Ál meer wonder Aletta oor die lewe. Hoe is dit dat iets soets suur raak? Dat iets saligs sleg raak? 

Sy tob vir die hoeveelste keer daaroor terwyl sy Casanova’s Antiques, waar sy werk, oopsluit. 

Soos die naam aandui, is die eienaar ’n hartebreker. ’n Man wie se naam nou wel nie Casanova is nie, maar Gawie. Maar selfs die naam doen nie afbreuk aan sy voorkoms nie. 

Die man is mooi op ’n Italiaanse manier. Sy glimlag laat ’n mens dink aan ’n sonsopkoms in Rome tydens ’n romantiese vakansie. 

Dis daardie glimlag wat haar in hierdie penarie het, dink Aletta terwyl sy die winkel instap. Sy’t in ’n strik getrap toe sy hom ontmoet en hoor hy soek ’n bestuurder vir die winkel. 

Soos die naam aandui, is die eienaar ’n hartebreker. ’n Man wie se naam nou wel nie Casanova is nie, maar Gawie. Maar selfs die naam doen nie afbreuk aan sy voorkoms nie.

En hier is sy nou. Onderbetaal en onsigbaar. ’n Oor. ’n Luister-oor. Sy is natuurlik ook ’n paar hande wat weet hoe om raak te vat. 

Sy gaan haar hande juis vandag moet inspan en vir ’n vale werk. Alles in die winkel moet afgestof en rondgeskuif word. 

Dis die geheim van ’n antiekwarewinkel soos dié. Die meubels moet versorg word asof hulle in ’n hospitaal se hoësorgeenheid is. 

Die geluid van ’n motordeur wat toegeklap word, onderbreek haar gedagtes. 

Dis Gawie, weet Aletta sonder dat sy hoef te kyk. “Vat aan. Versigtig,” sê hy ’n oomblik later. Hy druk ’n toegedraaide bondel in haar arms. 

Hy frons terwyl hy oor haar skouer kyk. “Hoekom staan die tafel so?” Hy wys beskuldigend na ’n wastafel. “Help gou. Ek wil dit skuif. ’n Bietjie regs. Régs,” beklemtoon hy. 

“Luister vir my. Ek sê mos regs!” Aletta voel hoe sy klein word en verdwyn, want die wastafel is belangriker as sy. 

Net een deel van haar bly oor toe die wastafel eindelik regstaan. Haar luister-oor. Dis wat sy die oor noem waarin Gawie bevele en verslae oor sy liefdeslewe stort. 

Die bevele beskou sy as deel van haar werk. Hoekom sy na verslae oor sy katelkaskenades en bedbonanzas moet luister, weet sy egter nie. En sy liefdeslewe is in die hoogste rat. 

Soms voel dit vir Aletta asof sy haar luister-oor kan voel groei. Dit voel asof die oor al byna twee meter lank kan wees. 

“Hoe het ek in dié situasie beland?” wonder sy terwyl sy die porselein begin afstof.

En dis nou in sokkies en nie in hoë hakke nie. Dis asof die oor groeihormone ingekry het. Dit gaan in die sirkus eindig as dit so aangaan. 

“Hoe het ek in dié situasie beland?” wonder sy terwyl sy die porselein begin afstof. 

Sy ken die antwoord. Sy’t vir Gawie se skoonheid en bont syhemde geval. Nou sit sy met die resultaat. 

Sy is sy luister-oor. Die een wat moet luister na al sy romantiese doen en late. 

“Hy’t genoeg vroue op sy kerfstok om ’n klein volkstaat te bevolk,” dink Aletta. 

“Dis onnatuurlik. G’n wonder my arme oor groei en gloei nie. Dis van luister na die nonsens.” 

Sy hou Gawie onderlangs dop. Hy skuif steeds meubels rond. Skoonheid en glamour is vir hom alles. 

Dis hoekom hy hom nie verwerdig om langer as ’n millisekonde na haar te kyk nie. 

Aletta se spieëlbeeld beaam sy oordeel. Sy’s nie ’n skoonheid nie. Sy’s die soort vir wie mense sê: “Jy lyk na iemand in wie se ore ’n mens al jou sorge kan stort en weet dis veilig.”

“Ha,” dink Aletta gefrustreerd. “ ’n Pel en tjom en luister-oor. En kyk waar kry dit my.” 

Dis die soort wat hy aan haar oorlaat. Sy luister outomaties na wat die man sê.

’n Rooikop in ’n vloeiende gewaad seil die winkel binne. 

“Hallo, my dahling,” roep Gawie. Hy soengroet die vrou op albei wange.

“Daar het jy dit,” sê Aletta vir haarself. “Dis hoe ’n mens moet lyk om deur Gawie raakgesien te word. Asof jy blink gepoets is en pas terugkom van ’n skildervakansie op die Franse platteland. Daar moet nog net ’n verfkwas uit die rooikop se handsak uitsteek, dan sal die prentjie afgerond wees. Intussen is ek onsigbaar.” 

Dan voeg sy by: “Korreksie, iemand het my nodig.” Sy stap na waar ’n man in die winkeldeur staan. Hy lyk verdwaal. Dis die soort kliënt wat Gawie beskryf as “ ’n S.V., Aletta! ’n Saai Vent. Jig!” 

Dis die soort wat hy aan haar oorlaat. Sy luister outomaties na wat die man sê. 

“Jy kan jou ou porselein inbring. Gawie sal daarna kyk en besluit of hy belangstel om te koop, maar hy’s baie besig vandag.” “Besig, nè?” sêvra die man. 

Hy kyk na waar Gawie diep in gesprek is met die rooikop. “Ek sien. Ek sal dit môre bring.” 

Hy’s eensklaps haastig en groet voor Aletta kan vra dat hy eerder volgende week kom, want Saterdae is te besig. 

Haar dag verbeter eers toe Gawie aankondig dat hy moet uitgaan. “Ek moet ’n garage gaan skoonmaak op die golf estate,” sê hy. 

Toe Gawie laatmiddag terugkom, glimlag hy op ’n manier wat Aletta ken. 

Gawie bevestig haar vermoede. “Ek dink ek is besig om verlief te raak,” sê hy.

“Dis weer sulke tyd,” sê sy vir haarself. “Hou, oor, hou. Hier kom ’n storie. Aan die einde sal jy seker so groot wees soos die SAUK-gebou in Seepunt en so rooi soos ’n tamatie. Jy sal lyk na ’n brandgevaar, en die brandweer sal jou in die diepsee moet dompel.”

Gawie bevestig haar vermoede. “Ek dink ek is besig om verlief te raak,” sê hy. 

“Die vrou wie se garage ek gaan skoonmaak het, is toe beeldskoon.” Dit klink asof hy sy lippe aflek. “En sy het die oulikste boudjies. Hulle lyk soos appels in haar jeans.” 

“Oe, jitte,” sê Aletta. Daardie aand rol sy in haar bed rond tot sy eindelik besgee en die bedlig aansit. 

Sy trek ’n boek nader. Sy gaan vannag nie rus kry nie, besef sy. 

Sodra sy insluimer, sien sy ’n prentjie van ’n paar boudjies in jeans. Die boudjies is so ferm soos twee appels. 

Gawie is reeds in die winkel toe sy instap. Hy lyk beneuk waar hy agter die antieke kasregister sit. 

“Môre!” groet Aletta. “Ek sien die Jacobskoffie is op,” kla Gawie. “Jy moes my gesê het.”

Dis ’n gebruik by Casanova’s Antiques om klante koffie aan te bied. “Ek sal gou gaan koop,” sê Aletta. 

Maar Gawie lyk steeds gegrief. Dit moet die nuwe vrou wees. Hy’t seker die pap te dik aangemaak, vermoed Aletta. 

Sodra sy insluimer, sien sy ’n prentjie van ’n paar boudjies in jeans. Die boudjies is so ferm soos twee appels.

Sy kan voorspel wat volgende gaan gebeur. Daar sal misverstande en jaloesie wees. Beledigings en opmaak. 

En sy wat Aletta is, sal moet luister na verduidelikings oor wat verkeerd gaan. En waarom daar opgemaak word ondanks alles. 

Die verduidelikings sal seker die appelboudjies behels wat so goed in jeans lyk, weet sy by voorbaat. As sy nou vir hom ’n opening gee, gaan hy begin uitpak.

“Jy sal ’n sot wees,” waarsku Aletta haarself. “Moet hom nie ’n gap gee nie. Die ding met die luister-oor is jou eie skuld. Moenie jou ore uitleen vir sy stories nie. ’n Mens se ore is al wat ’n mens het.” 

“Ek moet iets doen omtrent my situasie,” dink Aletta terwyl sy uit Casanova’s Antiques drafstap. 

Wat die oplossing is, weet sy nie. Die ekonomie druk. Daar is min werk. Wat op aarde kan sy doen? 

Op ’n middelmannetjie in die middel van die pad gaan staan met ’n kartonkennisgewing wat uitbasuin: “Vrou met oorprobleem sal geldelike hulp waardeer”? 

Nee. Tog net nie dit nie. Sy is so ingedagte dat sy byna voor ’n 4x4 instap wat voor die winkel stilhou. 

Die voertuig se deur gaan oop. Dis die man van gister. “Ek het die porselein gebring,” sê die man terwyl hy uitklim. 

Hy klink vrolik, asof hy oor iets bly is. Die koffie gaan eers moet wag, besluit Aletta.

Sy voel ’n lamheid oor haar neersak. Dit sak oor haar soos ’n sagte kombers. Dit vang haar onkant.

Dalk is hier iets wonderliks tussen die porselein. Iets waarvan die man nie die waarde besef nie. 

“Dis net die een groot boks,” verduidelik hy toe sy nader staan. “Maar dit weeg ’n ton. My ma was ’n versamelvoël. Sy’t haar nes uitgevoer, kan ’n mens maar sê. En my ouma ook. En nou sit ek met die gebakte pere.” 

“Gebakte pere,” herhaal Aletta suf. Sy hoop nie die man kan aanvoel sy het ’n luister-oor nie. Sy hoop nie hy wil ook uitpak nie. 

“En ek hou eintlik van minimalisties,” sê hy. Sy kyk verras na hom. Die meeste mense wat by Casanova’s Antiques kom koop, is versamelaars wat glo “meer is beter”.

Sy oë is ligblou en helder, merk Aletta op. Helder soos water en ’n lenteoggend. 

Een van daardie oggende waarop ’n mens nie weet of jy een trui of meer gaan nodig hê nie, want die lug is blou, maar dit kan nog byt. 

Die kleur van sy oë pas by sy hare, wat ’n mengsel is van staalgrys en witgrys. 

“Lentegrys,” dink Aletta. Dan wonder sy wat met haar aangaan. “Laat ek help,” sê sy vinnig.” 

“Moenie simpel wees nie,” sê die man, wat Gawie ’n S.V. sou noem, al lyk hy soos ’n lenteoggend. 

Hy trek die boks uit haar hande, en met die nader kom ruik sy hom. 

Sy’s nog altyd ’n pel, ’n tjom, ’n luister-oor. Iemand in wie se ore ’n mens alles kan stort wat jou pla en jy weet dis veilig daar.

Hy ruik soos seep en louwarm water en leer. “Dis nou iets,” dink Aletta. Dan dink sy weer ’n keer: “Dis nou iets.” 

Sy voel ’n lamheid oor haar neersak. Dit sak oor haar soos ’n sagte kombers. Dit vang haar onkant. 

Sy’s nog altyd ’n pel, ’n tjom, ’n luister-oor. Iemand in wie se ore ’n mens alles kan stort wat jou pla en jy weet dis veilig daar. 

Kan dit verander? “Ek laat nie ’n mooi vrou so ’n boks dra nie,” sê die man. 

Op daardie oomblik weet Aletta Gawie was verkeerd. Dié man is nie ’n S.V. nie. Hy’s net reg.