Sy mond is droog soos die Kalahari. Jonathan Fourie lê in kamer 126 van die Fairmount-hotel met sy oë wawyd oop, al is dit ná twaalf, omdat hy die volgende dag sy toetsbuiging vir die Proteas gaan maak teen die magtige Australië. Hy is opgewonde maar angsbevange. Wat as die oomblik te groot is vir hom en hy nie die merk kan haal nie? 

Nee, so gaan hy beslis nie aan die slaap raak nie. Hy besluit om buite op die balkon te gaan staan om vars lug te skep.

Haar ore pyn en verkalk haar gedagtes. Lucile van Rensburg lê in kamer 127 van die Fairmount-hotel met haar oë wawyd oop, al is dit ná twaalf, omdat sy weer ’n optrede gehad het wat die skare in vervoering gelos het.

Haar kragtige stem het die mense en vir haar alweer op ’n reis geneem. Dit was nog altyd haar droom om musiek te maak voor mense, maar is hierdie gejaag na euforie werklik die antwoord vir haar onrustige siel?

Nee, so gaan sy beslis nie aan die slaap raak nie. Sy besluit om op die balkon te gaan staan om vars lug te skep.

Jonathan sit en tuur uit oor die aandliggies toe hy ’n skuifdeur hoor oopgaan. Hy kyk deurmekaar vanwaar die geluid kom en sien dat dit die buurman se deur is. Hy sien ’n vrou, wat aan hom effens bekend lyk, wat uitloop en teen die reling leun en wonder: Sal geselskap sy stres verlig?

“Sukkel jy ook om skape te tel?” roep Jonathan oor na Lucile op die balkon. Die opskudding laat haar deurmekaar tot sy agterkom dat dit die buurman is wat met haar praat. Lucile probeer om hom te ignoreer en kyk weg, maar sy voel nog steeds sy oë op haar.

“Het ek jou al iewers gesien?” poog Jonathan.

Lucile sug mismoedig. Sy het nie nou die krag vir nog ’n aanhanger nie. Sy draai haar kop na hom toe en antwoord sarkasties. “Tien teen een.”

Jonathan is stomgeslaan. “Lucile van Rensburg! Wie sou nou kon raai dat die Proteas in dieselfde hotel kan slaap as ’n popster?”

“Proteas? Is jy ’n Protea?” vra Lucile verbaas.

“Wel nog nie, ek maak môre my debuut en kan nie slaap nie; dus kom staan ek maar op die balkon en probeer om my kop bymekaar te kry.”

“Wel jy gaan nie aan die slaap raak deur hier te staan nie.”

“Ek weet nie wat anders om te doen nie. My gedagtes hardloop met my weg, en ek is veronderstel om uit te sien na môre, maar om die waarheid te sê, is ek meer bang as opgewonde oor wat kan gebeur.”

Iets in Jonathan se gesig herinner Lucile aan die aand voor haar eerste optrede. ’n Glimlag begin om haar mond vorm terwyl sy die emosies van haar ervaring herroep.

“Ek onthou nog die aand voor my eerste optrede,” laat hoor sy met ’n laggie.

“Ek was so bang ek het my agent gebel en gevra of ons die vertoning kan kanselleer. Dit was uitmergelend, daardie paar ure voor ek moes opgaan, maar toe ek my mond oopmaak en begin sing, het die wêreld vergaan.”

Jonathan luister na haar storie en vergeet ’n oomblik dat hy die volgende dag moet krieket speel. “Dis seker nou maklik vir jou om dit te sê,” antwoord Jonathan.

“Jy gaan piekfyn wees môre, moenie daaroor bekommer nie. Jy kry ’n kans om te wys hoekom jy is waar jy is. Moet dit nie net gebruik nie, geniet dit ook.”

Haar woorde versag die angstigheid in hom.

“Dit bygesê, gaan slaap nou. Jy wil nie ’n vangkans verbrou omdat jy heelaand hier gestaan en nie geslaap het nie!” terg sy hom.

“Jy is seker reg. Jy weet, popsterre is nie so sleg soos wat almal sê nie,” antwoord Jonathan en begin wegloop.

“O nee, hulle is, glo my! Ek is nog net nie so bekend nie,” kap Lucile terug en sy voel iets wat sy lank gelede gevoel het. Gelukkig.

Jonathan se hart is nog steeds benoud toe hy die volgende dag sy oë oopmaak, maar hy paai homself deur Lucile se woorde te onthou en skraap moed bymekaar. Sy groot oomblik breek eindelik aan, en nes Lucile voorspel het, het sy senuwees hom verlaat die oomblik toe die bal met sy eerste aflewering deur sy vingers gegly het.

Ná sy eerste dag as ’n Protea-krieketspeler keer hy na kamer 126 toe terug. Selfingenome, al moet hy erken dat Lucile se woorde die vorige aand al was wat hom aan die gang gehou het. Dalk moet hy ’n kans vat en dankie sê vir haar raad? Hy loop weer uit na die balkon.

Afgemat klim Lucile uit die bed daardie oggend. Sy troos haarself deur dankbaar te wees dat haar maag ten minste nie draai soos Jonathan s’n nie. Dit was net nog ’n dag met nog ’n optrede waarvoor sy nie uitsien nie. Slaan die skare se asem weg van sesuur af tot haar stembande nie meer kan nie en dan terug hotel toe.

Ná haar skitterende vertoning keer sy na kamer 127 toe terug. Terneergedruk sit sy weer op haar bed met haar gedagtes ordeloos. Sal Jonathan weer op die balkon wees vanaand? Sy loop na buite en sien dat Jonathan weer dieselfde idee as sy gehad het en haar voorgespring het.

“Ek kry die gevoel jy volg my,” roep sy na Jonathan wat ingedagte is. Hy skrik, maar is bly om weer die bekende stem te hoor. Hy draai na haar toe en antwoord: “Ek moet vir jou dankie sê. Jy was reg. Toe ek net begin speel het, het ek soveel beter gevoel en my vrese het weggesmelt.”

“Dan is ek bly,” antwoord sy hom en staar na die stadsliggies. Daar is stilte.

“Jy kan seker nooit moeg raak vir jou werk nie?” probeer Jonathan om ’n geselsie aan te knoop.

“Glo my, ek is,” antwoord sy.

“Is die lewe van ’n popster dan te veel vir jou? Elke aand duisende mense wat jou naam skree? Elke aand vyfsterhotelle?” vra hy haar sarkasties. Daar is stilte. Jonathan kan sien hy het ’n aar raakgeboor en berou onmiddellik sy woorde.

“Jy sal nie verstaan nie.” Sy loop.

“Wag! Kom ek help jou soos wat jy gisteraand tot my redding gekom het. Ons praat niks krieket en niks musiek nie. Dit sal jou goed doen as jy jou kop van die werk af kan kry,” wend Jonathan nog ’n poging aan omdat hy spyt is oor sy opmerking.

Lucile kan nie onthou wanneer laas sy met iemand gepraat het oor iets anders as musiek nie. Sy is bang sy verneder haarself, maar Jonathan laat haar gemaklik voel. Daar is geen reëls op die balkon nie. Niemand wat haar oordeel nie.

“Dit sal my seker goed doen as ek ’n bietjie ontspan,” sê sy met ’n glimlag en trek ’n stoel nader. 

Jonathan glimlag verleë en doen dieselfde. Die aand raak lank namate hulle gesels. Hulle lag en albei se probleme sak weg namate hul gesprekke dieper vorder.

Skuins ná eenuur besluit Jonathan dat dit wel tyd is om in te kruip en groet vir Lucile. Hy wil nie gaan nie, want hy weet nie of hy haar weer gaan sien nie. Sy wil ook nie hê hy moet gaan nie, want sy het lanklaas met iemand gepraat wat haar so lig laat voel. Tog verlaat hulle mekaar.

Die volgende oggend is Lucile al vroeg op vir ’n onderhoud waarvoor sy nie uitsien nie, maar haar hart is lig. Sy weet dat toetskrieket vyf dae duur en is dus nie bekommerd oor of sy vir Jonathan weer gaan sien nie. Sy is ywerig om die dag verby te kry net sodat sy hom weer op die balkon kan betrap waar sy gemaklik voel.

Jonathan is bekommerd die volgende oggend. Hy weet nie of hy vir Lucile weer gaan sien nie, want hulle het ’n goeie kans om vir Australië uit te boul daardie dag en die toets te wen. Daarna sal hulle dadelik na hul volgende bestemming vertrek. Hy hoop net dat die Australiërs goeie opponente sal wees en hom nog ’n kans gun.

Die dag loop aan en Lucile het nie ’n vertoning daardie aand nie en bevind haarself vroeg in kamer 127. Sy besluit om die televisie aan te skakel. Daar word op die nuus berig die Proteas het die Australiërs vroeg oorwin.

Sy raak benoud. Beteken dit dan nou Jonathan is reeds weg? Sy hardloop vinnig na buite om te kyk of hulle dalk nie nog hier by die hotel is nie. Sy sien ’n skoonmaker op Jonathan se balkon.

“Is die Proteas al weg?” roep haar stem vol desperaatheid.

“Ja, vanmiddag al,” antwoord die skoonmaker en haar wêreld sak weer inmekaar en sy besef weer dat sy heeltemal alleen is.

Dan hoor sy ’n klop aan haar deur. Ontsteld slinger sy die deur oop. Tot haar verwondering is dit Jonathan wat voor haar staan! Die vonkel in haar oë verklap die geheim wat Jonathan reeds weet.

“Ek het gedog toetskrieket vat vyf dae?” vra sy hom.

“Nie as jy so goed is soos ek nie, maar ek is op pad Kaap toe vir die volgende toets. Sal ek jou weer sien?” vra Jonathan vol hoop.

“Wel my volgende vertoning is op Kirstenbosch, so sê jy vir my . . .”

  • Wil jy jou kortverhaal vir Huisgenoot stuur? Klik hier vir meer inligting.