Die laaste treë teen die koppie uit hyg sy na asem.

Ester sak uitgeput op ’n klip neer, bekyk haar tyd op die stophorlosie. ’n Steenbokkie flits verby. Sy adem die reuk van balderjan en stinktontel, van klam Karoo-grond, diep in, stadig uit.

Rustig word, Ester. Tyd vir dink. Haar gedagtes dwaal terug na die vorige aand. Na haar pa se geboë hoof by die eetkamertafel.

Die donker patriargale stem wat die vloerplanke laat vibreer: “Heer sy U dank vir die spyse . . . genade oor my kudde,” asof háár kudde nie die Almagtige se seën werd is nie.

Nederigheid word by haar ingebid oor die “kaasmakerytjie” wat sy op die familieplaas bedryf. Skaars amen gesê toe hy beduie die Landbouweekblad kom ’n foto neem van die stoetram waarvoor hy R80 000 op die veiling betaal het.

“Hemel, pa, ons sou geld vir melkmasjiene opsysit!” Ongeduldig oor die gesukkel in die melkery; van 60 ooie met die hand melk.

“Pa vergeet die kloustukke word ingevoer.”

“Ek het met Sebastiaan gepraat. Hy sê hy ken die bloedlyn; dis ’n belegging in die kudde.”

“In watter kudde, pa?”

Hy het met sy vuis op die tafel geslaan sodat die messegoed dramaties kletter.

“Mý kudde. My God.” Afgemete.

“Die kudde wat julle deur universiteit gekry het, wat jou oorlede ma se doktersrekenings betaal het, wat hierdie plaas staande hou terwyl die res na bankrotskap voortploeter.”

“Wat weet Sebastiaan van bloedlyne, pa? Wanneer was hy laas in die land?” “Sebastiaan ken die vryemarkstelsel, en hy’t steeds eersgeboortereg.” Ester het gesnork.

“ ’n Aandelemakelaar wat kom bloed sweet op erfgrond? Boer in dié land? Hy gee nie om of ons krepeer nie, pa. Sy kar kos meer as die plaas.” Thandi het in die deur kom staan.

“Hier’s ingelegde vye by die kaas.”

Sy het die kaasbord op die tafel neergesit. Ester het stram opgestaan. Sy het oor haar pa gaan buk; hom vas in sy hardkoppige oë gekyk.

“Die wins uit die kaasmakery vergelyk goed met die wol en die vleis s’n. Ek het my laaste sent hier ingesit. Pa weet wat die kruistelery gekos het. Dertig ooie gaan dié seisoen meerlinge hê.”

Hy het vorentoe gestrek oor die tafel, sy vurk minagtend in ’n blokkie kaas gesteek. “Jy’s laf as jy dink jou kaas gaan hierdie plaas red.” Sy het omgedraai en kombuis toe gestap.

“Ester! Watse kaas is dié?” Sy het omgedraai, op haar hoede.

“Die een waarvoor ek die roosmaryn aangeplant het. Wat’s fout?”

“Dit proe soos die wind oor jou kruietuin,” het hy half by homself gesê. Sy het sag geraak. “Dis die klein kasie, die pecorino, wat die prys gewen het.”

“Nie sleg nie, maar kom darem nie by ’n Karootjop nie.”

Ester het op die koppie kom sit om die plan te oordink. Sy wou dit vir hom uitlê.

Kyk daar, pa, langs die windpomp, waar die fonteinknoffel groei, daar kom die kaassentrum. Verder ondertoe die wegbreekplek en die selfsorghuise.

Dis vir óns, pa, en vir werk vir die plaasmense.

Sy word bewus van ’n stofwolk waar haar pa se bakkie by die werf uitjaag. Gaan seker die stoetram laai. Ester begin lag. Sy gaan haal die lag diep uit die stil plekke van haar lyf, waar sy dit lank gebêre het.

Sy lag soos sy jare gelede gelag het toe die landbouamptenare gesê het sy kan nie melkskape invoer nie. Sy lag oor die uitdrukking op haar pa se gesig.

“Jy’s mal,” was sy kommentaar toe sy sê dit beteken net sy sal ’n invoerpermit vir die saad moet kry.

As sy nie die melkskape kan invoer nie, sal sy hulle met haar eie kudde kruis.

“Ek het bedank, my pensioengeld by die universiteit gebruik. Dis pá wat wou hê ek moes op my en Sebastiaan se erfgrond kom boer.”

Haar pa het sy rug op haar gekeer. “Die saad is op pad uit Nederland, pa. Volgende week doen die veearts die inseminasie.”

Ester grinnik terwyl sy gly-gly bultaf draf. Lag steeds toe sy by die fabriek instap en die rekenaar aanskakel. Sy maak ’n oproep terwyl sy wag dat die e-pos aflaai.

Eers in by die rypmaakkamer om die rye kaas een vir een om te draai, met genoeg ruimte tussenin vir asemhaal. In die vyf jaar sedert die kaasmakery gevestig is, het sy heelwat bereik. Maar die mark vra hulle moet bly uitbrei.

‘Ek kan sien jy het ’n kop vir ’n plan. ’n Vrou wat in Afrika boer, moet moed hê’

Terug by die rekenaar sien sy die e-pos kom van die Fromageries Papillon. Sy leun vorentoe. Die skoenlapperlogo van die beroemde kaasmakery pryk boaan die teks: Insaisissable depuis 1906.

“Bonjour, Ester, ek kan sien jy het ’n kop vir ’n plan. ’n Vrou wat in Afrika boer, moet moed hê. Ek het vir jou plek op die Papillon-toer bespreek. Jou idees het beslis potensiaal en ek sien daarna uit om jou hier te ontvang. Laat weet wanneer ek jou in Toulouse kan ontmoet.”

Onder die boodskap die e-visitekaartjie: Jean de Lange. Kontrakproduksiebestuurder: Papillon, Roquefort-sur-Soulzon. Sy glimlag toe sy op die “reply”-venstertjie klik.

“Liewe Jean,” begin sy. Verander dit dan na “Hallo”. Sy keer terug na die inboks, die vouer getiteld “Jean Papillon”.

Klik op die antwoord op haar aanvanklike boodskap: Die noukeurig bewoorde navraag oor die beplande besoek aan die distrik van Roquefort-sur-Soulzon, geboorteplek van die roquefortlegende.

Die lang wag, die antwoord net voor sy die hele besigheid wou laat vaar . . . die verbasing oor die Afrikaanse antwoord met die string boodskappe in Frans onderaan.

Sy onthou die gunstige reaksie op haar plan om ’n top-roquefort vir die Suid-Afrikaanse mark te maak; die koorsagtige tempo waarteen sy haar vrae op Jean de Lange afgevuur het.

Vandag bevat Jean se e-pos inligting oor die roquefortlegende.

’n Skaapwagter het sy middagete van rogbrood en skaapmelkwrongel in ’n grot agtergelaat toe ’n pragtige meisie daar verbykom.

Betower deur haar skoonheid het hy haar dae lank agtervolg, maar kon haar nooit inhaal nie.

Toe hy lank daarna weer by die grot kom, was die brood en wrongel met sagte groen skimmel bedek. Van honger het hy ’n hap geneem.

Groot was sy vreugde toe hy proe die wrongel het in ’n geurige kaas verander. Dis hoe roquefort gebore is. Die grot was die volmaakte rypmaakplek, die rede waarom Papillon steeds grottoestande in hul rypmaaklokale herskep.

Wanneer Ester saans te moeg was om te dink, het sy die rekenaar aangeskakel, lank na die skerm gestaar, ’n lukrake e-gesprek met Jean hervat: “Jy vra hoe dit gaan? Dit voel vir my ek is net aanhoudend op soek na oplossings. Ek is op die punt om ’n nuwe bedryf te begin. Ons sal moet diversifiseer om te oorleef. Die inheemse kruie saam met die kaas behoort goed te vaar. My infrastruktuur is so te sê gereed. Verder is ek besig om kaas vir ’n groot bestelling te verpak. Windpomp te herstel.”

Later die boodskap met die Papillon-adres: “Bonjour Ester, jy verbaas my. Is jou kop of hande ooit stil? Kry jy soms kans om tot rus te kom? Om met al jou sintuie te lééf? Au revoir, Jean.”

Dié vraag het haar onkant betrap. Ester Schoeman het met ontwaakte sintuie geleef.

Sy was bewus van die helder sterre, die stil nagte waarin sy soms nog haar ma se stem kon hoor.

Soms het sy na verborge dinge verlang tussen die klipstapels waar sy grootgeword het. Sy het gaandeweg agtergekom van sekere dinge was niks te begrepe nie, maar sy het nie tyd gehad vir los gedagtes nie.

Sy moes die kaasstalletjie vir die dorpsfees regkry en tussenin teen haar pa se wil staande bly. Die aand ná die woordestryd met haar pa het Ester met die skootrekenaar in die bed geklim.

Bestellings deurgewerk. Nie by Jean se vraag uitgekom nie. Vir die soveelste keer met die slaap gestoei. Later opgegee en weer die rekenaar nadergetrek.

Sy het die een e-pos ná die ander getik en uitgevee. Eenkeer selfs een waarin sy haar hart teenoor Jean uitstort. Dis moeilik vir ’n vrou om in Afrika te boer.

Dikwels staan jou weerbaarheid in die pad. Jou fisieke krag, of die gebrek daaraan. Dis jy teen die elemente. Net jy. Sy spring terug na die laaste boodskap in die vouer, bevestig die besluit.

“Jy’s reg, Jean, dis tyd om plan te maak. Sal jou later bel met die vlugbesonderhede. Dankie vir die aanbod om my op die lughawe in Toulouse te ontmoet. Onthou die Ester-naambord.”

Daarna volg ’n brief aan haar pa: “Teen die tyd dat pa terug is, sal ek op pad wees. Die werkers het hul opdragte vir die tyd wat ek in Frankryk is. Ek het ’n afspraak met Sebastiaan in Toulouse. Ek gaan aan hom ’n aanbod maak om sy deel van ons erfgrond te koop. Die sakeplan is reeds by die bank. ’n Afskrif lê op pa se lessenaar. Ester.”

Op die lughawe in Toulouse talm sy in die aankomssaal. Tussen die malende menigte raak sy opnuut van haar enkelloperstatus bewus. In ’n helder oomblik besef sy sy het met haar eie vraag gekom.

’n Vraag wat haar wêreld weer op sy voete moet keer. Sy laat haar deur die mensestroom meevoer na waar hulle hul bagasie van die voerband gaan afhaal.

Stap dan vasbeslote na die uitgang. Die Ester-naambord word omhoog gehou deur ’n vrou in ’n wit katoenhemp, ligblou capri-broek en blou seilskoene.

Dit lyk of sy gaan seil. Ester vryf senuweeagtig deur haar donker hare, steek dan haar hand op die boeremanier uit. Toe die sagte hand in hare lê, die bevestigende antwoord in die grys oë blink, raak die lag los in haar.

“Goed om jou te ontmoet, Jean,” sê sy, voor sy die gewillige lyf verwonderd teen haar vastrek.