Reël 19 – moenie jou aan beuselagtighede steur nie,” lees Marta hardop.

“Reël 20 – op die ou end is amper alles beuselagtighede.”

Marta klap haar selfoon toe. Die persoon wat dié stukkie opbeuring vir tallose WhatsApp-aansture georkestreer het, het duidelik nog nie in hul lewe ’n kind gebaar nie.

Sy vryf moeg oor haar natgeswete nek. Haar kinders is besig om haar oud te maak. Hulle en haar vuil kombuis. Sy vryf nog ’n keer oor haar gespanne nek en tel dan verbete die oranje stoflap op.

Die kombuisdeur gaan oop. Dis Daleen. Marta sug innerlik. Sy het nie vandag krag vir haar perfekte suster nie.

“Hallo. Sjoe, jy is besig,” sê Daleen terwyl sy haar maer boude op een van die aluminiumstoele in die eethoekie neerplak. Marta kan nie besluit of sy opreg of sarkasties klink nie.

“Middag, Daleen. Wil jy iets drink?”

“Nee dankie. Ek het nie eintlik tyd nie. Ek het jou net gou kom vertel.” Marta kyk opgewonde op.

“Het jy iemand ontmoet?”

Daleen lag. “Moenie verspot wees nie. Hulle sal my nie van die rak kry nie.”

“O.”

“Iets baie beters het gebeur. Ek het die verplasing gekry.”

'Twak, man. Het jy hom nie geleer pornografie is van die bose nie?'

“Verplasing?”

“Ja, na Vancouver.” Marta se oë rek.

“Kanada?”

“Is dit nie fantasties nie? Ek is so opgewonde!”

“Ek het nie besef jy ding mee vir ’n pos oorsee nie.”

“Anyhoo, ek vlieg oor ’n week en gaan tien teen een nie die tyd kry om jou weer te sien nie. So ek bring solank jou geskenk.”

“Geskenk?”

“Ja. Vir jou verjaardag.”

“Maar dis eers in Desember.”

“Die kontrak is vir twee jaar. Ek sal dié Kersfees beslis nie by die huis wees nie.”

Daleen grou in haar Guess-handsak en bring ’n koevert te voorskyn.

“Ta-da!” roep sy uit en gee dit aan Marta.

“Dankie,” sê Marta en mik om die koevert in haar broeksak te steek. Sy hoop daar is geld in. Dis amper matriekafskeid en Mia het ’n baie spesifieke rok in die oog.

“Kyk!” moedig Daleen opgewonde aan. Marta skeur die koevert oop en haal ’n goue lidmaatskapskaartjie uit. Marta glimlag onseker. Op die voorkant is in sierskrif gedruk: Wildflower Equine pass. “Dis jou jaar lange pas vir perdrylesse.”

Marta frons. Sy vryf verdwaas oor haar vol heupe. Perdrylesse?

“Ek het dit eintlik vir myself uitgeneem, maar sal dit nie meer kan gebruik nie. Toe dink ek aan jou en die perdeplakboeke wat jy so gemaak het toe ons klein was.” “Daleen, ek is vyf en veertig.”

“En?”

“Ek is ’n ma van drie; ek kan nie seerkry nie.”

“Bedorwe brokke.”

“Daleen!”

“Wat? Hulle waardeer jou nie. Anyhoo, dit sal jou baie goed doen,” merk Daleen op en bekyk Marta op en af. Marta vou selfbewus haar arms.

“Dis moeilik om ná 40 gewig te verloor. Jy sal nog sien.”

“Het Leo al weer ’n slimfoon?” verander Daleen die onderwerp.

“Nee, hy mag eers weer een kry wanneer hy 16 jaar oud is.”

“Mooi so, julle staan vas. Klein pervert.”

Marta maak haar oë toe.

“Hy was net met die verkeerde vriende deurmekaar.”

“Twak, man. Het jy hom nie geleer pornografie is van die bose nie?”

“Almal maak foute.”

“Hy kan bly wees hy is nie my kind nie.”

“Ons was ook maar stout.” Daleen staan met ’n sug op.

“Jy is te goed, Marta. Dis jou probleem.”

‘Jul kinders kan ’n bietjie hul pa’s bel as hulle iemand wil pla’

’n Week later staan Marta en ses ander middeljarige vroue onder ’n reusebloekomboom. Hulle gesels in kort, senuagtige sinne. Dis ’n sonnige, windstil dag. Marta het ’n swart oefenbroek vir die geleentheid gekoop. Sy wil eers die besigheid goed deurkyk voor sy geld aan ernstige rydrag bestee.

Sy was verniet bang sy gaan afsteek. Drie van die ander vroue het ook in oefenklere opgedaag. Skielik is almal stil.

Hulle kyk hoe hul perdryinstruktrise oor die bult aankom. Bloots, kaalvoet en die perd sonder ’n toom. Met ’n klappie op die nek laat die instruktrise die galoppende perd flambojant direk voor hulle tot stilstand kom. Klein showoff, dink Marta.

Die jong vrou spring rats af. Sy kyk hulle sewe woordeloos deur. Dan lig sy haar gholfhemp en tower ’n pakkie sigarette en pienk aansteker op wat tussen haar heup en stywe rybroek die rit meegemaak het. Sy steek vir haar ’n Camel aan.

“Welkom,” groet sy verby ’n rookwolk.

“Dis Lady dié. Sy is die liefste ding op die aarde,” sê sy en klop die bruin perd wat doodluiters agter haar staan op die nek.

“Ek is Charlie. Ek het julle aspris saamgegooi. Want julle is special.”

Charlie skiet haar halfgerookte sigaret na die grond. Mik om dit dood te trap. Besef betyds sy is kaalvoet. “Sal jy dit vir my vermorsel?” vra sy die regop swartkopvrou wat voor Marta staan.

“Graag,” antwoord die vrou, haar stem dik van afkeer.

“Al wat ons vandag gaan doen, is aan die perd vat. Wie is eerste?”

Marta se selfoon klingel. Mia het ’n foto gestuur. Sy het ’n ander rok gesien. Wat nog duurder as die vorige een is.

“Wat? Het jou huis afgebrand?” vra Charlie. Marta skud haar kop. “Nou hoekom lyk jy so?”

“My dogter het ’n nuwe matriekafskeidrok gesien. En die bedrag is R2 000 bo ons begroting.”

'Dis oukei. Haal net asem. Die ergste seer gaan gewoonlik ná vyf minute verby.'

“Wat is jul begroting?”

“R2 500.”

Charlie fluit.

“My ma het gesê as ek ’n rok wil hê, moet ek self daarvoor sorg. Ek was furious. Maar dis hoe ek hier beland het. Ek het naweke stalle skoongemaak. En nou weet ek nie meer hoe ek sonder perdesweet oorleef het nie.”

“Haar maats kry almal R5 000.”

“Dis nie jou werk om alles wat haar hart begeer aan jou kind te gee nie. Jy moet haar leer oorleef. En die lewe is een taai teef.”

Marta begin om ’n boodskap aan Mia terug te tik. Maar Charlie neem haar selfoon af.

“Ek het vergeet om te sê. Geen selfone terwyl ons met die perde werk nie.”

“Hoekom nie?” wil Marta geskok weet.

“Want julle is almal moeders. My ma is drie jaar gelede aan kanker oorlede. Ek mis haar elke dag. As ek iets vir haar kon gee, is dit twee uur per week vir haarself. Jul kinders kan ’n bietjie hul pa’s bel as hulle iemand wil pla.”

Charlie hou ’n plastieksak uit sodat almal hul fone daarin kan gooi. Dan haak sy dit aan een van die bloekomboomtakke.

“Die tweede reël is – hier lag ons saam en hier val ons saam.”

“En die derde een is geen skoene nie?” spot die swartkop.

Charlie glimlag. “Nee, hier is eintlik lelike dorings. Dis net ek. Ek’s mallerig.”

Dis twee maande later. Marta staan langs Lady en probeer haar asemhaling reguleer.

“Marta, is jy reg om vandag met Lady te galop?” vra Charlie verby die kougom in haar kies. Sy probeer hard om die kamele te los, maar sy bly vat-vat aan haar regtersy, waar die pakkie gewoonlik was.

“Nee. Ek kan nie seerkry nie. Ek het drie kinders,” prewel Marta en begin terugtree. Charlie kry Marta van agter beet en stoot haar vorentoe.

“Dis nie ’n probleem nie. Dit gee jou net meer rede om nie af te val nie.” Lady betrag hulle twee rustig van onder haar swart wimpers. Blykbaar gewoond aan stoeiende ruiters.

“Asseblief, Marta. Dis nou of nooit.”

Terwyl Marta opklim, voel dit of elke sel in haar liggaam begin vibreer. Eindelik het sy Lady aan die draf. Teen die tweede rondte al langs die ring af begin Marta ontspan.

“Oukei, volgende rat!” gebied Charlie van die kant. Marta druk Lady saggies in die lieste. Goeie ou Lady begin haar lyf onder die saal rek en vou.

Die volgende oomblik tref Marta die grond met ’n harde slag. Haar mond is vol van die valerige sand in die ring. Sy lê doodstil. Dis te seer om te beweeg. Veral haar linkersy klop asof ’n verwoede renoster daarop gedans het.

Charlie kom nader gestorm. Sy vryf saggies oor Marta se rug. “Dis oukei. Haal net asem. Die ergste seer gaan gewoonlik ná vyf minute verby.”

Ná wat soos ’n ewigheid voel, draai Marta op haar rug. Sy staar na die potblou hemelruim. Sy skud haar kop effentjies.

“Hulle was reg; ek sal dit nooit kan doen nie.”

“Strooi, man! ‘Hulle’ almal se stink unmentionables.”

Marta lag rukkerig. Sy dink aan haar skoonma se waarskynlik laventelriekende unmentionable.

“Hoe voel jy?”

“Styf.”

“Fantasties; dan kan jy nou binnekort weer opklim.”

“Nee.”

“Ja.”

“Nee.”

“Jy hoef net op te klim. Niks meer nie. Jy kan nie nou vir Lady drop nie. Kyk hoe lyk sy.”

Marta draai haar kop. Waarlik, dit lyk regtig of die perd se oë wil breek.

Dis twee weke later. Dit het baie van Marta gevat om vandag op te daag. Maar nadat sy vir Mia die koerantuitknipsel gegee het, kon sy nie meer omdraai nie.

“Soms moet ’n mens die bul by die horings pak, my kind,” het sy Mia se lang gesig probeer paai.

Sy en haar man het besluit hulle gaan by hul begroting bly. As Mia ’n duurder rok wil hê, sal sy self vir die verskil moet sorg met afloswerkies.

Marta haal diep asem. Vandag klou ek tot hierdie bul se horings afbreek, dink sy terwyl sy haar regterbeen oor Lady se rug swaai. Sy skuif vasbeslote reg in die saal.

Dan, asof van ver, hoor sy Lady se ritmiese hoeweklap onder haar. Marta voel soos ’n kind sonder ’n skoonma, oortrokke rekening of spatare. Dis net sy en Lady in die sonskyn. En hulle twee vliég.