak. Jakobus wil soos Fred Astaire aantrek. Hy sê hy kan selfs soos die man dans en het ’n wandelstok wat net soos die een lyk wat hy in Singing in the Rain gebruik,” koer sy. 

“Mm, en jy? Kan jy Ginger Rogers se danspassies uithaal om by hom te bly?” wil Martella stuitig weet. “En dis in elk geval ’n opgevoude sambreel wat Fred in die fliek gebruik.” 

Jakobus kap haar knie liggies met syne. “Julle sal tog seker saam na die ete en dans toe gaan?” gaan Martella roekeloos voort. 

Jakobus staan in die deur, sy atletiese lyf kiertsregop. Sy oë soek tot hulle Martella vind en dan stap hy reguit na haar toe.

Laat dit vir jou ’n les wees, Jakobus! dink sy effe jaloers. “Vriendin, jy is briljant. Dan is dit afgespreek,” sê Magriet met stroop in haar woorde. 

“Wag, laat ek die ander gaan vertel,” hyg sy en waggel na vier vroue wat ’n ent weg van hul tafel af sit. 

“Kry jy nie skaam om met so ’n reguit gesig twak te gorrel nie? Vir wat smeer jy my aan haar af?” brom Jakobus met lippe wat skaars beweeg. 

“Jy kan normaal praat, jou tweegatjakkals. Sy kan nie hoor wat jy vir my sê nie.” Martella voel amper jammer vir hom. 

“Dis oor jy my so in die openbaar onder ’n ontbyttafel bevoel. Hoe moet ek reguit dink as jy dit doen?” 

Sy stoot haar stoel terug en staan op. “Jou Ginger is op pad terug. Ek loop voor ek in my eie skoot opgooi,” sê sy. 

Jakobus leun vorentoe. “Jy, juf. Skaam, is jaloers! Toe, erken dit!” 

Martella se mond gaan oop en toe soos ’n elektriese motorhuisdeur met ’n kortsluiting. Dan klap sy haar lippe op mekaar en loop. 

Ongeveer ’n uur later grom haar maag protesterend en sy pluk kasdeure en laaie in die klein kombuisie van haar woonstel oop op soek na iets om te eet. 

“Beskuit! Ek het nie eens geweet die beskuit is nog hier nie.” Sy dop die pakkie om en bekyk dit behoorlik. “Hier is darem nie goggas in nie,” troos sy haar hongerte. 

“Dis oor jy my so in die openbaar onder ’n ontbyttafel bevoel. Hoe moet ek reguit dink as jy dit doen?”

Die mueslibeskuit uit die jare toet gaan nie te sleg af nie, maar dit is nie regtig vullend nie, en Martella wens sy kan die horlosie se wyser vorentoe draai sodat middagete voorgesit kan word. 

Haar selfoon vibreer in haar bloes se sak terwyl sy later sit en brei, en sy sien dis haar seun wat die oproep maak. 

“Hallo, Adolph,” groet sy in ’n neutrale stem. Sy is steeds vies omdat hy vir Betsie, haar Corollatjie, verkoop het. 

“Hallo, ma. Ek lui net gou om te hoor hoe dit gaan.” “Ek moet net keer of dit gaan beter,” lieg sy. 

“Ek weet nou dis dalk ’n bietjie vroeg om te noem, maar jy weet jou pa is al donkiejare dood, en...” Sy kan hoor hoe Adolph sy selfoon laat val. 

“Ma?” “Soos ek gesê het, jou pa is lankal dood, en hier is ’n oulike paar mans in Herfsblaar wat...” “Ma!” onderbreek Adolph haar, sy stem geskok. 

“Ma is daar om rustig te verkeer, en...” “En wat, Adolph?” val sy hom in die rede. “Te wag op die dood? Ek is miskien 70, maar ek is ook ’n mens. Ek het ook drange.” 

Adolph snak na sy asem, maar sy stu voort. “En gevoelens. Ek beny paartjies wat nog kan lepellê, so vel teen vel, en al is my dele nou effe versprei deur gravitasie, is menslike aanraking steeds vervullend.” 

Adolph is stom, en effe naar. Is mense van sy ma se ouderdom dan nog in staat om...? Nee, jimmel, hy wil nie eens daardie prentjie in sy kop kry nie. 

“Ek sal die naweek kom kuier, ma, dan kan ons gesels. Ek moet nou aflui,” druk hy die foon in Martella se oor dood. 

“Te wag op die dood? Ek is miskien 70, maar ek is ook ’n mens. Ek het ook drange.”

Martella weet nie of sy moet lag of haar aan histerie moet oorgee nie, en gryp maar eerder haar breinaalde tot die horlosie middagete aankondig. 

Van Magriet is daar geen teken nie, en Jakobus skuif weer langs Martella in. “Sy gaan nie by ons kom sit nie. Arme Stefaans is nou met haar opgeskeep.” 

“Wat bedoel jy?” Jakobus sit sy hand op Martella s’n.

“Ek het dalk net per toeval laat val dat Stefaans eintlik bekend is as Blink Stefaans. Sy wou weet hoekom, toe sê ek dit kan wees vanweë sy rykdom...” knipoog Jakobus. 

“Is hy dan ryk?” vra Martella.

“Natuurlik. Maar nie so ryk soos ek nie. Want ek het nou vir jou gewen en daar is nie meer ’n heksejag op jou kop nie,” lag hy. 

“So van heksejag gepraat, my seun gaan dalk hierdie naweek opdaag. Hy is baie beskermend en kan dalk dinge kwytraak wat skokkend gaan wees.” 

“Saam met jou sien ek kans vir King Kong, juf. Skaam. Ek het net so ’n idee dinge gaan beslis nie meer vervelig wees hier nie. Kom ons gaan kry middagete. Dan gaan stel ek jou bekend aan George, my handgekerfde wandelstok...”