Sy word wakker van ’n onaardse geluid by die voordeur van haar tuinwoonstel. Skel, aanhoudend, soos ’n viool wat ingestem word. Die son is nog nie eens behoorlik op nie. Die vorige dag het sy ingetrek en haar oor ’n mik gewerk. Nie al die bokse is uitgepak nie, maar sy was teen middernag so moeg dat sy omgekap het. 

Naderhand vlieg sy op en storm na die voordeur. Ruk dit oop. Voor haar staan die mooiste langhaarkat met groot blou oë, beige hare, grys ore, stert, pote en bek. 

“Miaaw!” groet hy. Een groot tand steek voor by sy bek uit. Hy kom nader en vly hom teen haar aan. Haar ergernis verdamp. Sy hurk en streel hom.“Waar kom jy vandaan? Jy is so goed soos ’n wekker met daardie skel stem.”

Ewe voorbarig loop hy in en gaan reguit kombuis toe. Kyk na haar asof hy sê: “Toe nou, gaan jy nie vir my iets aanbied om te drink nie?”

“Natuurlik gaan ek,” verseker sy hom en skink ’n piering melk. Sy het darem die vorige dag vars melk gekoop.

Terwyl hy dit opslurp streel sy oor die syagtige pels. “Aan wie behoort jy, hè? Jy’s te mooi om ’n rondloper te wees. Jy woon seker hier naby, by die bure.”

Die kat kom haar troos. Sy was maar tranerig die vorige dag. Gesneuwelde verhouding, wegtrek uit Stellenbosch, nuwe werk by ’n uitgewer in die Heerengracht, alles gelyk en dis uitdagend. Aanpassing en omwenteling.

Uiteindelik klaar met uitpak en regpak, maak sy vir haar ’n toebroodjie met ham en kaas en gaan sit op haar stoepie om na Tafelberg te kyk.

Die omgewing is so mooi. Die eienaar van die ou Victoriaanse hoofhuis is ’n weduwee wat graag iemand anders op die werf wil hê, vir veiligheid. Ook as oppasser wanneer sy weggaan. Sy voer die kat ham, wat hy gulsig verslind.

“Jammer, ek het nie katkos nie.”

Voetstappe op die tuinpaadjie laat haar opkyk. Ag nee. ’n Lang donker man in denims en wit T-hemp kom nader. Onmiddellik is sy selfbewus. Kyk hoe sleg lyk sy tog. Sy takserende, ondersoekende donker blik maak haar selfbewus en vies.

“Hallo, ek is Charl van langsaan. Ek sien Susan het uiteindelik ’n huurder vir haar woonstel gekry. Waar is sy?”

“Weg vir ’n paar dae. Ek is Karen.”

“Lekker om jou te ontmoet.” Hy glimlag. “Ek wil nie steur nie, maar ek voel dis my plig om die bure in te lig dat ek weer fees gaan vier. Môreaand is mos Oujaarsaand.”

So, dis die buurman waaroor Susan haar gewaarsku het nadat hulle reeds die huurkontrak geteken het. Die sogenaamde party animal wat glo gedurig mense onthaal. Hy kyk na die kat wat op die tafel uitgestrek lê. “O, hallo jy. Klaar tuis hier.”

“Dis seker jóú kat,” sê Karen vinnig, “Ek probeer hom nie afrokkel nie, hoor. Hy het homself vanoggend hier aangekondig en sommer gebly. Hy is vreeslik mooi.”

“Ag, ou Monster kuier maar hier in die omtes vir almal. Ek gee regtig nie om dat hy hier is nie.”

Sy lag oor die naam.

“Ordentlikheidshalwe nooi ek die bure na my Oujaaraandpartytjie, anders pla die lawaai. Wil jy nie ook kom nie? So teen negeuur. Informeel.”

Sy kyk hom verbaas aan. Hy nooi haar, die nuwe intrekker, ’n totale vreemdeling, “ordentlikheidshalwe”. Sy wil eers nee sê, maar dan is sy pateties alleen terwyl mense naby haar jolyt hou.

“Dit sal lekker wees, dankie. Ek is nog vreemd. Ek het so pas uit Stellenbosch hierheen getrek. Ek begin in Januarie by ’n uitgewer werk.”

“Wat het jy in Stellenbosch gedoen? Gestudeer?”

“Ja, joernalistiek. Toe werk ek ’n jaar lank by die Eikestadnuus.”

Hy lyk nie juis beïndruk nie. “Nouja, ek moet gaan. Sien jou môreaand.”Hy kyk na die kat. “Kuier maar lekker, ou Monster.”

In 'n nuwe wit linnerok daag sy by die partytjie op. Sy het amper kleinkoppie getrek. Die hele straatjie is vol motors en die musiek, gelag en gepraat is dawerend. Die hekkie voor die mooi Victoriaanse huis is oop en sy loop in. Groepies totaal vreemde mense staan in die tuin en op die stoep en drink en gesels. Sy huiwer voor die trappies, bottel wyn in die hand.

“Haai, ek het gedink jy kom nie meer nie!” Hy verskyn skielik voor haar, in oopnekhemp en donkerblou broek.

“Kom ek stel jou aan ’n paar mense voor. Ontmoet my vennote, Ben de Wet, wat ook my bloedbroer is, en Jean Rossouw. Dit is Jean se vrou Madelief. Mense, hierdie is my nuwe buurvrou, Karen. Sy het in tannie Susan se tuinwoonstel ingetrek. Ek gaan haal vir jou ’n drankie. Wat is jou plesier?”

“Witwyn dankie.”

Hy beur weg deur gaste wat amper bankvas staan.“Waarom noem hy jou sy bloedbroer?” vra sy vir Ben.

“O, ons was tjommies van kleins af. Op buurplase in die Stellenbosch-distrik grootgeword, saam skoolgegaan, girls gedate, alles. Ons twee was die swart skape wat eerder argitektuur wou gaan swot as om saam met ons pa’s te boer.”

Karen lag. “Nouja, elke mens kry sy talente.”

“Jammer dat ek nou eers met jou wyn opdaag, maar ek het ’n bietjie vasgeval,” hoor sy Charl langs haar sê.

“Charl, lover, dis waar jy is.” ’n Opgesmukte, baie mooi blondine haak by hom in. Hy stel haar voor as Delia. Sy fluister iets in sy oor en hy buk af om dit te hoor. Delia balanseer op ’n paar stiletto’s wat seker ses duim hoog is. Nie die soort skoene wat Karen dra nie. Dis seker Charl se soort meisie, totaal anders as sy met haar los donker hare en min grimering.

Karen voel skielik heeltemal vreemd, en uit. Sy besluit om vroeg te verkas. Sy hou ’n uur uit voordat sy vir hom sê: “Die trek was regtig uitputtend. My maag is ook nie lekker nie. Sal jy my verskoon? Maar hou lekker partytjie en moenie bekommer dat julle my sal steur nie.”

“Ag, dis jammer. Jy het nog nie eens geëet nie, en ek het die beste spysenier in die stad gekry om my gaste te trakteer.”

Hy spot met haar en sy moet haar verleentheid verberg. “Ek hoop jy voel sommer gou beter, Karen.”

Die kat wag vir haar. Sy tel hom op. “Daardie rumoer is nie vir wesens soos ek en jy bedoel nie.” Hy spin gelukkig teen haar bors.

Karen draf vinnig na die deur waar die klokkie lui. ’n Kort vroutjie in ’n uniform en voorskoot staan daar. “Ek is Lizzie, Juffrou, Meneer Charl se huishoudster. Hy stuur vir Juffrou hierdie medisyne vir die maag.”

Verwonderd neem Karen die pakkie. Dit is Imodium, vir ’n loopmaag. Sy wil lag maar hou haar in. Dit kom nou van jok.

“Dis baie bedagsaam van hom, Lizzie. Sê vir hom baie dankie. Jy ruim seker nou op ná die partytjie. Ek kry jou jammer.”

“Ag, Meneer help my daarmee en hy betaal my ’n groot bonus. Ek is weer middagete by my eie huis.”

“O. Nouja, dit klink darem nie te sleg nie.”

Met Monster in haar arms, kom Karen by Charl se hekkie aan. Sy lui die klokkie, hoor musiek binne. Hy kom uit, geklee in ’n mooi pak klere, maar sy das is losgewoel. “Haai Karen, is jy nou weer gesond?”

“Ek is reg, en dankie vir die medisyne. Hier is Monster. Ek voel al skuldig dat hy heeltyd by my is.”

Hy neem die kat by haar. “Kom ons drink ’n lekker koue bier. Ek het ’n vergadering gehad met een van die veeleisendste kliënte wat ek nog teëgekom het. Nou soek ek lafenis.”

“Dankie, dit sal lekker wees. Die kat maak jou baadjie vol hare.”

Hy sit die kat neer en gaan binnetoe. Sy gaan sit by die stoeptafel. Charl kom terug met koue biere en ’n klereborsel.

“Gee jy om?” vra hy en oorhandig die borsel. Versigtig borsel sy Charl se baadjie. Sy is so naby aan hom dat sy ’n besondere naskeerroom ruik. In sy oë is daar ’n geamuseerde trek . . . en iets anders. Vinnig gee sy die borsel terug.

Daardie hele middag wonder sy oor die buurman. Hulle het eintlik baie lekker gesels. Toe vra hy haar sowaar op ’n date.

Hulle sit oorkant mekaar in die restaurant en kyk oor die pragtige klein hawetjie. Die ligte se weerkaatsing val oor die water en maak dit ’n towerwêreld.

“Daardie Monster is ’n enigma,” sê Charl, toe hulle aan wyn teug. “Soms verdwyn hy heeltemal. Ek het gehoor dat hy aan ’n ou alleenloper behoort het. Toe hy dood is, is sy huis gesloop om vir ’n nuwe ontwikkeling plek te maak. Hy het glo in sy testament geld aan die Dierebeskermingsvereniging bemaak omdat hulle die kat sou neem. Ek dink Monster het teruggekeer hierheen.”

“Maar het jy nie te kenne gegee dat hy aan jou behoort nie?”

Hy lag. “Ag, eintlik is hy almal se kat.”

Hulle vind dat hulle baie in gemeen het. Daar is ’n onmiskenbare aantrekking tussen hulle. Sy vra hom uit oor die blondine van Oujaarsaand. “Daar is niks tussen ons nie. Sy is ’n mooi vlinder. Die soort meisie wat ek soek is onpretensieus, natuurlik mooi en intelligent. So ’n vrou het staying power.”

Charl neem haar huis toe. Nadat hy weg is skakel sy die buiteligte af en bly nog in die donker staan om na die sterrehemel te kyk.

“Kom hier, oubaas se kat,” hoor sy Charl se stem, sag, dringend, anderkant die muur. “Miaauw.”

“Een van die dae hoef jy nie meer te gaan kuier nie. Dan bly sy sommer by ons.”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.