Ek sit in die kerk. Asasel sit op my nek. Ek voel nie lus om hierdie booswig se noemnaam sommerso in die gewyde atmosfeer te gebruik nie.

Hy wys met sy krom vinger na elke nek hier in die kerk: vlak voor my, die skouers en boog van die melkwit nekkie, so sag soos ’n baba se boudjies . . . ’n bruin boerenek, dan ’n rubbernek, ’n rammetjieuitnek en twee bollanekke en . . . twee, drie swaannekke ook.

Onwillekeurig vou my hand oor my sleutelbeen en kuiltjie . . . Ek is terug voor die spieël in ons slaapkamer. Dis toe ek vorentoe leun om my lippe te bewerk dat ek dit in volle glorie sien.

My nek. Ek knip my oë en kyk weer en weer. En weer. Ek raak daaraan . . . seningrig, en toe ek geskok terugruk, die ene skilpadnekvel – soos ek uit my kinderdae onthou.

Dit kan nie wees nie! Langer as 60 jaar ken ek hierdie nek.

Gister was dit nog die fluweelgladde anker vir my kop. Hierdie erosiewerk kon tog nie oornag gebeur het nie. Op pad kerk toe bly ek prosedeer. Dis die onomseilbare wet van swaartekrag . . . Plooie en rimpels wat vir die gesig bedoel was, het afgesak nek toe. So skielik?

Dis tog dieselfde spieël waarin ek myself elke oggend groet. Dié spieël!

In die kamer waaruit ons na ’n groter een geskuif het, het die spieëlkas in ’n hoekie met gedempte lig gestaan; in die groter een staan dit as’t ware in die buitensporig groot venster.

Teenoor die simpatieke beligting van eers sit hierdie een elke swartkoppie, plooitjie en muistepeltjie op skou. Weer kruip my hand nek toe toe ek die jong dingetjie met haar malvalekkerpienk halsie en eendstertkrulletjies daaroor onder skoot kry.

’n Saadjie is gesaai. Hy begin met ander oë na my kyk. En na ander vroue.

Die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal hom met moeite voortsleep en die lus sal vergaan, lees die predikant met sy fors nek bo ’n poublou das en grys lapelle driftig voort.

Voor my staan ’n amandelboompie in wit gewaad, en met ’n nek soos myne voel hierdie sprinkaan hoe die lus vergaan. Dis die son, die bloedige son, wat jou nek van gister die erosieveld van vandag gemaak het.

Pleks dat jy net so 10% van grootouma se kuise bedekking van pols tot enkel geërf het, is dit toe net ’n strop om die nek om die son vrypas te gee om tot verby cleavage sy vernielingswerk voort te sit, baklei ek met die sonmal vrou in my.

“Ja, maar sonlig is heilsaam, vitamien D . . .”

“Magtig, ja.”

’n Elmboog pomp in my ribbes en pluk my uit my binnestryd. Ek staan op en ek wis nie; ek sing en ek hoor nie. Ek takseer net weer al wat ’n nek is rondom my. Weer ’n pomp, en ek kwaak ’n vreemde noot onder Man se borende blik. Onder sy ken hang ’n sakkie . . . ’n lel in goeie Afrikaans. Dankie tog dis my gespaar.

“Mirrie, wat ’n oulike stringetjie krale,” pruil ’n roesrooi snaweltjie buite die kerk. ’n Oulike stringetjie krale! Dis kouewaterpêrels uit die mossel se pens, wil ek haar toesnou, maar volstaan met ’n lispelende: “Jy het self ’n snoesige doekie om jou nek.”

Ek soek na die lyne onder die doekie. Met daardie nek van jou behoort jy eerder ’n agterstevoor boordjie soos die vrou van ’n priester te dra, S.O.S. haar oë die doodskoot. Toe Man nog praatjies maak op die kerktrap, sit ek al in die motor. ’n Storm steek in my op; weerligstrale dans om my nek. “Wat gaan aan met jou? Ek moes tog net ordentlik groet!” stywelip hy. “ . . . voel nie lekker nie . . . keel,” prewel ek die enigste woord op my tong. Die plofbaarste!

“Dis die son. Dis gister se lêery in die bloedige son. Sonstraal; dis wat jy het, en ’n lekker somerverkoue,” borduur hy lustig voort.

Ek stoom toe ek by die huis aftuig. Ek skiet my kerkrok oor die spieël. Die rok met die vetertjies bolangs stol tussen hand en lyf. Driftig blaai ek deur die ventilasieryke kledingstukke; besluit dan eindelik op iets met ’n wasigheid om die hals en woel nog ’n wollerige ietsie bo-oor. Vir die onwis. Ek sal my hele klerekas moet omskakel en uitskakel.

En oorskakel van fleurig tot preuts, besef ek met ’n naskok. Ek sal my hele leefwyse moet hersien!

“Dè, gorrel dié,” sê Man agter my, met ’n glas met ’n gelerige mengsel. “Vir jou seer keel, Mirtjie.” Sy onverwagte toegeneentheid laat trane in my oë dam. Ek gorrel en gorrel, verstik en bars in trane uit. Ek voel ellendig en skuldig in sy arms.

“Foeitog, dis daarom dat jy so koud kry,” troos hy met sy oë op die windsels om my nek. Toe ek later met etenstyd agter my bord vol slaaiblare aan die etenstafel inskuif en sien hoe hy lustig wegval aan varkham en romerige aartappelslaai, pyn my keel letterlik. Nog ’n prys wat ek moes betaal vir daardie no. 36’s.

Die melancholie van ’n vrou in haar nek-o-pouse is besig om my onder te kry. “As jy minder bokkos eet en iets meer vullends inkry, sal jy meer stamina hê teen verkoue en dinge,” preek hy blinkbek.

“Nè?”

“Ja, en dan sal jy ook voller lyk. Ek bedoel, met die jare sak ’n mens se spiere mos maar uit en jou lyf, veral jou gesig . . . e . . . maar jy is pragtig net soos jy is,” trap hy al dieper in die mynveld.

“Wil jy miskien hê ek moet soos Miem Melktert lyk?” blaas ek toe die kraters in my nek lawa pomp.

Ek sal my hele leefwyse moet hersien!

“Vrou, jy is beslis baie koorsig . . . om alles so letterlik op te neem,” paai hy en pik nog ’n stukkie spek uit die varkskottel.

Ek voel lus om die vleis van sy vurk af te gryp en heel in te sluk. ’n Dik lyf om by ’n sinkplaatnek te pas.

Ek vlug kamer toe. ’n Vermoede het plotseling kop uitgesteek. ’n Saadjie is gesaai. Hy begin met ander oë na my kyk. En na ander vroue.

In ’n wanhoopspoging gooi ek die deure van my hangkaste oop. ’n Paradysvoël sprei sy kleurryke vlerke na buite toe ek arms vol rokke uitlig. Ek is dol oor kleure, skokkend helder kleure.

Een vir een lê ek hulle op die bed uit, eerbiedig amper. Hierdie papawerpienk enetjie is dáár gekoop; hierdie wittetjie met die spaghettibandjies en die tamatierooi slooprokkie is op ’n Durbanse straatmark uitgesnuffel.

Ek snuif en sorteer; dié met ’n kapmoutjie en iets oor die sleutelbene eenkant. ’n Skrale hopie. Mary, huishulp, sal met die ander moet gaan smous. Die aand verloop stug; ek gaan vroeg bed toe, hy kamma verdiep in ’n buitelandse nuusberig.

Die volgende oggend bly ek ver van al wat ’n spieël is af, veeg en flap na gedagte oor my persoon en durf die stroewe dag in ’n somber streeptabberdjie aan. Weer ’n kuise doekie om die nek.

Mary se oë peul byna uit omdat madam nou haar pragtige rokke wil wegmaak! Net om myself finaal te oortuig van my afgetakelde voorkoms gaan staan ek in die volle aanskyn van spieël en sonlig.

Lig ek my kop effens, span die spiere soos ankerdrade; laat sak ek my ken en meegaande, dan dam skilpadvel in my kuiltjie en stoot plooi tot in my wange. Ek wil vlug, huil, skree. As ek myself so sien, hoe sien ander my . . . my man? Man kom van die dorp af met ’n apteek in die kleine.

“Dis ’n kopverkoue wat jy het,” diagnoseer hy weer en jaag my ’n paar dosisse daarvan in. Ek sweet en yl. Mary kom terug met die vernederende tyding: “Mm-mm, hulle betaal nie so baie geld vir so min rok nie.”

Ek soek troos in die stylbylae van die vrouetydskrif. Hare in die kol . . . laat jou lyf pienk . . . velsorg vir die vrou van nou. Daar is ’n geweldige leemte in dié veld. Niks vir ’n vrou met . . . van my jare nie, besluit ek driftig.

“Mirrie, wat gaan aan? Wat is verkeerd?” Hy hok my af tussen stoof en tafel.

“Is dit ’n ander man?” vra hy woes. Vertel hom. Vertel hom. Ek kan nie. Ek val toe maar terug op sy ou tegniek van aanval is die beste geweer.

“Tipies, ek moet eers met witseerkeel op die vloer neerslaan om ’n bietjie simpatie te kry.”

Ek sluk ’n wind in verontwaardiging en breek los in ’n volbloedkroephoes. Dit werk. Ek word bed toe gedra, weer sweetgoed en pynstillers ingejaag en wonder benoud waar hierdie ipperêrie sal eindig.

Ek wil vlug, huil, skree. As ek myself so sien, hoe sien ander my . . . my man?

In my drome word ek rondgejaag deur nekke sonder bene en skilpaaie sonder doppe. Ek skrik wakker, natgesweet en dors; steier badkamer toe en staar begogel na myself in die spieël sentimeters van my gesig af. Ek lyk soos ’n uitgesygde 70, voel soos 80 – met ’n nek soos E.T. s’n.

“Wie het jou laas nag so aan die nek beetgehad? Dit moet ’n ouderling wees, want in die kerk was jy in ’n koma, en nou die stigtelike klere! O, en het jy onthou Paul kom ons vanmiddag oplaai vir tennis by Richard?” praat Man die eerste keer weer tussen al sy plaaswerksaamhede met my toe hy net ná eenuur, die ene Sampras in sy tennisklere, te voorskyn kom.

Albei die mans het baldadige jong vroutjies. “Gaan gerus. Ek gaan weer ’n bietjie lê,” prewel ek broos.

Toe die viertrek in ’n stofwolk stilhou, “tata” hy net en spring die stoeptrappies twee-twee af. Paul-vroutjie mik nog huis toe, maar hy skep haar in ’n tennisdrukkie, soen . . . sóén haar op die kaal skouer en bondel haar terug in die voertuig.

Ek voel hoe my selfbeeld stuk vir stuk afgebreek word. Nog nou die dag het hy so aan my nek geknibbel! Ek pluk die serpe af en gaan staan bloots voor die onsimpatieke spieël. Ek het sommer lus en trek my tennisklere aan en gaan moker al daardie swaannekkies van die baan af.

Ek is immers die no. 1-vrouespeler. Ek kry ’n uitdagende staan in die driekwartlengtespieël en staar verbete terug na die vrou met haar martelaarsgesig.

“En nog ’n verjaardagwens van Bertie Munnik van Petrushoogte: Aan my liefste vroutjie, Mirrie, wat môre verjaar. Al my liefde altyd joune, hierdie song is net vir jou,” klink die radioman se warm stem die kamer vol. Ek plof op die vloer neer. Ek luister bewoë.

All of these lines across my face, tell you the story of who I am, so many stories of where I’ve been, and how I got to where I am. It’s true . . . I was made for you.

Ek snik so dat party woorde wegraak, maar dis asof daar engelvlerke om my vou. All these lines across my face . . . my neck, besef ek hemelhelder, sal nie saak maak nie. Nooit, ooit nie.

Ek glip in my skrapste, fleurigste rok in, beklemtoon my nek met ’n blink string krale en gaan wag middeljaarmooi, berouvol en dankbaar op my man wat berge en riviere gekruis het, en nog sal, vir my, met hierdie nek.