Hoe het ek hier gekom? Nie op die perron langs die stoomlokomotief nie, maar hier, verlate en koud in die donker nag op die drumpel van ’n finale afskeid. 

Die verweerde rand van my leernotaboek skaaf vertroostend teen my handpalm. My hare, modderbruin en smerig, val nou al verby my ken. 

Die laaste keer toe jy my gesien het – September in die reën – het jy gekla dis te kort; jy kan nie jou vingers daarin koek nie. 

Nou is al brokkie van jou wat aan my oorgelaat is, vasgevang in die nostalgiese kurwes van ink en onthou, weggebêre in my notaboek. 

’n Jong vrou se fyn hakskoen word versigtig op die plaveisel neergesit. Haar een hand lê lusteloos in die kondukteur se palm; die ander huiwer teen die kosyn – fyn vingers in swart satynhandskoene wat wonder of sy iets vergeet het. 

Flitse van ’n porseleinken en uitgekerfde wangbeen verskyn skaam onder die rand van ’n groot, weelderige hoed, so gekantel dat haar oë steeds ’n misterie vir die toevallige bystander bly. 

Ek voel hoe my polsslae onder my vel reageer, dringend en onverwags hoopvol, nes dit het met al die vorige flitse van jong vroue die afgelope maand. 

’n Koue druppel val wydsbeen in my warm nek. Sy moes seker ook die reën voel aankom, want in daardie oomblik lig sy haar kop na die naghemel. 

Dit is nie jy nie. Ek voel hoe my polsslae onder my vel reageer, ’n vinnige val en dan die ongenaakbare pyn van teleurstelling, nes dit het met al die vorige flitse van jong vroue die afgelope maand. 

Dit is nie jy nie, maar ek wonder wat sy hier in Toulon kom soek het. Hier is niks meer nie; jy het alles met jou saamgevat. 

Ek voel hoe my polsslae onder my vel reageer, dringend en onverwags hoopvol, nes dit het met al die vorige flitse van jong vroue die afgelope maand.

Die volgende passasier wat die trein verlaat, is ’n verweerde ou man met ’n kriewelrigheid aan sy bewegings soos een wat gesteelde klere dra. 

Die geskaafde leer van sy skoene draal nie lank op een plek nie. Ek wil vir hom sê dat ek ook ’n vlugteling van my eie verstand is, maar my Duitse aksent skemer nog te veel deur my Franse vokale deur. 

Die datum op die koerant onder sy arm is “le 9 juin 1942”. Dit is lank nie meer somer in Toulon nie. 

As ek ’n skrywer was, sou ek hierdie jaar se dans met die dodetal sterk veroordeel het, maar ek is nie ’n skrywer nie, want jy is nie meer hier nie. 

Op die spoorlyn word die dik vlae sneeu eenkant toe geskuif om die weg te baan vir die volgende trein wat om middernag na La Rochelle vertrek. 

’n Lang rit na nog ’n afgeleë hawestad aan die Franse kus. Die laaste trein. Namate hierdie handjievol passasiers een vir een in hul verskeie rigtings gaan, wonder ek waarna elkeen op soek is – verlossing, skuiling, liefde, ’n apteek?

Oorlog laat ’n mens filosofeer. Snaaks, hoe nader die dood, hoe groter die begeerte om te lewe. 

En al die mense wat so op treine klim, bestem vir vreemde plekke – almal vlug of is op soek na iets. 

Dis net lywe wat anderkant uitklim, want jou hart lê by alles wat jy agterlaat. Die lywe, Frans of Duits, praat almal die taal van verlange. 

Beteken dit ek is deel van die verlorendom, die lewende lyke opgelewer in die stryd van vel en haat?

As ek ’n skrywer was, sou ek hierdie jaar se dans met die dodetal sterk veroordeel het, maar ek is nie ’n skrywer nie, want jy is nie meer hier nie.

Teen 23:49 vind my hand die koue reling. My tas is skielik swaarder, asof selfs die skamel offerandes van my besittings teen die reis gekant is. 

My longe haal swaar asem en die lug wat ek uitblaas, lyk soos rook, amper tasbaar. Ek weet nie wat ek verwag om in La Rochelle te kry nie. 

Hulle sê die blommevelde daar is selfs in hierdie donker tye bakens van hoop en ’n vorige bestaan.

Al die kajuite is leeg, maar ek beweeg na die verste een in die trein, dalk om Toulon so lank moontlik te sien terwyl dit in die verte en in die verlede in vervaag, of dalk om ruimte te maak vir al die spoke in die trein wat deur vlugtende passasiers agtergelaat is. 

Die stilte in die kajuit is intens – ek is skielik bly ek is alleen. Die nabyheid van vreemdelinge en afwesigheid van gesprekke sou net die stilte beklemtoon het. 

’n Gewelddadige gevoel skud skielik deur my lyf, ’n beweging met die oorsprong diep onder in die trein se binnegoed. 

My voorkop tref die harde hout van die bankie langs my en ’n pyn steek deur my nek. Dan is alles stil. 

Ek bly ’n paar oomblikke so lê terwyl ek wag dat die pyn vervaag. En gouer as wat ek sou verwag, verdwyn die gevoel. 

Ek sit sonder moeite regop en is verbaas om te sien daar is geen bewys van die besering op my kop nie.

’n Fluitjie blaas en die trein begin sy stadige uittog uit die stasie, asof niks gebeur het nie. 

My voorkop tref die harde hout van die bankie langs my en ’n pyn steek deur my nek. Dan is alles stil.

In ongeloof staar ek by die venster uit, op soek na die kondukteur met die welige snor (sekerlik moes hy dit ook gevoel het?), maar die perron is leeg. 

Daar is niemand te sien buite in die nag nie – nie die stokers met hul steenkoolgevlekte wange nie; ook nie die kaartjieverkoper agter die toonbank of die eensame skoonmaker met die besem nie. ’n Spookstasie. 

’n Ysige gevoel loop skielik by my ruggraat af en ek moet ’n bewustelike poging aanwend om daarvan ontslae te raak.

’n Ongemaklikheid wat ek nie kan beskryf nie, kom kruip agter my borsbeen in. Skielik voel die wêreld nog stiller as tevore, asof ek al siel is wat oorbly.

’n Vreemde ding gebeur dan – ’n vrou, onberispelik geklee, sukkel met twee swaar tasse deur die kajuit. 

Eerstens, die trein het lankal begin beweeg en ek het haar beslis nie hoor inklim of op die perron sien wag nie. Dit is asof sy van nêrens af net skielik verskyn het. 

Tweedens, die hele trein is leeg, maar steeds beur sy met swaar bagasie en al na die verste kajuit waar ek stilte en troos kom soek het. 

En hier het ek gedink dat ek in dié fyn ure van die nag die rit na La Rochelle alleen sou aanpak. 

Nes die jong vrou van vroeër dra sy ’n groot hoed met ’n rand wat laag hang en haar gesig bedek. 

Die hoed is ’n ryk smaragkleur met ’n prettige pienk lint om die middel gebind. 

Daar is niemand te sien buite in die nag nie – nie die stokers met hul steenkoolgevlekte wange nie; ook nie die kaartjieverkoper agter die toonbank of die eensame skoonmaker met die besem nie. ’n Spookstasie.

’n Dik pels is oor haar skouers gedrapeer en speel oor die sykouse aan haar fyn enkels. 

Sy dra nie handskoene nie, en met ’n skok gewaar ek haar bebloede kneukels en donkerblou merke om haar een gewrig. 

Sonder verdere huiwering spring ek op om my hulp en meegevoel aan te bied. Sagte vingerpunte skaaf teen my vel toe sy die tasse dankbaar vir my aangee.

“Merci.” 

Net ’n fluistering, maar ek hoor genoeg van die satynstem, so asemverruklik bekend, dat ek wéét. 

Sy kyk verbaas op toe sy haar naam hoor, en dié keer is dit nie net my verbeelding nie. Dit is jy. 

Wêrelde word omgekeer in daardie oomblik, en ek wonder hoe dit moontlik kan wees. 

Jy lyk nes ek jou laas gesien het, al daardie maande en leeftye tevore. Dit is net jou oë wat effens wyser voorkom. 

Ons bring die aand saam op die trein deur en ek drink elke deeltjie van jou in. 

Ek weet ons tyd is geleen, maar ek kry dit steeds reg om net te fokus op die handjievol oomblikke wat aan ons gegee is. 

Cecile, my liefste Cecile, ek hoop jy kan my vergewe. Daar is nog soveel lewe om te skryf.

Ek lees vir jou van my jongste gedigte, en ons praat oor jou ouers en Provence. Dit is eers toe dagbreek dreig om die lug skarlaken te verkleur dat jy my vertel van Le Ciel. 

Jy sê dit is ’n wonderlike plek waar rose heeljaar bot. Met hoop in jou oë smeek jy my om saam met jou af te klim. 

it is die volgende stasie, net voor La Rochelle. Jy is vurig in jou pogings om my te probeer oorreed om daar ’n nuwe lewe saam met jou te begin. 

Maar om die een of ander rede, buite die beperkings van my eie begrip, kan ek nie instem nie. 

Ek weet nie hoe ek my eie hart weer so kan breek nie, maar tog is dit presies wat ek doen. 

Ek groet jou by die stasie van Le Ciel met ’n omhelsing wat my hart terselfdertyd laat verbrokkel en genees. 

Ek proe my eie trane in ons soen. Ek kyk hoe die trein my verder van jou af wegvat en dan neem die donkerte oor. 

My ooglede beur oop en die steekpyn in my kop is nog erger. Die kondukteur staan gebukkend oor my. Ons is steeds in die stasie. 

Sonder om te dink gryp ek die notaboek in my tas. Begrip daal oor my neer. Die foto is nog daar – die foto van jou begrafnis verlede jaar. 

In Frans sê die man vir my iets oor ’n ontploffing, maar ek verstaan net fragmente. Skielik besef ek iets, en ’n hoopvolle glimlag strek oor my gesig. 

“Wat beteken Le Ciel?” vra ek hom in Duits. Hy kyk my vraend aan. “Die hemel,” antwoord hy. 

Dis in daardie oomblik dat ek weet ek het ’n keuse gehad, en maak nie saak hoe moeilik dit was nie, ék het die lewe gekies. 

Cecile, my liefste Cecile, ek hoop jy kan my vergewe. Daar is nog soveel lewe om te skryf. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.